Die nuutste gewysigde regulasies wat op 17 Desember 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is, maak die verkoop van wyn en die aanbied van wynproeë gedurende normale gelisensieerde ure moontlik, wat by implikasie alle weeksdae en naweke insluit, in ooreenstemming met die betrokke plaaslike munisipale verordeninge.
Dit volg nadat teenstrydighede tussen President Ramaphosa se staatsrede op 14 Desember 2020 en die gepubliseerde regulasies op 15 Desember 2020 opgemerk is met betrekking tot die verkoop van wyn by wynkelders oor naweke vir tuisverbruik, wat Vinpro onderneem het om met nasionale regering op te volg.
LEES:
Gepubliseerde regulasies in terme van wynverkope verskil van aankondiging
Wynbedryf verlig oor nuutste regulasies
ʼn Verdere gevolg van die gepubliseerde regulasies, was dat wynkelders met ʼn mikrovervaardigerslisensie vir binne- en tuisverbruik, wat die meerderheid van ons wynkelders insluit, nie toegelaat is om wynproeë op Sondae aan te bied nie.
Die gewysigde regulasies soos op 17 Desember 2020 gepubliseer, stipuleer egter soos volg:
Amendment of regulation 77 of the Regulations
- Regulation 77 of the Regulations is hereby amended by the substitution for subregulation (4) of the following subregulation:
“(4) Registered wineries and wine farms may continue to operate in offering wine tastings and the selling of wine to the public for offsite consumption, subject to strict adherence to the curfew provided for in regulation 66(2) and strict adherence to social distancing measures and health protocols.”
Volgens die Staatskoerant wat op 15 Desember 2020 gepubliseer is, mag ander drankwinkels steeds slegs van Maandag tot Donderdag 10:00 tot 18:00, drank verkoop.
Indien daar verdere verwikkelinge is in terme van die wetgewing wat ʼn uitwerking op ons bedryf kan hê, sal Vinpro dit tydig aan ons lede meedeel. Lees ook gerus die nuutste regsinterpretasie deur Danie Cronjé Prokureurs.
“Die nuutste verwikkelinge getuig van die waarde van Vinpro se deurlopende voorspraak by die regering op nasionale en provinsiale vlak,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.
“Ons is verlig dat ons die teenstrydigheid met betrekking tot wynproeë en -verkope so vinnig kon uitklaar met die hulp van verskeie belanghebbers soos premier Alan Winde, dr Ivan Meyer en hul onderskeie spanne by die Wes-Kaapse regering en Wes-Kaapse Departement van Landbou, sowel as die Nasionale Departement van Toerisme. Ons is werklik dankbaar vir hul geweldige ondersteuning oor die afgelope jaar en agting van die Suid-Afrikaanse wynbedryf as ʼn belangrike bydraer tot die ekonomie en werkskepping,” sê Basson.
“Die Toerismesakesraad van Suid-Afrika (TBCSA) het boonop suksesvol beywer dat akkommodasie-instansies teen volle kapasiteit kan funksioneer, wat uitstekende nuus is vir ons wynkelders wat gastehuise en hotelle bedryf,” sê Vinpro-wyntoerismebestuurder Marisah Nieuwoudt.
Alhoewel ons verlig is deur die toegewing aan wynkelders wat handelstye betref, moet ons ook die groot verantwoordelikheid opneem wat hiermee saamgaan. Kom ons verseker dat ons ondernemings oop bly deur die onderskeie gesondheids- en veiligheidsprotokolle van die wynbedryf streng toe te pas en voort te gaan om veilige en verantwoordelike produksie, handel, bemarking en verbruik te bevorder.
NAVRAE:
Vinpro
tel: +27 (0)21 276 0429
e-pos: info@vinpro.co.za
web: www.vinpro.co.za
Vinpro, Ceciliastraat, Suider Paarl, 7646