Gemorskos en ʼn rit met sy kollegas is maar van die dinge waarna Henri Slabber tydens die inperking verlang het.

Henri sê toe die span vir die eerste keer sedert die begin van inperking in Maart, plase gaan besoek het, was dit maar senutergend “want jy weet nie wie jou gaan voorkeur nie.” Gewoonlik ry Henri, Francois, André en Lester met een voertuig, maar die keer het hulle die sleepwa gelos en man-man met ʼn bakkie gery. “Toe ons almal agter mekaar in die dorp ry, het dit soos ʼn bloulig-brigade gelyk. Maar die paaie was oop, so ons het lekker gery,” sê hy.

Plaasbesoeke

Tydens die inperking het die Vititec-span plase in Franschhoek, Malmesbury, Hermanus, Worcester besoek. Hy sê wanneer hulle plase besoek, kommunikeer hulle nie regtig met mense nie. “Ons het bietjie gesukkel om toegang tot die plaas te kry en om die ouens in die hande te kry.”

Tydens die plaasbesoeke, was die rolblaarvirus mooi sigbaar, so die span kon dit maklik uithaal. Een ding wat die Vititec-span wel gemis het, is gemorskos soos Burger King en KFC. “As ons uitgaan vir werk eet ons gewoonlik uit, maar ons moes nou kos inpak. Ek het nou al ʼn bietjie moeg geraak vir grondboontjiebotter-broodjies,” sê hy laggend.

Boere en bestellings

Volgens Henri is sommige wyndruifprodusente eintlik met vakansie, maar party is kwaad want hulle wil werk en ander is paniekerig want wyn moet verkoop word. Hy sê die Vititec-span is bekommerd oor of die werk die moeite werd is. “Ons doen wingerdinspeksies en merk die siek stokke met verf. Ons wonder wel of ons dit verniet doen en tog enige iets gaan verkoop.”

Henri, wat bostokke verkoop, sê elke jaar bestel kwekers van Vititec. Tans lyk bestellings goed, maar soos die seisoen aangaan, word bestellings gekanselleer. “Verlede jaar het ons 27 000 stokkies uitgegee, maar vanjaar lyk dit of ons nie eers 16 000 gaan haal nie,” sê Henri.

Maar die Vititec-span bly positief. “Ons sal weer regkom. Dis maar net ʼn dip waardeur ons gaan,” sê Henri.

Familielewe

Beide Henri en sy vrou het tydens inperking van die huis af gewerk. Vir Henri was dit ook moeilik, want hy kon nie altyd lekker konsentreer met al die afleidings nie. “Met ʼn sesjarige kind by die huis, is dit maar moeilik.”

Henri beskryf hierdie inperkings periode as eienaardig en sê die ervaring sal hom altyd bybly.  “Ek is bly ons kon werk toe gaan en het nie net heeldag by die huis gesit nie.”

Go Back