Die swaar reënval oor die afgelope paar dae in die Wes-Kaap het beide ’n positiewe en negatiewe impak op wingerde.
Neerslae oor die wynverbouingsgebiede in die Wes-Kaap het onder meer gewissel van 79 mm in die Paarl tot 28 mm buite Darling (sien grafiek vir reënverspreiding oor verskeie areas in die Wes-Kaap). Dié goeie neerslag kom na ʼn baie droë winter en lente wat tot laer grondwatervlakke as normaalweg gelei het.
“Produsente moes in die algemeen vroeër en meer gereeld besproei om aan wingerde se behoeftes te voorsien,” sê Conrad Schutte, Vinpro konsultasiediensbestuurder. “Die toename in frekwensie van beurtkrag het ʼn geweldige groot impak op besproeiingskedulering waar produsente veral in intensiewe besproeiingsareas nie genoeg kan besproei om aan die wingerd se behoeftes te voldoen nie. Die huidige groeifase van die wingerd behels selverdeling in korrels en enige stres, veral waterstres, sal ʼn negatiewe impak daarop hê. Dit bring kleiner korrelgroottes mee met gepaardgaande verlaging in die totale tonne per hektaar verhaal.
“Die reën wat die afgelope paar dae geval het, is uiters welkom om veral grondwatervlakke aan te vul, druk op besproeiingskedulering te verlig en korrelgroei én oesgrootte aan te help. Damvlakke sal ook na die goeie neerval styg, wat gunstig is vir besproeiing gedurende die res van die seisoen.”
Die swaar reën verhoog egter ook die risiko’s van produksie, veral die voorkoms van swamsiektes weens die verhoogde teenwoordigheid van vry-water, asook die hoër humiditeit en temperatuur.
“Die afgelope paar dae se weerstoestande met reënbuie gevolg deur warm, vogtige toestande was gunstig vir die primêre en sekondêre infeksie van veral witroes en donsskimmel op wingerde,” sê Schutte. “Produsente volg meestal voorkomende swamspuitprogramme en behoort na die reëns weer opvolgspuite te doen sodra hulle weer toegang tot die wingerd kan kry. Die risiko van infeksie saam met die opdroog van korrels en trosse het egter verhoog en die uitwerking hiervan en die effektiwiteit van spuitprogramme sal eers oor ʼn paar weke geëvalueer kan word.”
Lukrake haelbuie in Paarl, Worcester en Robertson het tot sporadiese skade gelei met gevalle waar wingerdblare en trosse beskadig is, maar dit is steeds vroeg in die groeiseisoen. Beskadigde korrels op trosse behoort op te droog indien dit effektief behandel word, met minimale negatiewe uitwerking op die totale oesgrootte. Skade aan wingerdpaaie, infrastruktuur en geboue word tans ondersoek en bepaal.
“Die reën sal wingerde se vegetatiewe groei stimuleer waar dit nog aktief groei,” sê Schutte. “In hierdie gevalle moet lowerbestuurpraktyke toegepas word om lootgroei te beperk. Vrugsones kan met blaarbreekaksies oopgemaak word vir effektiewe beligting en lugbeweging. Dít sal voordelig wees vir rypwording én die beheer van swamsiektes.”
MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za