Wynliefhebbers van regoor die wêreld kan na voortreflike wyne uitsien van ’n heelwat koeler en kleiner 2023 wyndruifseisoen in Suid-Afrika. Dít volgens die jaarlikse Suid-Afrikaanse Wynoesverslag 2023.
Die 2023-wyndruifoes word op 1 180 093 ton beraam volgens die nuutste oesberaming deur die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels) op 12 Mei 2023. Dit is 14.2% kleiner as die 2022-oes.
“In vergelyking met ander seisoene, stem die 2023-oes baie ooreen met vorige koeler seisoene, soos 2014, 2015, 2018, 2019 en 2021,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfsliggaam Vinpro. “Dit vergelyk veral met die kombinasie van die koue en natter toestande van 2014 en 2019. In terme van volume, mag 2023 een van die kleinste oeste in meer as ’n dekade wees.”
LAAI PDF AF: SA Wynoesverslag 2023
2022/23-groeiseisoen
Wintertemperature was meestal warmer oor al die wynproduserende streke en die reënval was noemenswaardig minder met die uitsondering van die Noord-Kaap (tradisioneel ’n somerreënvalgebied). Gemiddelde koue-eenhede en minder sneeuneerslae as die vorige seisoen het op bergpieke voorgekom. Dit was egter steeds genoeg om aan wingerde se kouebehoeftes te voldoen.
“Die meestal warmer lente en droë grondtoestande het daartoe gelei dat
fisiologiese prosesse in die wingerd vroeër aktief geraak het,” sê Schutte. “Bot het oor die algemeen 7 – 10 dae vroeër as normaal plaasgevind. Die egaligheid van bot was bevredigend, maar vir sekere kultivars soos Chardonnay was die bot ongelyk in party areas.”
Die meeste wingerde was gedurende blomtyd steeds ietwat vroeër as normaal. Verskille het voorgekom in die set van kultivars. Hierdie tendens kan moontlik toegeskryf word aan optimale omgewingstemperature vir fotosintese met voldoende water wat tot vinnige vegetatiewe groei gelei het. Laasgenoemde kon met blom/set kompeteer en later kultivars soos Cabernet Sauvignon was ligter geset in sekere streke.
In die tweede week van Desember het ’n noemenswaardige verandering in die seisoen plaasgevind. Harde reënbuie het groot verligting tot die meestal warm en droë seisoen gebring. Hierdie welkome reën het druk verlig op besproeiingskedulering, aangesien grondwatervlakke laer as normaal was. Dit het ook druk verlig omdat produsente weens beurtkrag nie besproeiingskedulering behoorlik kon toepas nie. Saam met die reën, was daar sporadiese en beperkte haelskade in Paarl, Worcester en Robertson. Swamsiektedruk, veral van witroes en donsskimmel, is ook verhoog deur die nat toestande en produsente moes spuitprogramme daarvolgens aanpas. Skade het ook voorgekom aan paaie en ander infrastruktuur wat herstel moes word.
Deurslaan het dieselfde patroon as bot en set gevolg en was vroeër as die vorige seisoen. Hierdie vroeër tendens het die moontlikheid van ’n vroeër oes ingelei. Koeler toestande het egter rypwording vertraag en meeste wingerde is, soos gewoonlik, vroeg in Februarie begin pars. Kundiges was op hierdie stadium beïndruk deur druifontledings wat lae pH-vlakke en hoë organiese sure by ideale suikervlakke getoon het. Kleiner korrels gedryf deur die droë toestande gedurende die selverdelings- en vergrotingsperiode het druifkwaliteit bevoordeel en uitstekende geur-, sowel as kleurprofiele, is waargeneem.
Die bo-gemiddelde reënval einde Februarie en regdeur Maart het hierdie parsseisoen verdere uitdagings gebring. Weldeurdagte parsbesluite vir optimale druifkwaliteit en wynbereidingsmetodes vir die produksie van hoogstaande gehalte wyne was van kardinale belang. Wingerde wat regdeur die seisoen optimaal bestuur is, en produsente wat vinnige aanpassings aan bestuurspraktyke gemaak het gedurende hierdie uitdagende omstandighede, het bo-verwagting goeie kwaliteit verhaal.
Die netto afname in die skatting word hoofsaaklik aan wingerduitkappings in veral die Noord-Kaap, Olifantsrivier en Swartland toegeskryf. Verder het hoë siektedruk, veral witroes-infeksies en Botrytis in die Noord-Kaap, Olifantsrivier, Swartland, Paarl, Stellenbosch, Kaap Suidkus en Kaapstad veroorsaak, ook ’n negatiewe impak op die oesgrootte gemaak. Hittepieke in Desember en Januarie het veral in die Swartland, Worcester en Breedekloof sonbrand veroorsaak. Oor al die streke, veral die intensiewe besproeiingsgebiede, het die gebrek aan elektrisiteit om besproeiingspompe te laat werk ’n negatiewe impak op die oesgrootte gehad.
