Wyndruifprodusente en kelders neem in die volgende paar weke die laaste van ʼn heelwat kleiner 2018-wyndruifoes in.
Volgens SAWIS (SA Wynbedryfinligting & -Stelsels) beraam wingerdboukundiges en kelders dat 2018 die kleinste opbrengs sedert 2005 gaan realiseer.
Die vierde oesskatting is middel Maart uitgevoer, waarteen ongeveer twee derdes van die oes reeds deur wynkelders ingeneem is.
“Feitlik alle wit kultivars is reeds klaar geoes, met enkele laat blokke wat in die volgende paar weke ingeneem sal word,” sê Francois Viljoen, bestuurder van die wynbedryfliggaam Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens.
Shiraz en Cabernet Sauvignon word tans gepars, waarvan Shiraz veral vanjaar stadig ryp word.
Nadat die parsseisoen vooraf gegaan is en afgeskop het met baie droë, warm weerstoestande, het veral die nagte einde Februarie begin afkoel, wat ideaal is vir rypwording én gehalte bevorder.
Volgens Francois gaan heelwat streke nog tot middel April pars, en is die bedryf hoopvol dat die weerstoestande goed bly en die druiwe gesond is.
Wat die grootte van die oes betref, is daar wesenlike verskille in produksie tussen streke en selfs plase na gelang van individuele produksie-eenhede se watersituasie en omstandighede. “Sekere streke en produsente rapporteer ʼn effens beter as verwagte oes, terwyl ander skat dat dit selfs verder gaan afneem. Almal is dit egter eens dat die gehalte van die druiwe bo verwagting goed lyk,” sê Francois.
Vinpro se wingerdboukundiges gee ʼn oorsig oor die streke:
Breedekloof: “Gereelde wind (veral gedurende blomtyd) het tesame met watertekorte ʼn groot invloed op die oesgrootte gehad. Die trosse is oor die algemeen los en klein,” sê Leon Dippenaar.
Klein Karoo: “ʼn Tekort aan voldoende besproeiingswater gaan tot ʼn kleiner oes lei, maar die wyngehalte lyk op hierdie stadium belowend,” sê Hennie Visser.
Olifantsrivier: “Waterbeskikbaarheid aan produsente is gedurende die seisoen met 80% gesny, wat ʼn groot effek op die wyndruifoes het. Die kleur en konsentrasie van veral die rooi wyndruiwe sien beter daaruit as in 2017,” sê Gert Engelbrecht.
Oranjerivier: “Wyndruiftrosse van veral Chenin Blanc, Colombar en die vroeë rooi kultivars is heelwat ligter, wat op ʼn kleiner oes dui,” sê Henning Burger, wingerdboukundige van Oranjerivier Kelders.
Paarl: “Wyndruifkorrels is oor die algemeen klein. Laat kultivars het baie vogstremming ondervind weens die Bergrivierdam se sluise wat einde Januarie gesluit is. Sonbrand kom voor weens uiters warm toestande wat in Desember en Januarie in die streek voorgekom het,” sê Hanno van Schalkwyk.
Robertson: “Die wyndruifoes gaan heelwat kleiner wees vanweë beperkte besproeiingswater en rypskade in Oktober. Wyngehalte lyk tot dusver belowend. Heelwat rooi kultivars moet nog gepars word, en die oes gaan later as normaal klaarmaak,” sê Hennie Visser.
Stellenbosch: “Die trosse is ligter en korrels kleiner, wat ʼn effek op die sapverhalings in die kelder het. ʼn Onlangse haelbui dra ook tot ʼn kleiner oes by. Sekere wyndruifprodusente wil graag besproei omdat hul wingerde swaarkry, maar geen water is hiervoor beskikbaar nie,” sê Conrad Schutte.
Swartland: “Die droë, warm toestande gedurende die somer en parstyd lei tot uiters klein korrels, wat ʼn groot invloed op die totale produksie het. Wyngehalte lyk egter op hierdie stadium belowend,” sê Hanno van Schalkwyk.
Worcester: “Watertekorte, tesame met warm, droë toestande lei tot heelwat kleiner wyndruifkorrels. Die effek van rypskade in Oktober is groter as wat aanvanklik verwag is, veral in Chenin Blanc-wingerde,” sê Pierre Snyman.
ʼn Omvattende 2018 Oesverslag word op 8 Mei 2018 uitgereik.
-Einde-
Uitgereik deur: Vinpro
Medianavrae: Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0429
E-pos: wanda@wineland.co.za