News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf bespoedig die bemagtiging en ontwikkeling van sy werkers deur ’n verskeidenheid wingerd- en kelderopleidingsinisiatiewe. 

Die opleidingsgeleenthede is in lyn met die opleidings- en ontwikkelingstrategie wat tans vir die wynbedryf geformuleer word as deel van die Wine Industry Strategic Exercise (Wise) – sien bl 21.

Wingerdwerkers word wys

VinPro bring wingerdwerkeropleiding na die produsent se voorstoep in die vorm van ’n omvattende reeks kursusse in die onderskeie wyndistrikte, in lyn met die vordering van die wyndruifseisoen. 

Die modules wat vanjaar van Mei tot November aangebied word, sluit wingerdvestiging, snoei, stokontwikkeling, lowerbestuur, siekte- en plaagbeheer en besproeiing in. Elke module word as ’n aparte een-dag kursus aangebied, wat teorie, prakties en ’n evaluering insluit. NQF-vlak 1 akkreditasie kan op versoek uitgereik word. Bywoning kos R200 per persoon (BTW ingesluit). 

“Hoewel dit goed is om in projekte te belê wat positiewe korttermyn resultate toon, kyk ons na die groter prentjie en verkies ons om op projekte te fokus wat vorentoe ‘n volhoubare bydrae tot die bedryf en sy mense sal maak,” sê VinPro se bestuurder van transformasie- en ontwikkeling, Johan Giliomee. Nagenoeg 1 500 wingerdwerkers het oor die afgelope drie jaar die onderskeie kursusse voltooi.

Die opleidingsreeks is op die inhoud van die VinPro DVDopleidingspakket, Wingerdpraktyke vir Wingerdwerkers, geskoei. Aanvullend hiertoe bied VinPro “Train the trainer”-opleidingsessies, waardeur die middelman uitgeskakel word en voormanne, bestuurders en wynmakers opgelei word om werkers self op plase op te lei. Nie net verhoog hierdie oefening produktiwiteit nie; dit kweek ook beter werksverhoudinge.

Kelderwerkers kry kennis 

Die SA Kelderwerker-program en Winetech-studiegroepe is gevestigde, innoverende programme wat bekend is vir     die oordrag van kennis aan kelderwerkers.

Die studiegroepe, wat vanjaar van April tot September aangebied word, bied werkers blootstelling aan verskillende fasette van die wynmaakproses, insluitend teoretiese kennis en praktiese proeë. Die gemiddelde jaarlikse aantal deelnemers sedert die ontstaan van die program in 2007, was ongeveer 142 kelderwerkers en gedurende 2014 is meer as 200 kelderwerkers bereik. 

Volgens Santi Basson, projekbestuurder van die SA Kelderwerker-program, is die studiegroepe slegs in Afrikaans aangebied, maar na gelang van groot belangstelling, word dit vanjaar vir die eerste keer ook vir Xhosa-sprekendes aangebied. Beide taalgroepe word op verskillende dae geakkommodeer.

In die teoretiese deel van die studiegroepe sal Suid-Afrika, die Amerikas, vonkelwynbereiding, die verstoking van brandewyn, wettige wynbereidingsprosesse en die wettige wynbereidingsmiddele in Suid-Afrika behandel word. Foutwyne en die identifisering van individuele geurkomponente in wyn sal ook in die proe-afdeling van elke sessie behandel word. 

Kelderwerkers word na elke sessie geëvalueer en die top-15 presterende individue word in September verder geëvalueer. Drie finaliste word uit die groep aangewys en ’n wenner word by die jaarlikse Kelderwerker Inligtingsdag aangekondig.

Styg uit met Skop-kursusse 

Om verdere opheffing van kelderwerkers aan te moedig, het die Kaapse Wynmakersgilde ‘n vennootskap met Wine Training South-Africa (WTSA) aangegaan om formele opleiding vir kelderwerkers en wynmakersassistente te bied deur die Senior Kelderwerker Opleidingsprogram (Skop).

Skop 1, 2 en 3 verskaf inleidende, intermediêre en gevorderde kursusse by Elsenburg Landboukollege, asook sentrums in verskeie dorpe in die Boland, Weskus, Noord- en Suid-Kaap.

“Dié vennootskap is ‘n uitbreiding van die Gilde se reeds suksesvolle Protégé-mentorskapsprogram vir aspirant wynmakers en wingerdkundiges wat ten doel het om belowende jong gegradueerdes te ontwikkel, sodat hulle uitstekende wingerdkundiges en leiers in die bedryf kan word,” vertel Emma Burger, koördineerder van die kursusse.

Na voltooiing van die eerste drie Skop-kursusse, kan kandidate voortgaan met ‘n formele reeks NQF-vlak 3 wynmaakprogramme. Daarbenewens word 10 kelderwerkers elke jaar gekies om deel te neem aan die Burgundyuitruilprogram, ‘n gesamentlike inisiatief van die Wes-Kaapse en Franse regerings.

Vir meer inligting, kontak:

VinPro-opleidingskursusse – Kachné Ross by kross@vinpro.co.za

SA Kelderwerker-program – Santi Basson by santib@mweb.co.za

WTSA Skop-kursusse – Emma Burger by emma@winetrainingsa.co.za.

,201

Go Back