News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryfliggaam, Vinpro, het Stephan van Zyl as nuwe direksielid vir die Noordkaap-streek verwelkom.

Stephan se wortels lê in Groblershoop, waar hy ook op skool was. Ná skool is hy na die Universiteit Stellenbosch waar hy in 1991 sy B.Com in Wiskunde en Rekenaarwetenskap behaal. Hierna werk Stephan vir ʼn paar jaar in Johannesburg as rekenmeester en stelselontwikkelaar. In 1997 roep die Noordkaap hom terug, en hy begin wyn- en droogdruiwe op die familieplaas verbou.

As jong boer het Stephan deel geword van die landboustrukture in die omgewing en sy betrokkenheid in die wynbedryf is ʼn uitvloeisel van sy passie vir wyn en die landbou. In 2006 word Stephan tot direkteur van Oranjerivier Wynkelders verkies. Hy het ook op die raad van Wynkelders SA gedien. Die tegnologiese ontwikkeling van die wynbedryf en boerdery oor die algemeen is vir hom baie belangrik en hy skryf graag gebruikersvriendelike rekenaartoepassings vir ontspanning.

“Ons is opgewonde om Stephan as nuwe direksielid by Vinpro te verwelkom,” sê Anton Smuts, voorsitter van die Vinpro-direksie. “Stephan is innoverend en tegnologies ingestel. Hy bring ’n nuwe stel vaardighede en kennis na die tafel en ons sien uit na die verskil wat hy by Vinpro en in die Suid-Afrikaanse wynbedryf gaan maak.”

 

 

Go Back