News

Fotokrediet: Francois Viljoen.

Na ʼn vroeë herfs en warm weer middel Junie, is die winter nou goed op dreef, en die koue, reën en sneeu is goeie nuus vir wyndruifwingerde wat nou rus ter voorbereiding van die 2022-oes.

“Ons is dankbaar vir ʼn baie goeie winter sover,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek. “Die koue weer sedert einde Junie is voldoende om wingerde dormant te hou, en die sneeu en hoë reënval vul grondwaterbronne en damme goed aan vir die res van die seisoen wat voorlê.”

Volgens die Stad Kaapstad se weeklikse waterverslag, was die hoofdamme in die Wes-Kaapse Watervoorsieningskema (WCWSS) op 12 Julie 2021 altesaam 93% vol teenoor 71% dieselfde tyd in 2020. Veral noemenswaardig is die Theewaterskloofdam wat 99.6% vol was teenoor 67% verlede jaar, en die Wemmershoekdam wat 91% vol was teenoor 63% verlede jaar.

Vroeë herfs strem reserwes

Die aanloop tot die 2022-seisoen het egter ʼn bietjie wankelrig afgeskop, gekenmerk deur die laat 2021-oes en vroeër as normale verkleuring en verlies van blare in die wingerd. “Onverwagse hoë reënval rondom 7 Maart 2021 het parstyd heelwat vertraag in veral die kusstreke, met sommige produsente wat eers in April kon klaar pars,” sê Francois. Omdat die druiwe langer gehang het, kon naoesbemesting eers later toegedien word. Na die reënval moes produsente ook bontstaan om die voorkoms van swamsiektes en vrot onder beheer te kry. Die siektes het in ruil daartoe bygedra dat herfsverkleuring en blaarval reeds teen einde Maart begin voorkom het.

“Nadat die vorige seisoen se druiwe gewoonlik teen die begin van herfs klaar gepars is, is dit belangrik vir wingerde om reserwes op te bou om hulle deur die winter te beskerm en voor te berei vir die volgende oes,” sê Francois. “Die reserwes word in die lote, stam en wortel vasgelê in die vorm van stysel en dien amper as ʼn soort teenvriesmiddel vir die stok.”

Wingerde moet ook genoeg reserwes hê om hulle deur die eerste paar weke van lente te dra wanneer dit weer opwarm. Terwyl die eerste blaartjies nog te klein is om voldoende te fotosinteer, help die reserwes om in die stok se groeibehoeftes te voorsien tot die wingerd ongeveer ʼn lootlengte van 50 cm bereik en blare groot genoeg is om selfvoorsienend te wees.

“Sodra die blare in die herfs begin verkleur en afval, neem die fotosintese wat dien om hierdie reserwes op te bou geleidelik af en staak dit uiteindelik. Dis hoekom dit belangrik is dat die blare na die vorige parsseisoen, van Maart tot Mei, mooi gesond moet bly,” sê Francois. Wingerde wat met die rolbladvirus besmet is, en kenmerkend vroeg rooibruin verkleur en blaarval ondergaan, is veral minder voorbereid vir die volgende jaar se oes as gesonde wingerde.

Die res van die herfstoestande was gunstig, gekenmerk deur goeie reënval vroeg in Mei wat voordelig was vir die saai van dekgewasse, asook koeler temperature wat wingerde hul rusperiode laat ingaan het.

Nuwe wintertendense

Na ʼn goeie oorgang van herfs na winter, het die Wes-Kaap egter middel Junie ongewone warm, droë weer beleef, wat die gronde uitgedroog en dekgewasse swaar laat trek het. Hierna het die winter egter in alle erns in dié provinsie aangebreek, met goeie koue en genoegsame reën, wat wingerde dormant hou en voordelig is vir dekgewasgroei.

“Die nuwe tendens wat ons oor die afgelope paar jaar opgelet het, is dat die winter besig is om aan te skuif. Die meeste reën en koue kom nou meer algemeen in Julie en Augustus voor, terwyl die weerstoestande nog in Junie redelik wipplank ry,” sê Francois.

Hoewel wyndruifprodusente hul snoeiprogram bietjie moes uitstel vanweë die warm weer in Junie, is snoeispanne nou voluit aan die gang. “Die goue reël is wel dat mens nie op reëndae snoei nie, aangesien vars snoeiwonde op hierdie dae tot die stamsiekte tandpyn aanleiding kan gee,” sê Francois.

Vir meer raad in die wingerd, kontak Vinpro se span streekswingerdboukundiges.

 

Go Back