Uitstekende kwaliteit wyn
Die 2022/2023-seisoen sal onthou word vir die droë en warmer winter, oor die algemeen goeie groeitoestande gedurende die vegetatiewe groeifase, goeie reën kort voor deurslaan wat kwaliteit bevoordeel het, en ’n koel en
nat rypwordingsperiode wat druiwe kans gegee het om teen ’n stadiger tempo optimaal ryp te raak.
“Wynliefhebbers kan uitsien na wyn van hoogstaande gehalte uit hierdie seisoen,” sê Schutte. “Kleiner korrels gedryf deur die droë toestande gedurende die selverdelings- en vergrotingsperiode het druifkwaliteit bevoordeel om uitstekende geur- en kleurprofiele te lewer. Wingerdboukundiges en wynmakers is veral opgewonde oor voortreflike kleurontginning, lae pH-vlakke en hoë natuurlike sure in gevalle waar wingerde doeltreffend bestuur is, wat alles dui op uitsonderlike gehalte wyne.
Die 2023-wynoes – insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn – sal na raming 917.2 miljoen liter beloop, teen ’n verhaling van 777 liter per ton druiwe.
“Ten spyte van ’n uitdagende 2023-oes in alle opsigte vir ons wynmakers, is ons positief oor hierdie oesjaar en sien uit om uitstekende 2023-oesjaarwyne met ons verbruikers regoor die wêreld te deel,” sê Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WoSA). “Die vraag na Suid-Afrikaanse wyne het geweldig gegroei en ons verwag uitstekende kwaliteit van hierdie oesjaar, iets waarvoor ons nou reeds bekend geword het.”
Suid-Afrika is die negende grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra meer as R55 miljard tot die land se BBP by en neem 269 069 mense in diens regoor die waardeketting, waarvan 80 173 op plase en in kelders werk.
“Die wynbedryf se voorraadvlakke is tans in ekwilibrium – anders as tydens die Covid-19 pandemie, waartydens die wynbedryf nie toegelaat is om vir 200 dae handel te dryf nie en die voorraadvlakke toe op 650 miljoen liter gestaan het,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Met die kleiner oes, uitstekende kwaliteitwyne en die mark wat gedraai het van ’n kopers- na ’n verkopersmark, is die Suid-Afrikaanse wynbedryf reg vir besigheid.”
Oorsig van produksieareas
Breedekloof
Die jaar sal onthou word vir ’n pars van twee dele, besonder klein
korrelgroottes en probleme met beurtkrag op plaas- en keldervlak.
Kaap Suidkus
Vroeëseisoen wyne reflekteer ’n uitstekende oesjaar, terwyl die laatseisoen wyne die kundigheid en vernuf van die wynbereidingspanne ten toon stel.
Kaapstad
Die 2023-seisoen het die tafel gedek vir uitstekende, vars wynstyle en laer volumes weens natuurlike faktore in aanloop tot die oes.
Klein Karoo
’n Vroeë oesjaar met goeie druifkwaliteit en buitengewone hoë somerreënval.
Noord-Kaap
’n Uitdagende wyndruifseisoen het aanleiding gegee tot ’n opmerklik kleiner oes met ’n gepaardgaande toename in geurkonsentrasie en wynkwaliteit. Colombar se vooruitsigte lyk veral goed.
Olifantsrivier
Hierdie seisoen sal onthou word vir sy koel temperature, en nat en bedompige weer vanaf Desember. Watersekuriteit en energiebeskikbaarheid bepaal grootliks die streek se wyndruifoes.
Paarl
Die seisoen is geken aan ideale weerstoestande en die afwesigheid van erge hittegolwe. Die parstoestande was ook tot einde Februarie besonder gunstig en druifgehalte was uitstekend.
Robertson
Ondergemiddelde produksies word na ’n verdeelde parsseisoen gelewer. Ideale toestande het tot en met die eerste groot reënval in Maart geheers waartydens van die beste druifkwaliteit in dekades waargeneem is.
Stellenbosch
’n Koeler rypwordingstydperk sorg vir hoë kwaliteit wyn by vroeë kultivars. Laat kultivars was meer uitdagend, maar goeie bestuurspraktyke lewer hoë kwaliteit druiwe.
Swartland
Die seisoen is geken aan ideale, matige weerstoestande in die eerste deel van parstyd, met vroeë en middelslagkultivars wat optimale volrypheid teen laer suikers behaal het.
Worcester
’n Relatief droë winter en somer, en warmer groeiseisoen lei tot kleiner korrelgroottes by alle kultivars – ’n bepalende faktor vir die streek se kleiner oes.
UITGEREIK DEUR: Vinpro, SAWIS en WoSA
MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za
