News

Abrie Beeslaar, nuwe Vinpro-direkteur vir die Stellenbosch-streek.

Die wynbedryfliggaam Vinpro verwelkom Abrie Beeslaar van Kanonkop-wynlandgoed as die nuutverkose direkteur vir die Stellenbosch-streek.

Abrie is deur die Vinpro-lede in dié streek genomineer as hul verteenwoordiger na die bedanking van Carl van der Merwe van De Morgenzon. Abrie sal hierdie vakature vul tot en met die Vinpro Algemene Jaarvergadering in November vanjaar, waartydens hy herkiesbaar sal wees.

Dié boorling van Worcester en BSc Landbou-gegradueerde aan Stellenbosch Universiteit, is sedert 2002 aan Kanonkop-wynlandgoed buite Stellenbosch verbonde. As hoofwynmaker by Kanonkop het hy en die wyne wat hy oorsien het oor die jare verskeie plaaslike en internasionale toekennings ingepalm, onder andere om in 2008, 2015 en 2017 as die International Wine & Spirit Competition se Internasionale Wynmaker van die Jaar aangewys te word.

“Abrie se verkiesing is ʼn aanwins vir die Vinpro-direksie, en ons sien daarna uit om sy vars uitkyk en besigheidsinsette tot die span te voeg,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts.

Uitgereik deur:            Vinpro
Medianavrae:              Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back