News

Ondernemingsontwikkeling, transformasie, werkskepping en sosio-ekonomiese ontwikkeling sal volg nadat die Brandvleidam-infrastruktuurprojek naby Worcester onlangs voltooi is.

Die verbeterings in die opvanggebied-infrastruktuur vir die Brandvleidam-projek, wat die eerste keer in 2008 geïdentifiseer is, het tot stand gekom nadat ‘n oproep om aansoeke vir infrastruktuurfinansiering van die regering deur belanghebbendes gehoor is. Die opvanggebiedbestuursowerhede het erken dat die Brandvleidam weg van die kanaal was, en water is van die Smalblaarrivier na die Holslootrivier herlei. Vanaf die Holslootrivier is ‘n toevoerkanaal tussen die keerwal en die muur van die Brandvleidam gebou, maar hierdie toevoerkanaal kon die dam net tot 73% van kapasiteit vul. Die verhoging van die kanaalmuur met 30 cm oor 4 km, sou waterkapasiteit met 33 miljoen kubieke meter vergroot – ’n 15% toename. Die belanghebbendes het dus aangevoer dat die toevoerkanaal as deel van die regering se Strategiese Infrastruktuurprogram vergroot moet word.

Volgens die Wynbedryf Strategiese Oefening (WISE) in 2014 kon infrastruktuur veranderinge die Brandvleidamskema toelaat om 4 000 ha met bykomende water te voorsien. Dit sou ‘n deurslaggewende deel van die wynbedryf se visie vir inklusiewe wingerdproduksie vorm.

Vinpro, die verteenwoordigende liggaam van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, is genooi om deel te vorm van ‘n inter-regeringsbestuurskomitee, verteenwoordig deur 17 staatsdepartemente en relevante belanghebbendes in die bedryf, wat in 2015 gestig is onder voorsitterskap van die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WCDoA). Hierdie bestuurskomitee het die projek stukrag verleen deur die nodige ekonomiese ontledings te doen en die 17 staatsdepartemente aan te vuur om dit af te handel.

“Die projek het weens verskeie redes weerstand gekry. Deur ons verteenwoordiging op die Tuinbou-werkstroom van die Landbou- en Agri-prosesseringsmeesterplan (AAMP) het Vinpro in 2020/21 verseker dat hierdie as ‘n hoë prioriteit, hoë impak projek geposisioneer is,” sê Paiter Botha, bestuurder van voldoening en spesiale projekte by Vinpro. “Die hoë prioriteit van hierdie projek vir die Vinpro-direksie blyk duidelik uit die feit dat ‘n toegewyde Vinpro-direksietaakspan gestig is om die proses vanuit ‘n transformasie-perspektief te help dryf én die projek se posisionering deur die hulpbronne-werkstroom van die Wine Industry Value Chain Round Table (WIVCRT) onder voorsitterskap van Vinpro.

 

“Ons is so trots en dankbaar dat ons deel was van hierdie wonderlike inisiatief wat in Februarie vanjaar geopen het,” sê Botha. “Die verhoging van die Brandvleidam se kanaalmuur is fantastiese nuus vir die wyn- en ander landbousubsektore. Dit sal die broodnodige watertoewysing aanspreek vir hervorming, transformasie, werkskepping en sosio-ekonomiese ontwikkeling binne een van ons grootste wynboustreke.

 

“Ons wil graag die Wes-Kaapse departement van landbou bedank, veral Dr Dirk Troskie, voorsitter van die inter-regeringsbestuurskomitee wat die begroting van R21 miljoen gedryf het en bykomende besproeiing vir 4 400 ha geskep het. Die konstruksiefase het ook 32 plaaslike werksgeleenthede geskep. Groot dank gaan ook uit aan die Nasionale Minister van water en sanitasie, Minister Senzo Mchunu, sy waarnemende DG, Dr Sean Phillips, en die span van Construction South wat die werk voltooi het,” sê Botha.

’n Fase wat fokus op aansoeke en evaluering van waterlisensies is van stapel gestuur en die tweede oproep vir wateraansoeke is deur die Breede Gouritz-opvanggebied­bestuursagentskap gepubliseer. Die oproep vir aansoeke sal tot 30 Junie 2023 van krag wees.

 

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

 

Go Back