News

Presisie-wyndruifverbouing is in die kollig tydens ‘n reeks Winetech Vinpro-streekinligtingsdae in September.

“Beskou jy jouself as ʼn ‘wyse’ wingerdboer? Onder die tema Wise Farming, gesels kundiges tydens die volgende reeks Winetech Vinpro Streeksinligtingsdae oor maniere waarop wyndruif- en wynprodusente hul praktyke kan opskerp en hul besighede teen uitdagings kan buffer binne die groter bedryfsprentjie,” sê Vinpro-konsultasiediensbestuurder Conrad Schutte.

Die insiggewende en interaktiewe sessies word van 7 tot 28 September 2022 in vyf van die hoof wyndruifverbouingstreke aangebied.

DATUMS EN ONDERWERPE:

Robertson & Klein Karoo

7 September 2022
Wederom Wynkelder, Robertson
Presisieboerdery beteken om te weet wanneer en hoeveel water om in jou wingerde toe te dien.

Spesialiste van Breërivier Besproeiing, Novap en Phytec sal beste besproeiingspraktyke deel wanneer dit kom by alternatiewe tydens beurtkrag, suboppervlak besproeiing en plantgebaseerde besproeiingsbesluitneming.

Vinpro sal ‘n oorsig gee van die nuutste hulpmiddels en -tegnologie vir presisieboerdery en Winetech Menslike Ontwikkeling sal lig werp op geleenthede vir leer en ontwikkeling, terwyl die borg Mahindra Trekkers & Swartland Spuitpompe meer oor hul nuutste produkte en dienste gaan deel.

Worcester & Breedekloof

8 September 2022
Sneeukoppiesaal, Goudini Kelder
Wyse wyndruifprodusente moet op hoogte wees van verskeie faktore wat hul boerderybedrywighede beïnvloed – van wyntoerisme tot beurtkrag.

Kundiges van Vinpro en Breërivier Besproeiing sal onderskeidelik die uitdagings en geleenthede in hierdie velde aanspreek. Verteenwoordigers van Novap en Ras Consult sal onderskeidelik effektiewe suboppervlak besproeiing en spuitneerlegging dek, AECI World gaan plantgesondheid en weerstand bespreek en borg Mahindra Trekkers & Swartland Spuitpompe gaan ‘n oorsig van hul produkte en dienste gee.

Paarl & Swartland

14 September 2022
Nelson Wynlandgoed, Paarl
Wyndruifprodusente leer deurlopend hoe om slimmer en meer kostedoeltreffend te boer vir groter volhoubaarheid.

Nexus gaan hul wenke vir kostedoeltreffende gewasbestuur deel, en ʼn verteenwoordiger LNR Nietvoorbij gaan vertel hoe wyndruifprodusente goeie plaag- en siektebestuur, insluitend knop- en blaarmyt, kan toepas vir gesonder, meer produktiewe wingerde verseker.

Nog ‘n verteenwoordiger van die LNR Nietvoorbij gaan insigte deel oor die gebruik van geselekteerde gras- en breëblaargewasse wat geskik is vir voer as onderskeppingsgewasse waar kelderafvalwater vir besproeiing hergebruik word. Winetech Menslike Ontwikkeling gaan ʼn oorsig gee van leer- en ontwikkelingsgeleenthede in die wynbedryf, en die borg AECI World gaan meer vertel oor plantgesondheid en weerstand.

Stellenbosch & Kaap Suidkus

15 September 2022
House of JC le Roux, Stellenbosch
Toekomsgerigte wyndruifverbouing sal van wyndruif- en wynprodusente vereis om hul ingesteldheid en praktyke aan te pas.

’n Kenner van Wineanorak sal die konsep van herlewingslandbou bespreek, ’n spesialis van Adagin Technologies gaan gesels oor presisiemoniteringsoplossings vir wingerdbou en die borg AECI World gaan vertel hoe produsente plantgesondheid en weerstand beter kan bestuur.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch sal ook meer vertel oor geïntegreerde wingerdmoniteringstelsels vir noukeurige waterbestuur, en die gebruik van instrumente soos Phenolab vir optimale fenoliese bestuur.

Olifantsrivier

28 September 2022
Die Keldery, Vredendal
Uitsonderlike druiwe en wyne begin in die wingerd en, nog belangriker, in die grond.

Verteenwoordigers van Atlantic Fertilisers sal die nuutste neigings, beste praktyke en kunsmisprodukte deel om te verseker dat gronde en wingerde die beste voedingstowwe ontvang.

‘n FieldBUGS-spesialis sal ‘n oorsig gee van biologiese plaagbeheeropsies wat aan wyndruifprodusente beskikbaar is, en ‘n wingerdboukundige van Klawer Kelder sal wenke deel oor die verwydering van alle lewendige wingerdwortels wanneer wingerdstokke hervestig word.

Registrasie is verpligtend en kostes wissel tussen R150 en R250 per persoon. Om te registreer, gaan na www.sales.vinpro.co.za, skakel 021 273 0432 of e-pos lesley@vinpro.co.za.

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

 

Go Back