News

Henning Retief van Kleine Zalze wat as die wenner van VinPro en Winetech se wingerdblokkompetisie in die Stellenbosch-streek aangewys is.

Henning Retief van Kleine Zalze wat as die wenner van VinPro en Winetech se wingerdblokkompetisie in die Stellenbosch-streek aangewys is.

Die langtermynpraktyke wat Kleine Zalze in ʼn blok Chardonnay-wingerd toegepas het, het dié plaas met die louere laat wegstap as die Stellenbosch-streek se beste wingerdblok.

VinPro en Winetech se jaarlikse wingerdblokevaluering het vanjaar in hierdie streek op Chardonnay ouer as vyf jaar gefokus. Volgens Conrad Schutte, VinPro se wingerdboukundige konsultant in die Stellenbosch-streek, is Chardonnay besig om relatief skaars te word in die Stellenbosch-omgewing. “Ons wou leer waar van die goeie blokke Chardonnay staan en weer bewustheid van dié kultivar in die area skep. Indien dit reg geproduseer word, kan uitstekende kwaliteit wyndruiwe behaal word.”

Die wenblok, wat in die sorg van Henning Retief by Kleine Zalze is, is in 2008 geplant. Die CY96-kloon op onderstok R110 is op ʼn sewedraad verlenge Peroldstelsel met skuifbare loofdrade opgelei.

Craig Barnard van Cavalli was die naaswenner en Wilhelm Joubert van Hartenberg in die derde plek.

“Die langtermynpraktyke van die wenblok was ʼn definitiewe sterkpunt!” sê Conrad. Die grondvoorbereiding van die blok is goed gedoen en dit het tot baie goeie wortelverspreiding aanleiding gegee. “Die keuse van onderstok bring goeie maar steeds gebalanseerde groeikrag in Chardonnay mee, terwyl die plantspasiëring van 1.5 m goed met die grond se potensiaal saamwerk,” verduidelik hy.

Die VinPro/Winetech wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om beste wyndruifverbouingspraktyke te identifiseer, vier, en met die bedryf te deel. ʼn Boeredag is 18 Januarie aangebied waartydens die praktyke van die wenblok gedemonstreer en ander tegniese inligting oorgedra is.

“Uit die inskrywings was dit duidelik dat Stellenbosch-produsente weet hoe om lower goed te bestuur deur die regte praktyke op die regte tyd toe te pas. Die top vyf blokke was almal kop aan kop, wat ʼn bewys van die hoë standaard in die streek is,” het Conrad by die boeredag gesê.

Daar is ook benadruk dat die bedryf ʼn “zero toleransie” aanslag moet neem teenoor rolbladvirus. “Suid-Afrika beskik oor die beste beheerprotokol; produsente word aangemoedig om dit in te span in die daaglikse bestuur van hul wingerd,” sê Conrad.

 

Go Back