News

Hannes en JC Erasmus van die plaas Wansbek, wenners van VinPro en Winetech se wingerdblokevaluering in die Robertson-streek.

Hannes en JC Erasmus van die plaas Wansbek, wenners van VinPro en Winetech se wingerdblokevaluering in die Robertson-streek.

ʼn Blok Chardonnay van die plaas Wansbek is vanjaar as VinPro en Winetech se top wingerdblok in die Robertson-streek aangewys.

Die tema vir vanjaar se wingerdblokevaluering was blokke waarvan die wyn konstant goed presteer. “Dis belangrik vir produsente om hul wingerdpraktyke met die uiteindelike wyndoelwit te belyn, en hierdie was ʼn geleentheid om juis die uitnemende praktyke en wyne in ons streek te vertoon,” sê Hennie Visser, VinPro se wingerdboukundige konsultant vir die Robertson-streek.

Die wenners Hannes en JC Erasmus, sê die 12 jaar oue Chardonnay-blok se druiwe word vir Robertson Wynkelder se Constitution Road Chardonnay gebruik. Die wingerd is op Ramsey geënt en word op ʼn Peroldstelsel as “sprawling canopy” verbou.

Graham Beck Wyne se Madeba-plaas was in die tweede plek met ʼn 12 jaar oue blok Chardonnay en Wildepaardekloof was in die derde plek met ʼn 24 jaar oue Cabernet Sauvignon-wingerdblok.

Volgens Hennie het Wansbek se wenblok die beste wortelverspreiding van alle inskrywings gehad, wat ʼn funksie van goeie grondvoorbereiding, grondbestuur en besproeiing is. In ʼn uitermatige droë jaar is die vog deurlopend gemeet en die besproeiing noukeurig bestuur. Dit het tot die ideale lower in balans met drag gelei. “Die blok het ook uitsonderlike trosverspreiding en egalige rypwording vertoon,” sê hy.

Wildegars is as ʼn natuurlike dekgewas gebruik en het tot effektiewe onkruidbestuur gelei.

Die VinPro/Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om beste wyndruifverbouingspraktyke te identifiseer, vier, en met die bedryf te deel. ʼn Boeredag is 26 Januarie aangebied waartydens die praktyke van die wenblok gedemonstreer is.

 

Go Back