News

Namate sekere chemiese middels soos mancozeb en glifosaat internasionaal uitgefaseer word, oorweeg Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente alternatiewe maniere om swamme en onkruid in die wingerd te beheer. Kundiges het onlangs ʼn paar van hierdie nuwe opsies tydens ʼn Winetech Wingerdforumvergadering bespreek.

Mancozeb eersdaags verban

Hoewel mancozeb steeds as ʼn aktiewe middel in swamdoders in Suid-Afrika gebruik kan word, word dit reeds vanaf 4 Januarie 2021 in die wynproduserende lande van die Europese Unie (EU) verban, en word wyne reeds vanaf die 2021-oes vir maksimum residuvlakke (MRL’e) getoets.

“Aangesien die EU ʼn groot uitvoermark vir Suid-Afrikaanse wyne is, is dit belangrik vir wyndruifprodusente om te let daarop dat die wyne waarvoor hul druiwe bestem is nie hierdie middel bevat nie,” sê Petrie de Kock van BASF. “Die reëls kan moontlik ook vorentoe na ander uitvoermarkte uitbrei.”

Lees ook ʼn vorige berig oor die uitfasering van mancozeb.

“Vanuit ʼn risiko-oogpunt en met behoud van die baie belangrike EU-uitvoermark, is dit ons aanbeveling dat enige wyne vanaf die 2021-oes, asook wyne en/of vonkelwyne wat dalk later eers op die mark mag verskyn, nie enige vlakke van mancozeb moet toon nie,” sê Conrad Schutte van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens. “Indien ʼn produsent egter ʼn berekende risiko wou neem, moet dit in noue samewerking met, en op aanbeveling van ʼn spesialis op die gebied van gewasbeskerming en chemiese middels geskied.”

Volgens Petrie kan koperbevattende formulasies soos hidroksiede, oksichloriede of sulfate in produkte in die plek van mancozeb as ʼn aktiewe middel in kontaktoediening op wingerde gebruik word. Verder is formulasies van folpet, ditianoon, askorbiensuur of Trichoderma asperellum as kontakmiddels ook beskikbaar.  Sistemiese middels sonder Mancozeb in die formulasie is toelaatbaar en sluit onder andere ammoniumfosfiet, fosetyl-Al, kaliumfosfiet, cymoxanil, dimethomorph en zoxamide in.

Volgens Suid-Afrika se Geïntegreerde Produksie van Wynskema (IPW) kan swamdoders vir die beheer van donsskimmel vanaf 10 cm lootlengte toegedien word, met inagneming van onthoudingsperiodes.

“Dis belangrik om kontakdoders regdeur die wingerd se groeifases toe tedien,” sê Petrie. “Daar word ook voorgestel dat sistemiese middels voor en tydens blom gebruik word, veral wanneer gunstige weerstoestande vir die ontwikkeling van donsskimmel (matige temperature en vogtige weer) voorspel word.”

Dis ook belangrik vir produsente om anti-weerstandstrategieë toe te pas om die opbou van weerstand teen sistemiese swamdoders te beperk. “Hou by beperkings in die aantal toedienings per seisoen en wissel die sistemiese middels van verskillende chemiese groepe af,” sê Petrie. Hy stel voor dat wyndruifprodusente in die periode voor blom kontakmiddels in 5 tot 7 dae intervalle toedien, of sistemiese middels in 10 tot 14 dae intervalle. Na blom kan kontakmiddels voorkomend, voor ʼn infeksieperiode, aangewend word en sistemiese middels moet binne 5 dae na ʼn infeksieperiode toegedien word, om genesing te weeg te bring.

Plaasvervangers vir glifosaat

“Ons het al hoe minder hulpmiddels beskikbaar om onkruid te beheer,” sê Hannes Schoeman van Bancella. “Weens beperkings en die verbod op middels soos glifosaat – die aktiewe bestanddeel in die alombekende Roundup-onkruiddoder – in sekere lande is daar ook nou ʼn wêreldwye tekort, wat die prys daarvan opstoot.”

Volgens Baum Hedlund Law het verskeie lande regoor die wêreld reeds stappe geneem om die gebruik van glifosaat te beperk of verbied weens die moontlikheid dat dit tot kanker en ander gesondheidsprobleme kan lei.

Hoewel dit nie onwettig is om dié middel in Suid-Afrika te gebruik nie, word die gebruik daarvan wel tot ʼn sekere mate in uitvoerlande soos Kanada, Denemarke, Swede en die VK beperk – ʼn tendens wat moontlik vorentoe na die wynbedryf kan deursyfer.

