News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is verlig oor die nuutste Covid-19 regulasies waarvolgens wynkelders mag voortgaan om wyn gedurende gelisensieerde handelsure regdeur die week te verkoop.

LEES OOK:
Gepubliseerde regulasies in terme van wynverkope verskil van aankondiging (16 Des 2020)
Nuwe regulasies laat wynverkope en -proeë 7 dae per week toe (18 Des 2020)

“Ons is dankbaar vir die onveranderde handelsure vir die verkoop van alkohol vir binneverbruik, asook die spesiale toegewing aan geregistreerde kelders en wynplase om voort te gaan met die aanbied van wynproeë en wynverkope aan die publiek vir tuisverbruik oor naweke,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Dit in ʼn tyd waarin die wynbedryf steeds onder ernstige finansiële druk gebuk gaan en stadig maar seker besig is om te herstel van die nadelige gevolge van die verbod op uitvoere en handelsbeperkings vroeër vanjaar.

“Ons glo dat die implementering van ʼn meer gefokusde benadering en nougesette ingrypings in sekere brandpuntgebiede die mees doeltreffende manier sal wees om die verspreiding van Covid-19 te keer, terwyl dit ook verseker dat landsburgers ʼn lewensbestaan kan maak en die ekonomie aan die gang kan bly,” sê Basson.

Volgens hom is hierdie uitkomstes belyn met deurlopende konsultasie tussen Vinpro en die onderskeie nasionale regeringsdepartemente en die Wes-Kaapse regering, asook ʼn voorlegging wat Vinpro aan die Minister van Gesondheid, dr Zweli Mkhize, gedoen het gedurende ʼn beraadslagingsessie in George op 13 November, waarin die bedryf se noodsaaklike ekonomiese bydrae en die belangrike rol van toerisme in die groter wynbedryf- en landbouprentjie benadruk is.

“Ons deel die President se kommer oor die nuwe vlaag van infeksies en onderneem om ons deel te doen om Covid-19 te beveg,” sê Basson. Vinpro doen ʼn ernstige beroep op individue en besighede in die bedryf om meer as ooit vantevore by die voorkomingsmaatreëls te hou.

“Dit is óns verantwoordelikheid om ons mense veilig en gesond te hou én die ekonomie van momentum te voorsien, terwyl ons die bestaande veiligheidsprotokolle steeds nougeset toepas. Kom ons bevorder veilige en verantwoordelike produksie, handel, bemarking en verbruik saam,” sê hy.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae: Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back