News

Ondanks die gedeeltelike opheffing van die verbod op die plaaslike verkoop van drank, sal die wynbedryfliggaam Vinpro namens sy lede voortgaan met die dringende hofaansoek om te verhoed dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf en sy waardeketting vorentoe ontwrig word weens ‘n toename in Covid-19-infeksies en hospitalisasies.

In die afwesigheid van kudde-immuniteit – wat teen einde 2021 in Suid-Afrika bereik kan word al dan nie – vrees ons dat die nasionale regering weer eens ‘n landwye verbod op die plaaslike verkoop van drankprodukte, soos in die verlede, sal gebruik wanneer ‘n derde en vierde golf van infeksie die land tref. Daarom sal Vinpro die manier waarop hierdie verbod opgelê word, in die hof betwis.

In die lig van die gedeeltelike opheffing van die drankverbod Maandag, 1 Februarie 2021 soos deur die President aangekondig, het Vinpro op advies van ons regspan besluit om nie voort te gaan met die interim interdik om die verbod op drankprodukte in die Wes-Kaap op te hef hierdie Vrydag nie. Ons is ingelig dat die saak nie kan voortgaan nie, soos bevestig met die regsverteenwoordigers van die nasionale regering, omdat die Hof dit nie langer as uiters dringend sal beskou nie (weens die drankverbod wat gedeeltelik opgehef is).

Die saak word egter steeds as dringend hanteer en Vinpro, deur ons regspan, wag nou op bevestiging van ‘n nuwe en spoedige datum, in oorlegpleging met die regsverteenwoordigers van die nasionale regering, waarop die hoofaansoek, met betrekking tot die manier waarop hierdie verbod op drankprodukte in die land afgedwing word, aangehoor sal word.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back