Chemiese middels wat wel steeds toelaatbaar is, sluit die FOP en DIM- grasdodergroepe, sintetiese ouksiene en triasiene soos MCPA of terbutielasien, of middels soos Kerb, Goal, Aurora en Sumimax vir gebruik voor en na opkoms in. Hierteenoor kan wyndruifprodusente natuurlike middels soos asyngebaseerde bio-onkruiddoders of mengsels van essensiële olies, plantekstrakte en natuurlike oppervlakaktiewe middels oorweeg. Tegnologie soos hommeltuie en onkruidwaarnemingsapparate (“green seeker” tegnologie) kan ingespan word vir presisie-toediening om die chemiese voetspoor te verminder en kostes te bespaar.

“Hoewel dit ʼn alternatief tot konvensionele onkruidbeheer bied, is dit belangrik om daarop te let dat hierdie middels soms minder effektief, minder gerieflik en duurder kan wees,” sê Hannes.

Kontakonkruiddoders sal minder effektief wees op groter en meer geharde of meerjarige onkruid en veelvuldige toedienings vereis. Selektiewe na-opkoms grasdoders is gerieflik, maar duurder en sintetiese ouksiene is doeltreffend op meerjarige breëblaaronkruid, maar het ʼn negatiewe effek op wortelopname.

Beheer onkruid meganies

“Wyndruifprodusente kan onkruid deur ander metodes, asook op ʼn verskeidenheid meganiese maniere beheer,” sê Francois Viljoen van Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek. Ander beheermetodes sluit die gebruik van dekgewasse in die werksry en ʼn deklaag (mulching) van strooi of houtsaagsels op die bankie in.

Vir meganiese beheer in die werksry kan onkruid plat gerol word, plat gesny word deur bossieslaners of stokkiekappers, of deur grondbewerkingsaksies (roteeregte en skottel- of ghropploeë) ingewerk word. Op die bankie kan die onkruid ook in die ondergrond ingewerk word met ʼn snylem, roteereg en ghrop- of skottelploeg, of indien ʼn produsent verkies om nie die grond te versteur nie, kan die onkruid slegs deur sny- of slaanaksies beheer word.

Ander alternatiewe sluit die gebruik van nuwe tegnologie in wat deur die wingerd beweeg en onkruid met stoom, gasvlamme of skuim verwyder. Bio-afbreekbare plastiek kan ook op wingerdrye aangebring word om onkruid te beperk en sommige wyndruifprodusente keer terug na tradisionele metodes soos perdaangedrewe ploeë en beheerde diereweiding.

“Meganiese onkruidbeheer is ʼn meer omgewingsvriendelike en volhoubare benadering aangesien geen chemikalieë gebruik word nie. Die grondbewerking lei ook tot beter wateropname en deurlugting,” sê Francois.

Grondbewerking kan egter ook ʼn nadelige effek op die grondstruktuur, mikrobiese aktiwiteit en vernietiging van fyn wortels in die bogrond hê, en sekere aksies kan die wingerde se stamme beskadig, of kan nie in jonger wingerde toegepas word nie. Aangesien dit arbeidsintensief is, kan meganiese beheer duurder wees, en as gevolg van die trekkers wat gebruik word, kan tot hoër koolstofvrystellings lei. Die vastrap of verdigting van gronde met herhaalde aksies en beweging in die wingerd kan ook problematies raak.

Oorweeg alles, behou die goeie

“Nie alle onkruid- en swambeheeraksies kan doeltreffend op enige terrein, wingerd of besigheidsmodel toegepas word nie. Doen jou huiswerk behoorlik oor die opsies wat beskikbaar is en pas slegs daardie toe wat die beste vir jou wingerd en kostemodel sal werk,” sê Conrad.

Hy raai produsente aan om nou met hul wingerdboukundiges en die verskaffers van die betrokke chemiese of meganiese middels en toerusting te werk. Die Winetech Wingerdforum is ʼn groep van sowat 90 wingerdboukundiges, navorsers en akademici in die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat gereeld vergader met die doel om die beste wingerdtegniese kennis en praktyke uit te ruil.

Vir meer inligting kontak:

Conrad Schutte
Konsultasiediensbestuurder, Vinpro
Tel: 021 276 0422
E-pos: conrad@vinpro.co.za

Hannes Schoeman
Konsultant, Bancella
Tel: 082 388 0316
E-pos: hannes.schoeman@bancella.com

Petrie de Kock
Streeksverkopebestuurder: Wes- en Noordkaap, BASF
Tel: 079 513 8371
E-pos: petrie.de-kock@basf.com

Francois Viljoen
Bestuurder, Gen-Z Wingerdprojek
Tel: 083 309 7627
E-pos: francois@vinpro.co.za

 

Go Back