News

Verbruikers kan weer hul glase opvul na die gedeeltelike heropening van plaaslike drankverkope. (SHUTTERSTOCK)

Die wynbedryfliggaam Vinpro is bly dat wynbesighede weer kan begin handel dryf met die onmiddellike opheffing van die verbod op plaaslike drankverkope, maar sal as prioriteit voortgaan met verskeie aksies om die bedryf se volhoubaarheid in die langtermyn te verbeter.

Wynbesighede kon sedert Maart 2020 reeds vir 20 weke altesaam geen inkomste uit plaaslike wynverkope verdien nie, wat tot ʼn algehele verlies van meer as R8 miljard uit plaaslike verkope gelei het en steeds ʼn bedreiging vir die voortbestaan van kelders, wyndruifprodusente en die lewensbestaan van 27 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting inhou.

“Die oopstel van wynverkope vir tuisverbruik van Maandag tot Donderdag, asook wynkelders vir verbruik in restaurante en proelokale regdeur die week en oor naweke sal help om van ons plaaslike wynverkope terug te bring na meer volhoubare vlakke,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Hoewel ons bly is dat besighede weer ʼn inkomste kan verdien, lê ʼn baie lang en moeilike herstelpad vir wynverwante besighede voor en is dit selfs vir sommige besighede te laat.”

Vinpro bou as prioriteit voort op verskeie aksies waarvoor die organisasie hom oor die afgelope 10 maande beywer het. “Ons moet eerstens verseker dat ons bedryf nie weer landswyd soos ʼn ligskakelaar aan- en afgeskakel word deur die regering ongeag verskille in die Covid-19 status in die onderskeie provinsies nie.”

Die organisasie sal daarom voortgaan met die aansoek wat op 27 Januarie 2021 by die Kaapse Hooggeregshof ingedien is om tussentydse regshulp aan te vra wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landswye verbod af te wyk om die verkoop van drank op persele en vir tuisverbruik in die Wes-Kaap moontlik te maak. Soortgelyke verligting met betrekking tot die ander provinsies sal versoek word.

“Covid-19 bly egter ʼn ernstige realiteit wat die lewens en lewensbestaan van Suid-Afrikaners in gevaar stel. Ons as bedryf verbind ons daartoe om steeds voorkomende maatreëls van plaasvlak tot kleinhandel proaktief te implementeer om werknemers, verbruikers en breër wynbedryfgemeenskappe te beskerm. Ons bly ook deel neem aan gesprekke rondom ʼn risiko-aangepaste benadering om die ekonomie verder oop te maak en oop te hou,” sê Basson.

Vinpro bly toegewy om ʼn sosiale ooreenkoms te finaliseer wat ander drankbedrywe, die regering en burgerlike samelewing insluit, om saam meer volhoubare oplossings vir maatskaplike probleme rondom alkoholmisbruik te vind en gedrag oor die langtermyn te verander. “Vinpro en ons lede beywer ons vir die verantwoordelike verbouing, produksie, bemarking, verkoop en verbruik van ons produkte, waarvoor ons wêreldwyd erkenning ontvang het,” sê Basson.

“Ons sal ons steeds tot die regering wend vir finansiële verligting om die lewensbestaan van ons 533 wynkelders, 2 778 wyndruifprodusente en 269 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting te beskerm,” sê Basson.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back