Die Suid-Afrikaanse wynbedryfliggaam, Vinpro, het Wilhelm Lategan van Bergsig Landgoed en Dave Hooper van Edward Snell & Co. as erelede ingehuldig vir hul bydrae tot die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf.
Dave het in 2015 ʼn strategiese groeiplan vir die brandewynbedryf voorgestel wat ʼn wesenlike impak op brandewyn en brandewynverkope asook die beeld daarvan gehad het. Deel hiervan was sy voorstelle vir ʼn inklusiewe en bevoegde bedryfsliggaam, eenvoudige verbruikersvriendelike definisies vir kategorie-segmente, effektiewe beeldbou en ʼn behoorlike evaluasie van uitvoergeleenthede wat brandewyn in Suid-Afrika, eerder as spesifieke handelsmerke, vooropgestel het.
Hieruit spruit die Kaapse Brandewyndistilleerdersgilde, Cape Brandy – die eerste treë in ʼn 50 jaar lange reis tot waar Suid-Afrikaanse brandewyn vandag op wêreldverhoë pryk as die beste ter wêreld.
“Dave het met sy strategiese insette, voorspraak en leierskap in die brandewynbedryf ook die wynbedryf opgebou en verryk,” sê Anton Smuts, Vinpro voorsitter. “Hy het waarlik die cool teruggesit in brandewyn en dit byderwets en modern gemaak.”
Wilhelm Lategan, alias Prop, is in hart en siel ʼn wynboer, wingerdboer en brandewynliefhebber. Hy is een van die eerste produsente in die Goudini- en Worcester-area – gekenmerk deur groot koöperatiewe wynkelders wat druiwe van produsente ingeneem, verwerk en verkoop het – wat reeds in 1978 gebotteleerde wyn onder sy eie etiket verkoop het nadat Bergsig as landgoed geregistreer is. Sy visionêre leierskap het baie ander oorreed om dieselfde te doen.
Prop is ʼn innoveerder en wetenskap en tegnologie het hom nog altyd ná aan die hart gelê. Hy is ook ʼn leier in wingerdbou, veral in bemesting en opleistelsels, en het saam met wyle Pietman Hugo gehelp om Worcester te omskep in ’n wynstreek wat wêreldklas wyne en brandewyne oplewer.
“Daar is min mense in die bedryf met so ʼn breë kennis van die bedryf soos Oom Prop,” sê Anton. “Hy het hierdie bedryf bedien, bemark en bemin. As geesdriftige ambassadeur, baanbreker en mentor het hy die bedryf in alle opsigte ʼn beter bedryf gemaak.”
Vinpro vereer sedert 2017 jaarliks in November mense wat ʼn wesenlike bydrae tot die organisasie en die Suid-Afrikaanse wynbedryf as geheel gemaak het. “Deur die Vinpro-erelidmaatskap aan Wilhelm en Dave toe te ken, sê ons dankie vir hul bydraes tot die welvaart en volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf,” sê Anton.
Vorige baanbrekers wat deur Vinpro as erelede ingehuldig is, sluit in Danie de Wet van De Wetshof, Pieter Hugo van Hugoskraal, Johann Krige van Kanonkop en Bowen Botha van Robertson Wynkelder in onderskeidelik 2017, 2018, 2019 en 2020.
MEDIA ENQUIRIES:
Wanda Augustyn
Vinpro Communications Manager
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za
