News

Die onmiddellike markreaksie op die bewerings wat deur die Verenigde State van Amerika (VSA) se Ambassadeur in Suid-Afrika gemaak is wat verband hou met Suid-Afrika wat wapens aan Rusland verskaf het, was die dramatiese daling van die rand teenoor die dollar wat aandui hoe ernstig die internasionale markte hierdie bewerings opneem.

Vinpro en WoSA ​​glo die regering se reaksie is totaal onbevredigend en bring geweldige onsekerheid mee wat ons ekonomie – wat tans gebukkend gaan onder die enorme impak van beurtkrag en wat na verwagting tot soveel as 2% van die BBP-groeivoorspelling sal krimp – nog verder onder druk sal plaas. Iets wat Suid-Afrika en veral die wynbedryf nie nou kan bekostig nie.

Suid-Afrika is die negende grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra jaarliks meer as R55 miljard tot die land se BBP by en neem 269 069 mense in diens regoor die waardeketting, waarvan 80 173 op plase en in kelders werk.

Hierdie bewerings, indien waar, sal ‘n beduidende negatiewe impak op die ekonomie hê, en mag ons ​​handelsbetrekkinge in gevaar stel, veral ons voortgesette toegang tot Amerikaanse markte wat geskep is onder die Africa Growth Opportunity Act (AGOA) wat ons broodnodig het en binnekort vir ’n verdere tydperk heronderhandel word.

Vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf is wynuitvoere ’n broodnodige lewensaar. Suid-Afrika voer jaarliks R10,5 miljard se wyn na 125 lande wêreldwyd uit en die VSA is een van Suid-Afrika se top 5 uitvoerlande met ’n uitvoerwaarde van R800 miljoen in 2022. Dit is egter nie slegs die waarde van die AGOA-ooreenkoms van R57 miljoen se voordeel wat ons tans het wat negatief benadeel kan word nie. Hierdie beweringe kan ʼn wesenlike risiko inhou vir die wynbedryf in terme van toerisme, voortgesette wynuitvoere én ons reputasie as geloofwaardige rolspeler in die internasionale handelsomgewing.

Vinpro en Wosa doen ʼn ernstige beroep op die President Ramaphosa en die regering om onmiddellik en daadwerklik op te tree om te verseker dat hierdie aantygings nie verdere momentum opbou nie, maar indringend ondersoek en afgehandel word om sodoende Suid-Afrika, insluitende die wynbedryf, en ons ekonomiese belange ten alle koste te beskerm.

 

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

 

Go Back