Die Suid-Afrikaanse wynbedryf deel die Nasionale Koronavirus Bevelsentrum (NCCC) se kommer oor ʼn toename in Covid-19 infeksies, maar verwelkom ʼn risikogebaseerde benadering rondom die maatreëls wat ten doel het om die aantal aktiewe gevalle in die feesseisoen te verminder.
Die NCCC het vanoggend in ʼn verklaring aangekondig dat die land op Covid-19 waarskuwingsvlak 1 bly, aangesien hospitalisering- en sterftesyfers laag bly ondanks ʼn toename in infeksies met die Omikron-variant.
“Ons is verlig dat die Suid-Afrikaanse regering nie strenger nasionale beperkings ingestel het wat in die feesseisoen ʼn ernstige effek op wynkelders, wyntoerismebestemmings en die derduisende gesinne wat van die bedryf afhanklik is sou hê nie,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.
“Dit blyk hierdeur dat die regering gehoor gee aan die bedryf se deurlopende versoeke vir risiko- en feitgebaseerde besluitneming rondom handelsbeperkings op drank.”
Wynkelders is hoogs afhanklik van wyntoerisme vir hul voortbestaan, veral gedurende die somermaande. Hoewel die VK sy grense na Suid-Afrika heropen het, het heelwat kelders feitlik oornag ʼn groot deel van hul internasionale toerismemark verloor weens internasionale reisbeperkings, wat wesenlike finansiële implikasies inhou. “Binnelandse toerisme is veral ʼn belangrike reddingsboei vir hierdie besighede, en daarom is ons verlig dat hulle steeds in hierdie tyd handel kan dryf, met al die nodige veiligheidsmaatreëls in plek.”
Basson beklemtoon dat die regering nie beperkings op drankhandel oor provinsies heen moet inspan as ʼn manier om hospitaalkapasiteit te skep nie.
“Die regering moet steeds self die voortou neem in die land se reaksie op die nuutste vlaag infeksies deur te verseker dat die gesondheidsisteem voorbereid is, die inentingskoers te versnel en werklik wetgewing met betrekking tot Covid-19-protokolle streng toe te pas,” sê Basson.
Hy doen ook ʼn ernstige beroep op elke landsburger en onderneming om by die voorkomingsmaatreëls te hou en die onderskeie veiligheidsprotokolle op alle vlakke van die bedryf nougeset toe te pas. “Ons het nou die geleentheid om te wys dat ons kan saamstaan teen Covid-19 om ons bedryf oop te hou.”
Uitgereik deur: Vinpro
Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za