News

Uitnemende wyne begin in die wingerd. Vititec verseker sedert 1963 dat wynliefhebbers oor geslagte heen ʼn glasie op selfs méér uitnemende wyne klink, deur wyndruifstokkies op ʼn vindingryke, toekomsgerigte manier te verbeter en vermeerder.

Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, dr Ivan Meyer, het besoek afgelê by hierdie toonaangewende verskaffer van wingerdplantmateriaal aan Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente en -kwekers om meer oor Vititec se baanbrekerswerk te leer.

“Wyn en wingerde is deel van die Wes-Kaap en Suid-Afrika se karakter en historiese erfenis. Ek glo daarin dat mens jou verlede moet eer, maar deurlopend toekomsgerig moet wees. Vititec leef hierdie leuse uit, soos gesien kan word aan hul doelgerigte toekomsplanne en strewe na groter doeltreffendheid,” sê dr Meyer. “Ek was ook gedurende die toer van Vititec se fasiliteite beïndruk deur die passie, toegewydheid, bekwaamheid en strewe na uitnemendheid van elkeen wat hier werksaam is.”

Vititec, ʼn filiaal van die wynbedryfliggaam Vinpro, voorsien meer as 90% van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se bostokplantmateriaal aan kwekers en wyndruifprodusente. Saam met die voorsiening van onderstokke en geënte wingerdstokke help Vititec om in die plaaslike wynbedryf se vervangingsbehoefte van 7 tot 8 miljoen virusvrye wingerdstokke per jaar te voorsien. Die maatskappy is in die Paarl gebaseer, met persele in Vredendal en Stellenbosch en ses kwekerypersele in die Clanwilliam- en Piketberg-areas.

Vititec vervul ook ʼn onontbeerlike rol in terme van die invoer en virusreiniging van wingerdplantmateriaal en is die bewaarders van ʼn genepoel van bykans alle wyndruifkultivars en -klone wat al ooit in Suid-Afrika verbou is. Hiermee saam reinig en vermeerder hulle ook ʼn versameling plantmateriaal vir die verbouing van tafel- en droogdruiwe.

Vititec-bestuurshoof André van Wyk wys geënte stokke reg vir plant aan Minister Ivan Meyer.

“Gedurende Covid-19 is ons, net soos ander wynverwante ondernemings, genoop om vernuwend te dink oor ons manier van doen,” sê Vititec-bestuurshoof André van Wyk. “Ons moes voorbly en aanpas om te verseker dat ons voortdurend topgehalte, bekostigbare plantmateriaal aan die wynbedryf kan voorsien.”

Selfs belangriker, wil Vititec deurlopend verseker dat die plantverbeteringskant van die besigheid op ʼn volhoubare manier bly voortbestaan – ʼn gratis diens wat nie deur die bedryf befonds word nie, maar deur hul eie stokkieverkope. “ʼn Befondsingsmodel sal vorentoe oorweeg moet word waardeur wyndruif- en wynprodusente help om hierdie belangrike bate vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf te beskerm.”

Vititec het oor die afgelope paar jaar aanpassings gemaak wat hul energieverbruik, produktiwiteit en koste-effektiwiteit heelwat verbeter. Die maatskappy beproef ook alternatiewe plantvermeerderingspraktyke wat risiko’s beperk en doeltreffendheid ontsluit.

Energievriendelike kallus

Nadat wyndruifstokkies geënt is, word dit tradisioneel in kratte met ʼn vermikuliet- en saagsel-groeimedium gepak en in groot warmkallustonnels geberg waar die bo- en onderstokke onder hittetoestande kans kry om te heg. Hierdie tonnels verg hoë energieverbruik om die nodige hitte vir warmkallus te handhaaf.

“Ons kon ons energieverbruik en kostes drasties verlaag en die aantal stokkies wat ons op een slag kan kallus heelwat verhoog,” vertel André. Dit is gedoen deur die vermikuliet met ʼn suiwer klam saagselmengsel te vervang. Die geënte stokkies word dan in mikrogeperforeerde plastieksakke in kratte geplaas, wat ʼn natuurlike verwarmde omgewing skep. Hierdie kratte staan dan in kleiner kalluskamers onder lugversorgers wat minder elektrisiteit verbruik.

Die nuwe manier waarop die span die entmateriaal verpak, verhoog produktiwiteit, en André voorsien dat klein veranderinge aan personeel en toerusting hulle vorentoe in staat sal stel om selfs tot 20% meer stokkies per dag te ent. “Hoe meer stokkies ons ent, hoe minder is on eenheidkoste, wat voordelig is vir ons kliënte. Só maak dit ons hande los om ander waardevolle dienste aan die bedryf te lewer,” sê André.

Alternatiewe verbouing

Vititec poog om die bedryf teen moontlike risiko’s te buffer, onder andere, deur die span se praktiese kundigheid rondom alternatiewe wyndruifverbouingsmetodes op te skerp. “Klimaatsverandering gaan verskeie uitdagings inhou, en hoe onwerklik dit ook al mag klink, kan grondoordraagbare siektes ons selfs verhoed om kwekerystokkies direk in die grond te verbou,” sê André.

Sy span het tot dusver hoofsaaklik die kartonage-metode – die verbouing van geënte wingerdstokke in klein potjies of bio-afbreekbare sakkies – gebruik om eenjaar-oue stokkies groot te maak wat produsente as plaasvervanger vir swakker groeiende stokkies kan aanwend. “Kartonage-verbouing kan egter vorentoe heelwat ander voordele inhou. Ek raai graag wyndruifprodusente en -kwekers aan om vertroud te raak met hierdie verbouingsmetode,” sê André.

Vititec beproef ook nou alternatiewe metodes om die hoofbron van hul skoon, virusvrye wingerdstokkies te verbou. Meer as 1 100 ha grondves- en moederblokke, wat as bron vir bo- en onderstokke dien, word wydverspreid oor verskeie kommersiële plase verbou. Vititec stel tans netstrukture by die Paarl-perseel op om te sien hoe wingerdstokkies wat vir vermeerderingsdoeleindes gekweek word, onder hierdie beheerde omstandighede in potte en met opleistelsels vaar. “Indien ons goeie resultate hieruit verkry, is ons in staat om eksponensieel meer wingerdstokkies op ʼn fraksie van die oppervlak en binne beter reikwydte te verbou wat heelwat kostebesparings meebring,” sê André.

Dink vooruit

Met die oog op klimaatsverandering is Vititec reeds vir ʼn geruime tyd proaktief daarby betrokke om droogte- of siekteweerstandbiedende wyndruifkultivars en -klone te identifiseer, in te voer, van skadelike virusse te reinig en aan die bedryf beskikbaar te stel. Van hierdie kultivars sluit Assyrtiko, Artaban en Vidoc in.

Vititec voer ook deurlopend ander belowende kultivars soos Marselan en Arinarnoa in. Dit kan nuwe wynstyle aan die mark bekendstel of aanvullend gebruik word tot bestaande versnitte. “Ons ondersteun en werk ook nou saam met ander bedryfsrolspelers aan projekte soos die Old Vine Project, die Gen-Z Vineyard Project en Heritage Chenin Blanc. Elkeen van hierdie projekte is eiesoortig, maar die goue draad bly die behoud en uitbouing van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se genepoel tot voordeel vir geslagte vorentoe,” sê André.

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back