News

Maak seker jou SEB-vennootskap is in lyn met die wetlike interpretasies wat die SEB-kommissaris beskikbaar stel deur hierdie slaggate te vermy, sê Phil Bowes, bestuurder van ondernemingsontwikkeling by die wynbedryfliggaam Vinpro.

Die kommissaris van breëbasis swart ekonomiese bemagtiging (B-BSEB), Zodwa Ntuli, het in Oktober verlede jaar meer as 800 Suid-Afrikaanse ondernemings aan die kaak gestel wat sedert 2016 weens moontlike fronting gerapporteer is. Dit word as fronting beskou as sakeondernemings doelbewus die B-BSEB wetgewing en -kodes omseil of probeer omseil.

Doelbewuste fronting is natuurlik ʼn oneerlike praktyk wat streng nagevolge inhou (boetes van tot 10% van die jaarlikse omset of tot 10 jaar tronkstraf), en die erns waarmee die SEB-kommissaris haarself daartoe verbind het om dit te vervolg, behoort enige onderneming te laat regop sit.

Namate meer skuiwergate ontdek word vir ondernemings om steeds hierdie praktyk te beoefen, verander die interpretasie van bestaande wetgewing deurlopend. Die kommissaris het sedert 2013 die mandaat om haar interpretasie van die wetgewing te formuleer en implementeer. Sakeondernemings moet hulself dus slegs met haar interpretasies belyn.

Die vinnige evolusie van interpretasies van huidige SEB-riglyne en verwante beleide om fronting te voorkom en transformasie te versnel, lei egter daartoe dat heelwat besigheidsmodelle moontlik binnekort nie meer hul SEB-status binne die wetgewing sal kan verdedig nie.

Potensiële slaggate

Maak dus seker dat jy potensiële slaggate soos hier onder verhoed, sou die wetgewing vorentoe verander.

Heelwat swart werknemers vorm deel van aandeelhouer-inisiatiewe wat ʼn geruime tyd gelede gestig is met die oog daarop om regeringsbefondsing te ontvang, maar wat intussen nie gerealiseer het nie, deels vanweë beleidsveranderinge. Hierdie is soms ondernemings slegs in naam en nie in praktyk nie.

Kommersiële besighede kry erkenning op die SEB-telkaart wanneer hulle dienste of goedere van SEB-ondernemings verkry. Histories-benadeelde diensverskaffers sien soms ʼn geleentheid raak om klaar goedere soos keldertoerusting of bestanddele soos gis vir wynbereiding in te voer en dan weer te verkoop aan bestaande entiteite. Die waarde van hierdie ingevoerde produkte is egter dikwels hoog, en die SEB-tussenganger (waar van toepassing) se winsmarge word nie hoog genoeg geag deur die kommissaris vir ʼn kommersiële besigheid om erkenning te kry wanneer hy sulke goedere by ʼn SEB-invoerder aankoop nie. In hierdie gevalle word ondernemings aangeraai om slegs die winsmarge aan te dui op die voorkeurverskaffersverklaring wat hulle as deel van hul telkaart indien, pleks van die volle omset van die transaksies.

Herevalueer en wees deursigtig

In kort dus, evalueer die terme van verskaffer-ooreenkomste, gedeelde belange, die vloei van voordele en die besluitnemingsmagte van jou handelsvennote noukeurig en wees self ook deursigtig oor jou besigheidspraktyke om vertroue te versterk. Kommersiële maatskappye wat veral op die verskaffer- en ondernemingsontwikkeling element op die SEB-telkaart fokus, moet behoedsaam wees oor hoe hulle hul invoeragente ondersteun, asook die besonderhede van werknemer-aandeleskemas en tussengangers wat nie die aard van hul produkte verander nie.

Dis uiters belangrik vir enige nuwe toetreder om vertroud te wees met konsepte binne die SEB-wet soos “redelike en waarskynlike hulpbronne” tot jou beskikking, asook die vermyding van “opportunistiese tussengang” as jy die risiko rondom fronting wil vermy. Wees bewus van hierdie beginsels om vervolging vorentoe te verhoed, maar moet ook nie dat dit jou daarvan afskrik om wel transformasie-vennootskappe te sluit nie. Die waarde daarvan weeg heelwat meer as die bietjie moeite om dinge op die regte manier te doen. Bowenal, skoei handelsooreenkomste op wedersydse doelwitte en wees deursigtig in die bereiking daarvan.

Vir verdere inligting, kontak:

Phil Bowes
Vinpro-bestuurder Ondernemingsontwikkeling
Tel: 021 276 0429
E-pos: phil@vinpro.co.za
Web: www.vinpro.co.za

 

Go Back