Vititec, die toonaangewende verskaffer van hoë gehalte wingerdplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf, het sy handelsmerk vernuwe om sy erns as volhoubare wynbedryfvennoot te beklemtoon.
Die handelsmerkvernuwing is 17 Januarie tydens die jaarlikse Nedbank Vinpro Inligtingsdag by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) bekendgestel.
Vititec, voorheen KWV Plantverbetering, het in 2018 sy tiende bestaansjaar gevier. “Vititec het in die afgelope dekade ongelooflik uitgebrei van die blote voorsiening van wingerdplantmateriaal na ʼn meer holistiese benadering en gevorderde tegnologiese wingerdplantmateriaalprogram,” sê Nico Spreeth, hoof uitvoerende beampte van Vititec.
Vandag staan die maatskappy bekend as ʼn globale voorloper in die invoer en ontwikkeling van nuwe wyndruifklone, die eliminering van skadelike virusse en virusverwante siektes, en die handhawing van die hoogste standaarde in wingerdplantmateriaal.
Vititec is ʼn filiaal van die wynbedryfliggaam Vinpro en in die Paarl gebaseer, met persele in Vredendal en Grondves buite Stellenbosch en 6 kwekerypersele in die Clanwilliam en Piketberg gebiede. Die maatskappy fokus op virusreiniging van wingerdplantmateriaal, maar ook op die ontwikkeling, vermeerdering en voorsiening van wingerd- en wynkundig geselekteerde plantmateriaal aan die bedryf in die vorm van geënte wingerdstokke en wingerdplantmateriaal geskik vir enting.
Die maatskappy voorsien meer as 95% van die bostokplantmateriaal en nagenoeg 50% van die onderstokplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
“Met die vernuwing van Vititec se handelsmerk bou ons voort op hierdie sterk grondslag, en onderstreep ons ons verbintenis tot die volhoubare groei van elkeen van ons kliënte en die Suid-Afrikaanse wynbedryf as geheel,” sê Nico.
-Einde-
Medianavrae:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za