News

Suid-Afrikaanse wyndruif- en wynprodusente bly voortdurend aanpas by ekonomiese druk en die effek van klimaatsverandering om hul eie volhoubaarheid, en die van die wynbedryf, te verseker.

Hierdie en ander insigte is tydens die Winetech Vinpro Streeksinligtingsdae 7 tot 14 September 2021 gedeel. Nagenoeg 200 persone het die sessies in die Paarl, Stellenbosch, Worcester, Robertson en Olifantsrivier bygewoon.

Fokus op die positiewe

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf verkeer sedert die aanvang van Covid-19 onder groot finansiële druk vanweë die vorige en huidige beperkings op drankverkope en wyntoerisme, asook die gevolglike oordravoorraad wat ʼn effek op pryspunte het. Maar, sê Christo Conradie van Vinpro, dis nou tyd om op die positiewe te fokus en daarop voort te bou. “Ons uitvoersyfers lyk tans goed, selfs beter as in 2019, in terme van volume, maar veral waardegroei. Suid-Afrika se kultivarwyne doen veral goed in oorsese markte, onder andere Chardonnay, Sauvignon, Shiraz, Cabernet Sauvignon en Merlot.”

Daar is ook ʼn herlewing in die aanplanting van nuwe wingerde, met sowat 2 000 ha wat na raming teen die einde van 2021 gevestig sal wees. “Dis produsente van regoor al die wyndruifverbouingstreke, en met verskillende besigheidsmodelle – van produsente- tot privaatkelders – wat nou wingerde op groot skaal aanplant. Belangriker nog, dis die régte kultivars op die régte plek vir die spesifieke wyndoelwit. Ons kan beslis inspirasie hieruit put,” sê Christo.

Met ʼn toename in verbruikers se bewustheid van etiese en omgewingsvriendelike praktyke, kan Suid-Afrikaanse wynbesighede baat vind daarby om hul deelname aan die bedryf se etiese handelsakkreditasie (Wieta) sterker te beklemtoon. “Altesaam 72% van die 2021-wyndruifoes, en 77% van ons 92 000 ha wingerde is Wieta-gesertifiseer. Ons kan met trots hierop voortbou en die boodskap na ʼn internasionale gehoor verkondig.”

Buffer jou teen klimaatsverandering

Klimaatsverandering is ʼn realiteit. Volgens dr Etienne Neethling van Vintage Master en Grappe-Esa-Inra in Frankryk, neem ʼn toenemende aantal wyndruifprodusente van regoor die wêreld die effek van klimaatsverandering op hul plase waar, en maak hulle aanpassings in hul wingerdpraktyke.

Volgens ʼn opname onder 3 625 wyndruifprodusente in 18 lande neem 84% van die respondente tekens van klimaatsverandering waar, insluitend ʼn toename in gemiddelde winter- en somertemperature en die voorkoms van ongewone droogtes, hael en ryp in sekere streke. Wyndruifwingerde se fenologiese stadiums skop vroeër as normaal af en sekere lande het kleiner opbrengste aangeteken wat hulle aan klimaatsverandering toeskryf.

Die produsente wat aan die opname deelgeneem het, het uiteenlopende terugvoer gegee oor die aanpassings wat hulle in die wingerd sal maak om die effek van klimaatsverandering te buffer, insluitend die kultivarkeuse, besproeiingspraktyke, siekte- en oesbeheer, asook grondbestuur.

Beste besproeiingspraktyke

Skaars waterbronne kan doeltreffend bestuur word, terwyl produsente terselfdertyd goeie produksie en gehalte in die wingerd behaal. “Produsente kan ʼn hele aantal hulpmiddels inspan om hulle te rig in terme van besproeiingskedulering,” sê dr Philip Myburgh van die LNR Nietvoorbij. “Groot volumes water is al bespaar sonder dat gehalte of produksie ingeboet is.”

“Om te meet is om te weet,” sê Francois Viljoen van Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek. ʼn Verskeidenheid hulpmiddels is beskikbaar om die waterstatus in die grond en plant te meet, onder andere evapotranspirasiemetings en die gebruik van grondmonsters, grondvogmeters, tensiometers, drukbomme, staminkrimpingsmetings en afstandswaarneming deur infrarooi termografie. “Daar is voor- en nadele verbonde aan die onderskeie hulpmiddels, maar uiteindelik moet dit deel van ʼn geïntegreerde benadering vorm,” sê Philip.

Volgens Francois moet ʼn besproeiingsprogram eerstens die spesifieke wyndoelwit van die spesifieke wingerdblok in ag neem. Indien die wyndruiwe vir premiumwyne bestem is, sal kleiner hoeveelhede water minder gereeld toegedien word as byvoorbeeld in wyndruifblokke waarvan die druiwe vir grootmaatwyn bestem is. Buiten die onderskeie apparate beskikbaar om grond- en plantwaterstatus te meet, behoort produsente ook na fisiese tekens van waterspanning in die wingerd te kyk, en weervoorspellings in ag te neem voordat hulle hul besproeiing skeduleer.

“Die belangrikste is dat produsente hul huiswerk deeglik doen en die beskikbare data inspan om slim besluite in die wingerd te maak,” sê Philip.

Beheer siektes en plae oordeelkundig

Deur siekte- en plaagbeheer oordeelkundig toe te pas, kan wyndruifprodusente kostes bespaar, weerstand teen hierdie middels verlaag en hul chemiese voetspoor beperk. Volgens Marius Ras van Ras Consulting moet ʼn spuitprogram die druppelgrootte, volume oplossing en lugmomentum van spuittoerusting volgens die blaardigtheid en teikendiepte aangepas word. “Die uiteindelike doelwit is dat die spuitmiddel so goed as moontlik aan die wingerdoppervlak moet kleef. Indien die druppels te groot is, sal dit van die oppervlak afbons,” sê Marius. Hy raai produsente aan om minder as 1 000 liter oplossing per hektaar te gebruik vir siekte- en plaagbeheer, om die optimale atomisering, oordrag en deposisie te verseker.

“Daar is nie baie chemiese middels beskikbaar in die wynbedryf nie, en indien dit oor en oor gebruik word, kan siektes en plae vinnig ʼn weerstand daarteen opbou,” sê Brahm Jonker van fieldBUGS. “Ons moet daarom die insekdoders waaroor ons beskik verantwoordelik gebruik deur ʼn meer geïntegreerde benadering te volg wat biologiese beheer en sagte chemiese middels kombineer.”

Witluis is een van die geharde wingerdplae wat vinnig weerstand opbou teen chemiese middels. “Gelukkig kan hulle nie weerstand opbou deur gevreet te word deur biologiese predatore soos die wespes Anagyrus pseudococci en Coccidoxenoides perminutus of die sogenaamde ‘witluis vernietiger’ Cryptolaemus montrouzieri nie,” sê Brahm.

Winetech en Vinpro bied die streeksinligtingsessies jaarliks in Mei en September aan om die nuutste tegnologie, beste praktyke en navorsing met wyndruifprodusente, wingerdboukundiges en ander belanghebbers te deel. “Dis vir ons belangrik om voortdurend hierdie kennis in die bedryf uit te ruil, sodat ons deurlopend wêreldstandaarde in wingerdbestuur kan toepas en sodoende ʼn meer volhoubare en verantwoordelike bedryf vorentoe kan verseker. Ons is dankbaar aan Winetech wat hierdie dae moontlik maak,” sê Conrad Schutte van Vinpro.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back