News

Meer as drie eeue gelede het die soel somer-sonskyndae vir ons ʼn geskenk van onskatbare waarde gelaat. Dit sou later die trotse Suid-Afrikaanse (SA) wynbedryf word – wêreldwyd gerespekteer en hooggeag. Op 2 Februarie 1659 het Jan van Riebeeck, destydse kommandeur aan die Kaap, die volgende eenvoudige sinnetjie in sy dagboek opgeteken: “Heeden is Goode loff van die Caepse druyven d’eerste mael wijn geparst.” Rofweg vertaal beteken dit: “Vandag, eer aan God, is wyn vir die eerste keer van Kaapse druiwe gepars.” Die res, soos ons weet, is geskiedenis.

Die verjaarsdagviering van SA wyn word in Kaapstad van stapel gestuur

Dit is dan ook gepas dat die SA wynbedryf se verjaarsdag nou elke jaar op 2 Februarie gevier word met die tema #HappyBirthdaySAWine. Die hoeksteen van dié feestelike herdenking staan as die Wynoesherdenkingsgeleentheid bekend. Dit vind jaarliks op Groot Constantia-landgoed, in Kaapstad, plaas. Een van die hoogtepunte is die vra van die seën op die nuwe seisoen se druiwe-oes. By die geleentheid vereer die wynbedryf ook baanbrekers vir hulle uitnemende en blywende bydraes tot die uitbou van die bedryf.

Volgens dr Ernest Messina, voorsitter van die Groot Constantia Trust, is dit baie belangrik dat mense erkenning vir hul leierskap en visie ontvang. Dr Messina, ʼn man wat self diep spore in akademiese en sakekringe getrap het, verduidelik: “Dit is vir ons van groot belang om sterk tradisies, soos om die seën op die oes te vra, te bou. Eweneens is dit belangrik om diegene wat die SA wynbedryf op ʼn inklusiewe manier na nuwe vlakke van uitnemendheid lei, te vereer. Die visioenêre leierskap van hierdie besonderse individue is van kardinale belang vir die volhoubaarheid en groei van die bedryf. Hulle baan die weg vir toekomstige generasies om hulle talente, en hulle passie vir en toegewydheid aan wyn te ontsluit, en skep sodoende ʼn unieke erfenis waarop Suid-Afrika trots sal wees.”

Wens SA wyn saam met die res van die wêreld ’n gelukkige 364ste verjaarsdag toe!

 

 

 

Go Back