News

Vinpro se hoof hofsaak word van 23 tot 26 Augustus 2021 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor.

Ondanks al die terugslae wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf oor die afgelope 17 maande moes verduur, veg Vinpro voort om die bedryf volledig te heropen en herbou. Die hofsaak waardeur Vinpro die regering se benadering ten opsigte van beperkings op drankhandel binne die Wet op Rampbestuur betwis, word van 23 tot 26 Augustus 2021 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor voor ʼn volbank regters.

Drie spesifieke argumente word van vandag af aangehoor, naamlik Vinpro se argument rondom die regeringstruktuur, die tussentydse aansoek en in agneming van bewyse aangaande die derde golf, asook die kwessie van betwisbaarheid aangesien die verbod gedeeltelik opgehef is.

“Sedert die aanvang van die pandemie het ons aangevoer dat die provinsies, en nie die nasionale regering nie, in die beste posisie is om te besluit of alkoholbeperkings ingestel moet word al dan nie, en indien wel, dat hierdie besluitneming die provinsiale omstandighede in ag moet neem, insluitende die noodsaaklikheid om kapasiteit in die trauma-eenhede van hospitale in die provinsie te verseker,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Ons weet dat provinsies verskillend deur die pandemie geraak word, en daarom glo ons dit is nodig om ʼn gedifferensieerde benadering te volg in die hantering van die krisis, om sodoende die ekonomiese gevolge van ʼn inperking te beperk.”

Vinpro het sy hoof hofaansoek in Januarie 2021, tydens die tweede golf, van stapel gestuur en het nou die hof genader om bewyse vir die manier waarop die algehele alkoholverbod in sy doel misluk het tydens die derde volg, in ag te neem. “Alhoewel ons die besluit van die regering deur ʼn dringende interdik-aansoek en verhoor op 21 Julie 2021 betwis het, is die saak as akademies van aard geag omdat die verbod vier dae later gedeeltelik opgehef is. Vinpro het in ʼn tussentydse aansoek aangevoer dat hierdie bewyse nou ook oorweeg moet word.”

Die respondente van die nasionale regering het die aansoek om verdere bewyse in te dien, ten sterkste teengestaan. Hierdie teenkanting is hoofsaaklik gebaseer op hul argument dat Vinpro se aansoek akademies van aard is, aangesien die verbod opgehef is. “Ons weet egter nou hoe die regering elke vorige alkoholverbod hanteer het. ʼn Algehele verbod word herhaaldelik ingestel en met die vierde golf wat die land in alle waarskynlikheid in Desember gaan tref, is hierdie aangeleentheid beslis nie akademies nie.

“Wyn is deel van landbou, en so ook toerisme. Ons bedryf ondersteun 80 183 mense wat op plaas- en keldervlak werk en 188 913 mense wat verder in die wynwaardeketting werksaam is. Hierdie bedryf het ʼn sterk handelsmerkreputasie opgebou as ʼn eiesoortige bate vir die land. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is meer as ʼn drankie, dit onderhou lewens. En dit is ons verantwoordelikheid om seker te maak dat ons hierdie bedryf vir toekomstige geslagte bewaar,” sê Basson.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
Epos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back