News

Die SA wynbedryf sal Pieter Hugo, voormalige Vinpro-direkteur en vername wyndruifprodusent van die Slanghoekvallei, mis.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moes oor die afgelope naweek afskeid neem van ʼn groot gees in die bedryf, en een van die stigterslede van Vinpro. Pieter Hugo, bekende wyndruifprodusent in die Slanghoekvallei, is op 11 Julie 2020 aan longfibrose oorlede.

“Pieter was een van die mees gerespekteerde produsente in die bedryf wat met sy besigheidsuitkyk ʼn voorbeeld gestel het en juis nie net gepraat het nie, maar ook gedóén het. Hy laat diep spore na as visionêre leier, mentor en vriend,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts. “Ons innige meegevoel aan sy familie, vriende en bondgenote.”

Na hy ʼn BSc Landbou-graad aan Stellenbosch Universiteit behaal het, het hy teruggekeer na hul familieplaas in die Slanghoekvallei, waar hy waardevolle ondervinding opgedoen het onder die mentorskap van sy pa, voormalige KWV-voorsitter Pietman Hugo.

In die 1980s het hy en sy gesin na die ou familieplaas Hugoskraal verhuis, en het hy oor die jare nog ʼn aantal plase in die Breedekloofvallei bekom, wat vier van sy vyf seuns onder sy mentorskap oorgeneem het.

In sy meer as 40 jaar in die wynbedryf het Pieter op verskeie direksies gedien, waaronder die Breërivier Botteleringsmaatskappy, KWV, Arbelos-wyne en Botha en Slanghoek kelders. Hy het ook holisties gedink, wat weerspieël is in sy betrokkenheid op direksies en rade van die Wes-Kaapse en Suid-Afrikaanse landbou-unies, provinsiale en nasionale watersake-komitees en die destydse Koöperatiewe Wynkelderskomitee.

Maar Pieter het ʼn nóg belangriker pioniersrol in Vinpro se geskiedenis gespeel as deel van die adviesraad wat in 2002 getaak was om Vinpro tot stand te bring. Na sy uittrede as lid van die Vinpro-direksie, uitvoerende raad en finansiële komitee in 2014, is hy in 2018 as ʼn erelid van Vinpro vereer vir sy wesenlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“Pieter het die binnewerkinge van die wynbedryf geken en verstaan en altyd die primêre produsent se saak eerste gestel. Hy was ʼn man van min woorde wat eers alle argumente uitgeluister en erkenning gegee het aan al die standpunte, maar wanneer hy sy wel deurdagte insette gegee het, het dit ʼn groot indruk gelaat,” sê Anton. “Ons sal hom werklik mis.”

Uitgereik deur:Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back