News

As een van die oudste landboubedrywe in die land, wat die lewensbestaan van 269 000 werknemers ondersteun, R55 miljard se inkomste vir die ekonomie oplewer en ‘n sterk handelsmerkreputasie as merkwaardige bate vir die land bou, het die Suid-Afrikaanse wynbedryf deel geword van ons kulturele en ekonomiese identiteit.

Die wynbedryf het die afgelope jaar onverpoos gewerk om deel te wees van die oplossing terwyl ons land in die greep van die dodelike Covid-19-pandemie vasgevang is. Dit sluit in samewerking met die regering en proaktiewe implementering van voorkomende maatreëls van plaasvlak tot kleinhandel om die lewens en lewensbestaan van die mense wat in ons waardeketting en die breër gemeenskap werk, te beskerm.

Ondanks ons voortdurende betrokkenheid by die regering om die verspreiding van die virus te beperk deur die implementering van ‘n risiko-aangepaste benadering om die ekonomie weer oop te maak én sosiale probleme rondom alkoholmisbruik deur middel van ‘n sosiale ooreenkoms aan te spreek, is ons aanbevelings nie in ag geneem toe die derde verbod op 28 Desember 2020 ingestel is nie. Die regering was ook nie deursigtig in sy regverdiging van die voortgesette verbod nie en het geen verduideliking of duidelikheid gegee oor die tydlyn vir die hersiening van hierdie verbod nie. Dit maak noodsaaklike beplanning en gebeurlikheidsplanne onmoontlik.

Hierdie trots Suid-Afrikaanse bedryf, wat staatmaak op toerisme en gasvryheid, is nou in ʼn haglike posisie na ‘n verbod op die plaaslike verkope van wyn vir ’n totaal van 19 weke sedert Maart 2020. Dit kom neer op ‘n verlies van meer as R8 miljard in direkte verkope, die moontlike sluiting van kelders en ʼn verlies aan produsente én 27 000 werkgeleenthede, wat die kwesbaarste persone in ons gemeenskappe in armoede dompel, met verreikende maatskaplik-ekonomiese gevolge wat ons gesondheidsorgstelsel onder veel groter druk gaan plaas.

Met die 2021-oes wat hierdie week afskop, het die bedryf nou meer as 640 miljoen liter voorraad waarvan 300 miljoen ongekontrakteer is. Dit hou ʼn wesenlike risiko in weens onvoldoende stoor- en verwerkingskapasiteit vir die nuwe oes en ʼn bedreiging vir die volhoubaarheid van ons hele bedryf.

Alhoewel ons die regering se kommer oor die verwoestende effek van hierdie pandemie deel en betekenisvolle maatreëls steun om die kurwe te laat daal, ondersteun ons nie die volgehoue verbod op die verkoop van wyn terwyl alternatiewe beskikbaar is om risiko’s te verminder nie.

Vinpro-bestuurshoof Rico Basson sê gegewe die verwoestende impak wat die derde verbod op die wynbedryf het, het Vinpro geen ander keuse as om die Kaapse Hooggeregshof te nader nie.

Gegewe die verwoestende impak wat die derde verbod op die wynbedryf het, het Vinpro geen ander keuse as om die Kaapse Hooggeregshof te nader nie.

Vinpro sê nie dat ‘n drankverbod ongeregverdig is wanneer hospitale en veral trauma-eenhede onder druk is nie. Ons is egter van mening dat nie net die verkeerde regeringsvlak met die kleinhandelverkope van drank tydens die nasionale ramptoestand te doen gehad het nie, maar ook dat die regering ʼn landwye verbod gebruik het wat onnodig, ongegrond, onregverdig en inderdaad teenproduktief is.

ʼn Meer buigsame, vinniger benadering is nodig, gebaseer op geloofwaardige empiriese data waar die provinsiale uitvoerende gesag bemagtig moet word om die verkoop van drank gedurende die res van die pandemietydperk te hanteer. Provinsiale owerhede is normaalweg verantwoordelik vir die regulering van die verkope van drank én in beheer van gesondheidsorg en provinsiale hospitale, en daarom beter toegerus om die fyn balans tussen lewens en lewensbestaan te bestuur.

Alhoewel die drankverbod daarop gemik is om te verseker dat hospitale die nodige vermoë het om diegene wat siek word te behandel, raak die pandemie provinsies op enige gegewe tyd verskillend. Die kapasiteitsbehoeftes in hospitale sal dus landwyd verskil. Ten spyte hiervan het die regering nog nooit ‘n onderskeid tussen provinsies getref wat die instelling of opheffing van die drankverbod betref nie. In plaas daarvan is ‘n landwye verbod ingestel en dan weer opgehef, sonder inagneming van die omstandighede binne individuele provinsies.

Dringende tussentydse regshulp word nou gevra wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landwye verbod af te wyk om die verkoop van drank op persele en deur handel in die Wes-Kaap moontlik te maak. Soortgelyke verligting met betrekking tot ander provinsies sal versoek word. Die saak word op 5 Februarie 2021 aangehoor.

Vinpro is verlig dat die aantal nuwe infeksies, aktiewe gevalle en opnames in hospitale nou landwyd, maar veral in die Wes-Kaap, vinnig daal. In hierdie omstandighede is die drankverbod in die Wes-Kaap eenvoudig nie meer geregverdig nie. Gevolglik sal die Wes-Kaapse Hooggeregshof gevra word om die drankverbod deur minister Dlamini-Zuma ingestel vir die Wes-Kaap met onmiddellike effek ter syde te stel.

As eerlike bemiddelaars glo ons in die mag van ‘n gedeelde visie waar ons dieselfde doelstellings het – ʼn welvarende Suid-Afrika.

Ons sal voortgaan met ons ondersteuning aan die regering in die stryd teen Covid-19 terwyl ons hard werk aan die ekonomiese voortbestaan van ons bedryf en ons mense wat hiervan afhanklik is vir hul lewensbestaan.

MEER OOR VINPRO:
Vinpro verteenwoordig 2 575 Suid-Afrikaanse wynprodusente, verkopers en belanghebbendes in die bedryf, ‘n beduidende arbeidsmag wat almal hul lewensbestaan uit die bedryf maak en afhanklik van hierdie bedryf is. Heelwat Vinpro-lede verkoop en versprei ook hul wyne na gelisensieerde restaurante en hotelle, en bedryf ook gelisensieerde restaurante op hul eie plase waar wynproeë aan verbruikers aangebied word.

Uitgereik deur: Vinpro

Media navrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

Go Back