Die 2015 Suid-Afrikaanse wyndruifoes lyk belowend en plaaslike wynverkope is die hoogste in 20 jaar. Uitvoere en winsgewendheid van wynprodusente en kelders bly egter – uitdaging.
Dít aldus Rico Basson, uitvoerende direkteur van VinPro, die verteenwoordigende organisasie vir nagenoeg 3 500 Suid-Afrikaanse wynprodusente en kelders. Hy het gister by De Grendel Wynlandgoed buite Kaapstad aan ’n mediageleentheid van die Minister van Ekonomiese Geleenthede in die Wes-Kaap, Alan Winde, deelgeneem, waartydens ’n oorsig oor die wyn- en vrugtebedrywe gegee is.
Hierdie is die derde agtereenvolgende seisoen waarin die Suid-Afrikaanse wynbedryf ’n groot wynoes realiseer. Alhoewel dit ietwat kleiner (nagenoeg 3%) sal wees as die rekordoes in 2014, is wynmakers en wingerdboukundiges vol lof vir die uitsonderlike gehalte van die 2015 wyndruifoes, regoor die kultivarspektrum.
Teen die einde van Maart behoort die totale wyndruifoes in kelders te wees. Die oes het twee weke vroeër as normaal afgeskop, deels vanweë – warmer Augustus, gevolg deur – baie droë en warm somer wat rypwording versnel het.
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf oes gemiddeld nagenoeg 1.5 miljoen ton wyndruiwe, waarvan sowat 900 miljoen liter natuurlike wyn geproduseer word. Uitvoere verteenwoordig 55% van natuurlike wynverkope, teenoor 45% plaaslike verkope.
Aan die einde van 2014 was die volume plaaslike wynverkope die hoogste in 20 jaar. Die 353 miljoen liter natuurlike wynverkope verteenwoordig 7.3% groei teenoor 2013. Dit is grootliks gedryf deur wyn in tapvate (17.4%), wat nagenoeg 29% van totale plaaslike verkope opneem. Wynverkope in 750 ml glasbottels, wat 30% van die plaaslike mark verteenwoordig, het met 11% gestyg.
“Ons is opgewonde oor die goeie groei in plaaslike wynverkope. Faktore wat hiertoe bygedra het, sluit ’n sterk fokus op wyntoerisme in die Wes-Kaap, bemarkingsbelyning oor die afgelope paar jaar, asook ’n neiging van die groeiende middelklas na handelsmerkprodukte in,” het Basson vertel.
Die uitvoermark bly uitdagend, met EU-lande wat Suid-Afrika se grootste uitvoermark is. “Die nagevolge van die resessie en surplus produk in sekere kategorieë het steeds ’n effek op verkope in hierdie lande. Ons sien egter stabiele groei in die VK,” het Basson bygevoeg.
Wynuitvoere na China het sterk toegeneem van 5.7 miljoen liter in 2013 na net meer as 8.7 miljoen liter aan die einde van 2014, waarvan die meerderheid in verpakkings uitgevoer is. Afrika is ook – sleutel-area vir groei in wynuitvoere en – toename in infrastruktuur-belegging sal marktoegang vorentoe verbeter.
Volgens Basson versterk die hoë gehalte van vanjaar se oes die wynbedryf se fokus op die bevordering van premie verpakte wyne. Die verhouding van wyn in grootmaat teenoor verpak is tans 60:40, waarvan – gedeelte van die wyn wat in grootmaat uitgevoer word, oorsee gebotteleer word. “- Groep rolspelers in die bedryf is besig met – strategiese inisiatief om, deur die aansporing wat uit – Ekonomiese Handelsooreenkoms (EPA) met die EU sal spruit, bottelering terug te bring na Suid-Afrika. Dit sal ekonomiese waarde toevoeg en werkskepping bevorder,” het Basson gesê.
“Die groei in plaaslike verkope en belowende wynoes is definitief iets om te vier. Die bedryf en sy produsente en kelders se winsgewendheid bly egter steeds ’n uitdaging,” het Basson gemaan.
Hy het bygevoeg dat die Suid-Afrikaans wynbedryf besig was met ’n Wynbedryf Strategiese Oefening (Wise), wat tot inisiatiewe sal lei om hierdie en ander uitdagings aan te spreek en gapings in die waardeketting toe te maak. “’n Gesamentlike benadering met alle belanghebbers, insluitend noue vennootskap met die regering, sal van kritiese belang wees om sukses hiermee te bereik,” het hy gesê.
Basson het ook die belangrikheid van etiese handel in die wynbedryf benadruk. Altesaam 60% van alle Fairtrade-geakkrediteerde wyne wat in die wêreld verkoop word, kom van Suid-Afrika. Wieta (SA Landbou Etiese Handelsinisiatief), het tans sowat 1 300 wynprodusente- en kelderlede, met ’n sterk groei in akkreditasievolumes na die huidige 26% van die totale wyndruifoes (nagenoeg 400 000) wat eties geakkrediteer is. “Deur hierdie en ander etiese handelsakkreditasies maak die wynbedryf seker dat werkstoestande soos gestipuleer in arbeidswetgewing nagekom en oortref word,” het hy bygevoeg.
Basson het Minister Winde bedank vir die Wes-Kaapse Departement van Landbou se tweede agtereenvolgende jaarlikse bydrae van R1 miljoen aan Wieta vir etiese handelsinisiatiewe.
Vir navrae, kontak Jana Loots, 021 276 0429, jana@vinpro.co.za.
,168
