Winetech en Vinpro skyn die kollig op volhoubaarheid in die wynbedryf tydens ʼn reeks streeksinligtingsdae van 7 tot 14 September 2021.
“Ons nooi wyndruifprodusente, wingerdboukundiges en ander belangstellendes om saam te gesels oor verskeie aspekte van volhoubaarheid, insluitend die ekonomie, klimaatsverandering, beste besproeiingspraktyke, effektiewe spuittoediening en die gebruik van natuurlike predatore,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens.
Die inligtingsdae word vir die eerste keer fisies gehou nadat dit sedert die aanvang van Covid-19 in ʼn webinaarformaat aangebied is. Slegs ʼn beperkte aantal sitplekke is beskikbaar en streng veiligheidsprotokolle sal deurgaans geld. Dieselfde program word grotendeels gevolg, en sekere van die dae word in samewerking met die biologiese beheerspesialiste fieldBUGS aangebied.
Op makro-ekonomiese vlak gaan Christo Conradie van Vinpro ʼn oorsig gee oor die stand van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, insluitend die nuutste voorraadvlakke, bedryfstendense in ander vername wynproduserende lande, die situasie op plaasvlak en die pad vorentoe.
Hoe beskou wyndruifprodusente van regoor die wêreld klimaatsverandering en hoe beplan hulle om daarby aan te pas? Dr Etienne Neethling van Vintage Master en GRAPPE-ESA-INRA, Frankryk, gaan die wynwêreld se benadering oor klimaatsverandering deel.
Een manier waarop die wynbedryf by klimaatsverandering kan aanpas, is deur beste besproeiingspraktyke te volg en beskikbare waterbronne só beter te benut. Dr Philip Myburgh van LNR Nietvoorbij gaan raad gee oor die gebruik van grond- en plantgebaseerde metings vir besproeiingskedulering, insluitend verskillende besproeiingsmetodes, metingsmetodiek en die plasing, installering en kalibrering van besproeiingstelsels, asook die interpretasie en toepassing van besproeiingsdata. Francois Viljoen van die Gen-Z Wingerdprojek gaan verder hierop uitbrei aan die hand van gevallestudies.
As dit by gewasbeskerming kom, is dit noodsaaklik om te weet watter faktore die effektiewe toediening van spuitmiddels beïnvloed. Marius Ras van Ras Consult gaan hierdie faktore toelig, tesame met doeltreffende bestuurspraktyke. Omgewingsvriendelike wingerdpraktyke sluit die gebruik van natuurlike predatore as deel van ʼn wingerdbestuursplan in, waaroor Brahm Jonker van fieldBUGS gaan uitwei.
Die datums van die streeksinligtingsdae is soos volg
7 September, 09:00 – Paarl/Swartland
7 September, 14:00 – Stellenbosch/Kusstreek
8 September, 09:00 – Robertson/Klein Karoo
8 September, 14:00 – Worcester/Breedekloof
14 September, 18:00 – Olifantsrivier
Kostes en registrasie
Die bywoningskoste vir die onderskeie streeksinligtingsdae wissel tussen R150 en R250 per persoon. Registreer aanlyn by enige van die skakels bo vir die onderskeie streeksdae, besoek https://sales.vinpro.co.za/ of kontak Lesley Paulse by 021 276 0429, lesley@vinpro.co.za.
Noord-Kaap hou eiesoortige dae
Twee streeksverwante inligtingsdae word ook op 25 Augustus in Keimoes (09:00) en Grootdrink (14:00) aangebied, met ʼn eiesoortige program.
Stefan Jordaan van Raisins SA en Mosdop Dippenaar van Oranjerivier Kelders gaan onderskeidelik ʼn oorsig gee oor die effek van witroes en donsskimmel op rosyn- en wyngehalte, waarna Pieter le Roux van Villa wenke vir effektiewe siektebeheer gaan deel. Jannie Bosman van Bosman Adama Kwekery gaan die belangrikheid van virusvrye plantmateriaal benadruk, en alternatiewe onkruidbeheer en spuitprogramme eie aan die Oranjerivierstreek word ook behandel.
Vir navrae of registrasies kontak André Agenbag by 054 461 1006 of andre2@owk.co.za.
Uitgereik deur: Vinpro
Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
Epos: wanda@wineland.co.za