News

Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente verwag ’n goeie, maar ietwat kleiner 2022-wyndruifoes ná ’n gunstige en gesonde groeiseisoen. Dit volgens die eerste van vier oesskattings deur wingerdboukundiges en produsentekelders.

“In hierdie baie vroeë stadium word die wyndruifoes kleiner as in 2021 beraam, maar steeds groter as die vyf jaar bedryfsgemiddeld,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se span wingerdboukundiges wat die oesskattings saam met die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels) uitreik.

“Produsente het ʼn uitstekende winter beleef vanweë voldoende koue, soos weerspieël deur gereelde sneeuval op bergpieke, saam met bestendige reënval wat grondwatervlakke aangevul het en bygedra het tot ʼn aansienlike styging in Wes-Kaapse damvlakke,” sê Conrad.

Die gesamentlike damvlakke het teen middel September, net voor die begin van die 2022-groeiseisoen, op 81% gestaan. In die Noord-Kaap se wyndruifverbouingsareas blyk watervoorsiening uit die Vaalsisteem ook tans voldoende te wees.

Die meestal koel lente en nat grondtoestande het daartoe gelei dat botbreuk gewoonlik sewe tot 14 dae later as normaal plaasgevind het, maar bot was deurgaans mooi en egalig. Alhoewel die aanvanklike groei traag was weens relatief koel toestande, het warmer weer in November die groeitempo versnel en kon die meeste wingerde inhaal tydens blom, wat ongeveer vyf dae later as normaal plaasgevind het. Vroeër kultivars het goed geblom, maar sekere laat kultivars soos Cabernet Sauvignon het gedurende koel, nat en winderige toestande geblom, wat set negatief kan beïnvloed.

“Uit die aard van die wynbedryf se geografiese verspreiding word variasie in oesgrootte tussen die onderskeie streke waargeneem,” sê Conrad. “Die netto afname in die skatting word grootliks toegeskryf aan wingerduitkappings, asook ondergemiddelde trosgetalle- en groottes in sekere streke en kultivars.

Streke waar wingerde meestal voor die koue, winderige weer middel November geblom het, asook dié met voldoende grond- en besproeiingswater en ’n afwesigheid van swamsiektes, kan moontlik ’n groter wyndruifoes as in 2021 afhaal.

“Die seisoen lyk belowend, maar baie kan verander voor parstyd,” sê Conrad. Die volgende oesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders word in die derde week van Januarie 2022 uitgereik.

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back