News

SA WYN PADKAART

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is in die proses om ’n nuwe strategiese raamwerk te formuleer wat beoog om mededingendheid en samewerking te verbeter deur onder andere meer gefokusde kommunikasie en ’n industrie-wye regulatoriese struktuur.

Tegnologie onder die vergrootglas

Strukture vir tegnologiese navorsing en oordrag het die wynbedryf tot dusver goed gedien, maar ’n transformasie is in die pyplyn vir dié sleutelaspek van die wynbedryf strategiese plan vorentoe.

Dít volgens ’n operasionele oorsig van Winetech – die wynbedryf se besigheidseenheid getaak met die befondsing en koördinering van navorsing, opleiding en tegnologie-oordrag in die wynbedryf – wat sopas voltooi is. Die bevindinge van die verslag bied spesifiek waardevolle insette met die oog op die wynbedryf strategiese raamwerk se werkstroom gemoeid met die verhoging van effektiwiteit deur tegnologiese innovering en oordrag.

Die komitees van ses onderskeie werkstrome (sien grafika onder) het einde Julie vergader, waartydens terugvoer gegee is oor die uitbou van voorgestelde aksieplanne Volgens Rico Basson, besturende direkteur van VinPro, wat die proses inisieer het, word taakspanne vir die onderskeie projekte wat uit die werkstrome vloei – onder andere wyntoerisme en binnelandse generiese bemarking – in die volgende paar maande verder uitgebrei.

Die Winetech-oorsig, wat oor vier maande deur ’n onafhanklike konsultant uitgevoer is, rapporteer dat die eenheid tot dusver goed presteer het. “Die tyd het egter aangebreek vir ’n noodsaaklike transformasie om te verseker dat Winetech aanpas by die eksterne druk wat vinnig veranderende sosio-ekonomiese toestande, toenemende internasionale mededinging, ontwrigtende markkragte en veranderende verbruikersverwagtiginge op sy belanghebbers toepas,” lees die verslag.

Verskeie leemtes is geïdentifiseer en die verslag stel voor dat dit aangespreek word deur die aanpassing van die bestaande besigheidsmodel, strukture, kapasiteit en funksionering.

Winetech word spesifiek aangeraai om obsessief te raak oor tegnologie-oordrag deur die prioritisering en toepassing van die mees gepaste strukture; sy mandaat en besigheidsmodel op te dateer; en ’n effektiewe navorsingsbestuurstelsel te ontwikkel en implementeer deur bestaande navorsingsprogramme met die aangepaste besigheidsmodel en navorsingsportefeuljes te integreer. Kapasiteit en infrastruktuur moet deurlopend uitgebou, en praktyke en protokol verfyn word.

“’n Verhouding en netwerk met die regering en arbeidsgroeperinge sal onontbeerlik wees vorentoe,” sê Gerard Martin, uitvoerende bestuurder van Winetech.

“Tegnologiese innovering en die effektiewe oordrag van kennis en nuwe tegnologie is van kritiese belang om die mededingendheid van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te verhoog. Winetech neem sy rol hierin ernstig op en is in die proses om ’n plan van aksie te formuleer om die leemtes soos in die verslag geïdentifiseer aan te spreek en sodoende te verseker dat die bedryf op plaaslike en internasionale vlak hoogs mededingend bly. Die deurlopende identifisering van navorsingsbehoeftes en -prioriteite wat waarde tot bedryfsaktiwiteite sal voeg, bly in die konteks van die nuwe strategiese raamwerk van groot waarde,” voeg Martin by.

Werkstrome

1. Ekonomiese bemagtiging en ontwikkeling

2. Markontwikkeling en –bevordering

3. Sosiale ontwikkeling en opheffing

4. Kennis- en inligtingsontwikkeling

5. Menslike hulpbronontwikkeling en opleiding

6. Tegnologiese innovering en oordrag

“,121

Go Back