News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf verwag voortreflike wyne van die 2021-wyndruifoes. (Fotokrediet: Simoné René Nel, Piekenierskloof Wyne).

Wynliefhebbers van regoor die wêreld kan vanjaar na voortreflike wyne uitsien van ʼn heelwat koeler en later 2021 wyndruifseisoen in Suid-Afrika. Dit volgens die jaarlikse Suid-Afrikaanse Wynoesverslag 2021.

“Dit wil voorkom of die wingerde werklik hul tyd geneem het om vanjaar se oes te berei,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam Vinpro. “Matige weer regdeur die seisoen, en veral gedurende parstyd, het daartoe gelei dat die druiwe stadiger ryp geword het, en daarmee saam ook uitsonderlike kleur en geure ontwikkel het.”

Die 2021 wyndruifoes word op 1 461 599 tonne beraam, volgens die nuutste oesskatting deur die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -Stelsels) op 19 Mei 2021. Dit is 8.9% groter as die 2020-oes.

LAAI DIE VOLLEDIGE SA WYNOESVERSLAG 2021 AF
KYK NA DIE VIDEO-OORSIG

Die oes het sowat twee weke later as gewoonlik afgeskop weens ongewone koel weerstoestande regdeur die seisoen, wat voortgeduur het in parstyd en daartoe gelei het dat sommige wyndruifprodusente hul laaste druiwe in Mei geoes het. Waterbronne is ook in die meeste gebiede aangevul na die onlangse droogte, wat tot goeie wingerdgroei, trosgetalle en korrelgroottes gelei het.

“Hierdie is algemene waarnemings, maar dit is belangrik om die diversiteit van die Suid-Afrikaanse wynbedryf oor die tien wyndruifverbouingstreke in ag te neem,” sê Conrad.

Voortreflike wyne

“Dit was beslis die moeite werd om vir vanjaar se laat en stadige oes te wag. Wynliefhebbers kan na voortreflike wyne van die 2021-oesjaar uitsien,” sê Conrad. “Die koeler weer het produsente in staat gestel om hul druiwe op presies die regte tyd te oes, en wingerdboukundiges en wynmakers is veral opgewonde oor goeie kleurontginning, lae pH-vlakke en hoë natuurlike sure in gevalle waar wingerde doeltreffend bestuur is, wat alles dui op uitsonderlike gehalte wyne.

Die 2021 wynoes – insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn – sal na raming 1 136.4 miljoen liter beloop, teen ʼn verhaling van 778 liter per ton druiwe.

“Ons is verheug dat die 2021-oes ʼn silwer randjie vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf is, wat ongetwyfeld ons internasionale posisie verder sal versterk,” sê Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WoSA). “Wat veral merkwaardig is, is die onwrikbare gehalte wat ons oor die afgelope paar jaar reeds sien. Dit sal beslis diegene wat dalk nog twyfel, oorhaal om ons wyne te koop, en daarmee saam ons algehele posisie teenoor ons internasionale mededingers versterk. Dit is ook baie belowend om te sien dat die volume en waarde van Suid-Afrika se wynuitvoere hoër is teenoor die jaar-op-jaar syfers in 2020 en 2019.”

Suid-Afrika is die negende grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra meer as R55 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en neem 269 069 mense in diens regoor die waardeketting, waarvan 80 183 op plase en in kelders werk.

Vind ʼn balans

Wisselvallige beperkings op die uitvoer en plaaslike verkope van drank in Suid-Afrika van Maart 2020 tot Februarie 2021, as deel van die land se nasionale ramptoestand, het daartoe gelei dat die wynbedryf nagenoeg 650 miljoen liter wyn in voorraad gehad het teen die einde van 2020, waarvan ʼn groot gedeelte nie op daardie stadium gekontrakteer was nie.

“Met so baie voorraad steeds in die tenke aan die begin van parstyd, was produsente en kelders besorgd oor verwerkings- en stoorkapasiteit toe die nuwe oes ingebring moes word. Heelwat produsente het addisionele stoorspasie gehuur of ou tenke gerestoureer om plek te maak,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Die feit dat beperkings op verkope opgehef is, tesame met ʼn later as normale oes, het egter tot ʼn mate gehelp om die druk te verlig.” ʼn Aantal wynkelders was ook in staat om kontrakte met druiwesapaanlegte te sluit, wat gehelp het om van die voorraad weg te werk.

