Wyndruifprodusente en wingerdboukundiges kan eersdaags weer aanlyn inskakel vir ʼn reeks wingerdtegniese webinare.
Vyf Winetech Vinpro streekswebinare word tussen 3 September en 8 Oktober 2020 aanlyn aangebied, elkeen met ʼn spesifieke fokus op kwessies relevant tot die onderskeie wyndruifverbouingstreke.
Tydens die Olifantsrivier-webinaar op 3 September word gekyk na onderhoudsbemesting in wingerde deur die gebruik van grond- en blaarmonsters, asook die bestuur van witroes en donsskimmel gedurende die seisoen en vrae rondom die gebruik van Mancozeb. Vind uit watter alternatiewe druifsoorte hou potensiaal vir die Olifantsrivierstreek in uit terugvoer van die Gen-Z tussenplantingsprojek en gesels saam oor die toekoms van die wynbedryf te midde van Covid-19.
Die sessie vir Stellenbosch en die Kaap Suidkus op 9 September kyk ook na alternatiewe druifsoorte vanuit verskillende perspektiewe. ʼn Produsent gee sy mening oor die kultivars van die toekoms, ʼn kenner uit Griekeland vertel meer oor variëteite uit dié land wat as teenvoeter vir klimaatsverandering kan dien en Vititec vertel meer oor nuwe beskikbare klone en kultivars. Twee navorsers deel hul vooruitsigte rondom wyndruifteelprogramme, met spesifieke verwysing ook na witroes- en donsskimmelweerstand.
Die Robertson en Klein Karoo sessie se program op 16 September sluit ʼn oorsig oor nuwe tegnologie en implemente in, asook ʼn toekomsblik op voorraadvlakke en wynpryse na die Covid-19 pandemie. Produsente kan saam koukus oor bestuurspraktyke vir stamsiektes en hul rol in die afsterwe van draers en swak bot, en hoor watter opsies is aan hulle beskikbaar indien die bedryf nie meer Mancozeb mag spuit nie.
Covid-19 en klimaat is op die agenda vir die Paarl en Swartland webinaar op 23 September. ʼn Vooruitskouing word gegee oor die pad vorentoe vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, insluitend die invloed van die pandemie op voorraadvlakke en wynpryse, terwyl deelnemers ook gaan gesels oor die effek van klimaatsverandering op die groei van nuut aangeplante wingerdstokke.
Die program vir die sessie in Worcester en Breedekloof, wat 8 Oktober aangebied word, sluit die beginsels en onderhoud van besproeiingstelsels in, die toekoms van Mancozeb as swamdoder, asook die bestuur van wingerde gegewe die huidige wynsurplus wat kelderspasie onder druk gaan plaas. Laastens word gekyk na die toekomsplanne vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
KYK NA DIE PROMOSIONELE VIDEO
Die bedryf sê:
“Of dit nou oor klimaatsverandering, effektiewe wingerdpraktyke of meer omgewingsvriendelike verbouing is – ons het die nuutste inligting nodig, en kry dit by hierdie sessies,” sê Johan Montgomery, wingerdboukundige by Hamilton Russell-wingerde.
“Die webinare dien as ʼn eenstopsessie om die nuutste inligting rondom wyndruifverbouing te kry. Dis gekonsentreerd, gefokus en stimulerend,” sê Chris Keet van Keet-wyne.
“Daar is altyd ruimte om persoonlik te groei. Die Winetech Vinpro streeksessies bied ʼn wonderlike geleentheid om jou kennis uit te brei en ʼn vars perspektief te gee,” sê Courtneigh Frolicks, junior wingerdboukundige by Vinpro.
“Dit is vir ons by Winetech belangrik om nie net relevante navorsing te befonds wat die bedryf bevoordeel nie, maar ook die streeksessies as ʼn belangrike platform om navorsingsresultate aan die bedryf te kommunikeer,” sê Lucinda Heyns, wat verantwoordelik is vir wingerdkundige kennisoordrag by Winetech.
“Ons moedig alle wyndruifprodusente, wynmakers, wingerdkundiges, verskaffers aan die wynbedryf en ander persone wat belangstel aan om hulself met die belangrike inligting toe te rus wat bedryfskundiges by die streeksinligtingsdae deel,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens.
Die registrasiefooi beloop R150 per persoon. Om by te woon, klik op die betrokke webinaar se skakel hier bo of bespreek aanlyn by https://sales.vinpro.co.za/events/ of kontak Gaynor Fortuin by tel 021 276 0432, e-pos gaynor@vinpro.co.za.
MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0429
E-pos: wanda@wineland.co.za