Wyndruifprodusente en -kelders neem tans aan die Vinpro Produksieplan-opname – ʼn finansiële ontleding op plaas- en keldervlak – deel, waarvan die eerste inligtingsessies in Julie in die onderskeie wynstreke afgeskop het.
“Deur aan die Produksieplan-studiegroepe deel te neem, kry produsente en kelders betroubare
bestuursinsigte oor hul besigheid en kan hulle hulself teenoor hul eie historiese prestasie, die streek en die res van die bedryf te meet om meer ingeligte besluite te maak en doeltreffendheid op te skerp,” sê Pierre-André Rabie, senior landbou-ekonoom by Vinpro.
Die eerste reeks inligtingsessies word volgens Covid-19 protokol vir klein groepe in die onderskeie streke aangebied, waartydens deelnemers ʼn oorsig ontvang oor die huidige wynbedryfklimaat, asook meer besonderhede oor die deelnameproses. “Deelname is gratis en ’n meer gebruikersvriendelike proses laat jou toe om met minder insette kragtige ontledings tot en met blokvlak te kry,” sê Pierre-André.
In Oktober en November word terugvoersessies aangebied, waartydens elke deelnemer hul eie resultate ontvang, gemeet teen die streek en bedryf. Vinpro het ook vanjaar begin om sekere fokusgroepe uit die deelnemers na praktykgerigte sessies te nooi om idees uit te ruil oor kostedoeltreffendheid in die wingerd.
Klein verstellings maak ʼn groot verskil
Sowat 20 van die top wyndruifprodusente van regoor ses verbouingstreke het onlangs in die tydens so ʼn praktiese sessie in die Breedekloof byeengekom. Wyndruifprodusente wat deurgaans teen winsgewende vlakke boer, sluit ʼn verskeidenheid groottes boerdery-eenhede in.
“Hierdie produsente beskou selfs die geringste kostebesparings as belangrik en baseer alle bestuursbesluite op die uiteindelike opbrengs, wyndoelwit, topografie en klimaat van die streek,” sê Pierre-André.
Deur van een spuitpomp na ʼn ander oor te skakel, was Zirkie du Toit van die plaas Klipfontein in die Breedekloof in staat om wesenlike koste- en tydsbesparings te realiseer met geen inboet van die gehalte in terme van siektebeheer nie. Die nuwe, elektrostatiese spuitpomp het genoeg dekking voorsien sodat dit slegs nodig was om elke tweede ry te spuit en die aksie kon in die helfte van die tyd uitgevoer word, wat tyd, brandstofkoste, loopkoste en arbeid per hektaar heelwat verminder het. Die nuwe spuitpomp het ook ʼn kleiner volume sistemiese middel gebruik, wat kostes verder gesny het.
Om by ʼn Produksieplan-studiegroep in te skakel, of vir meer inligting oor die opname kontak Vinpro landbou-ekonomiese dienste by tel 021 276 0429 of e-pos info@vinpro.co.za.