News

Vinpro se jaarlikse wingerdopleiding is welbekend in die wynbedryf en kan jou
wingerdspan se vaardighede help slyp.
Daar is verskeie opleidingsopsies, van ’n e-leerplatform vir wingerdwerkers om hul vaardighede aanlyn te slyp tot praktiese wingerdsnoei-opleiding op die plaas.
Die praktiese opleiding is gebaseer op ’n opleidingspakket wat op wingerdpraktyke fokus.
Inleidende tegniese wingerdboukursus
Die inleidende tegniese wingerdboukursus geskied op ’n e-leerplatform en die kursus word as ’n eenjaarlisensie aan produsente, wynmaatskappye en leerinstansies beskikbaar gestel. Die fokus van die program is om wingerdbestuurders of spanleiers op te lei as fasiliteerders sodat hulle die e-leerplatform kan gebruik om hul wingerdspan verder op te lei binne die 10 verskillende modules.
Die 10 modules fokus op snoei, stokontwikkeling, wingerdvestiging, die uitken van siektes en plae, besproeiing, bemesting, die oes van druiwe, grondbestuur, grondkunde en loofbestuur. Elke module het video’s, inligtingstukke en vraelyste wat voltooi moet word. Soos wat elke module voltooi word, word dit met ’n sertifikaat erken. Die kandidate het ’n jaar om al die modules te voltooi. Die modules is beskikbaar in Afrikaans en Engels. Die opsie kos R5 000 per persoon vir al 10 modules vir die jaar.
Die ander opsie van die inleidende tegniese wingerdboukursus is dat die kandidaat wat die 10 modules suksesvol voltooi het, die status van opleier verkry en dan die ander plaaswerkers deur die aanlyn kursus begelei. Hierdie koste beloop dan R10 000 per plaas vir ’n jaar se toegang (ongeag die getal werkers).

Tydens die opleidingsessie sal ’n kundige van Vinpro die nodige inligting verskaf oor hoe die platform werk, en hoe spanleiers en spanne die opleiding saam op die mees doeltreffende manier kan benut. Spanleiers kan hul spanlede op die platform registreer, waarna elkeen van hulle toegang sal kry tot die nuwe e-leerplatform deur hul selfoon of rekenaar. Hierna kan wingerdspanne hul opwindende nuwe opleidingsreis aanpak. Spanleiers tree dus op as fasiliteerders wat hul eie wingerdwerkers se leer onder leiding van die Vinpro-opleidingspan fasiliteer.
Na afloop van hul opleiding sal die spanleier by SA Wine geregistreer word, met spesiale status en erkenning.

Go Back