“Die groter wyndruifoes sal noukeurige beplanning van produsente en kelders verg om die huidige ongekontrakteerde wynvoorraad op ʼn verantwoordelike en volhoubare manier te verkoop. Die situasie sal egter ook die geleentheid skep vir innovasie en groei in gevestigde en nuwe markte,” sê Rico.

2020/21 Groeiseisoen

Die weer was matig in die meeste streke gedurende die na-oesperiode, wat daartoe gelei het dat blaarval later as normaal plaasgevind het en wingerde gevolglik goeie reserwes kon opbou. Produsente het ook toegang gehad tot voldoende water vir naoesbesproeiing.

Die winter was kouer as die vorige seisoen, met heelwat hoër reënval, wat waterbronne aangevul het en tot voldoende koue-akkumulasie gelei het om dormansie te breek.

Die koue, nat weer het in die lente voortgeduur, wat tot egalige, maar vertraagde bot en aanvanklike groei bygedra het. In die kusstreek het die nat toestande uitdagings in terme van die tydsberekening van siektebeheer meegebring.

Rypskade het in sekere besproeiingsgebiede voorgekom en daar is aanvanklik verwag dat wesenlike rypskade in die laerliggende dele van die Noordkaap en sterk wind in die Kaap Suidkusstreek ʼn noemenswaardige effek op die oeste hier sou hê. Gelukkig het die ryp en wind vroeg genoeg in die wingerde se ontwikkeling voorgekom om van enige skade te herstel.

Blom en set was meestal goed en egalig, waarna die loot- en blaargroei vinnig begin inhaal het teen die begin van November, wat bykomende insette van produsente genoodsaak het om die vinnige en geil groei te bestuur.

Temperature het matig gebly gedurende die somer, wat rypwording verlangsaam het en daartoe gelei het dat parstyd sowat twee weke later as gewoonlik afgeskop het. Hoewel die meeste wynstreke relatief min reënval ontvang het gedurende parstyd, was daar ook bykans geen kenmerkende hittegolwe nie, en die laer dag- en nagtemperature regdeur die seisoen het daartoe gelei dat produsente geduldig moes wag vir druiwe om hul optimale rypheid te bereik.

Oorsig van die streke

Breedekloof
ʼn Baie laat seisoen, gekenmerk deur ʼn goeie balans tussen opbrengs en gehalte, namate wingerde gesonde lowers ontwikkel het gedurende ʼn matige groeiseisoen.

Kaap Suidkus
Uitdagende weerstoestande het tot ʼn kleiner oes aanleiding gegee, maar produsente in staat gestel om werklik koelklimaatwyne van uitsonderlike gehalte te maak.

Klein Karoo
Matige weerstoestande, goeie waterbeskikbaarheid en voldoende winterreënval in sekere areas het tot ʼn groter oes en baie goeie gehalte aanleiding gegee, hoewel droogtetoestande steeds in sekere dele van die streek voorkom en groot druk op wyndruifprodusente plaas.

Noordkaap
ʼn Goeie wyndruifoes in terme van gehalte en grootte, ondanks uitdagings in terme van suikerakkumulasie en beurtkrag gedurende die piek van parstyd.

Olifantsrivier
ʼn Later en koeler seisoen stadige, gelyke rypwording van ʼn ietwat groter en voortreflike gehalte wyndruifoes meegebring.

Paarl
Goeie waterbeskikbaarheid, voldoende reserwes en koeler weer het tot ʼn opbrengs gelykstaande aan 2020 bygedra wat vir elegante wyne aangewend word.

Robertson
Hoewel dit ʼn lang en uitgebreide seisoen was, het die wingerde ʼn hoër oes van uitsonderlike gehalte opgelewer.

Stellenbosch
ʼn Kleiner oes, maar voortreflike gehalte druiwe, wat mooi wyne met goeie verouderingspotensiaal tot gevolg het.

Swartland
Verbruikers kan uitsien na besonderse wyne van vanjaar se oes, namate die streek matige weerstoestande en stadige rypwording beleef het.

Worcester
Een van die laatste oeste nóg in die streek, en daarmee saam ʼn groter wyndruifoes en merkwaardige wyne.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf verwag voortreflike wyne van die 2021-wyndruifoes. (Fotokrediet: Simoné René Nel, Piekenierskloof Wyne).

UITGEREIK DEUR:  Vinpro, SAWIS en WoSA

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back