News

Die toerismesektor is ongetwyfeld een van dié wat wêreldwyd en plaaslik die hardste getref is deur die COVID-19-pandemie. Die vooruitskouing ten opsigte van werks- en ekonomiese verliese wat die sektor in die gesig staar, is ontnugterend en baie kundiges in die bedryf het gewaarsku dat die situasie sal vererger as die sektor nie teen September vir binnelandse ontspanningstoerisme open, pleks van Desember 2020 soos oorspronklik deur die Nasionale Departement Van Toerisme geprojekteer is nie. Vinpro-wyntoerismebestuurder Marisah Nieuwoudt gee ‘n oorsig oor die stand van wyntoerisme. (Sien ook opgedateerde inligting soos op 29 Junie 2020 onder)

Klein Karoo gasvryheid by Joubert-Tradauw-wyne.

Die Suid-Afrikaanse Wynroeteforum, bestaande uit 19 van die land se wynroetebestuurders, werk nou saam met verteenwoordigers van Vinpro, WoSA en Wesgro, om te verseker dat ons kelders oor feitelike, relevante en uitvoerbare inligting beskik.

Die groep het in April ‘n aanlynopname oor sake-kontinuïteit gedoen wat in slegs drie dae deur 104 wynmakery voltooi is. Hierin het hulle hul bereidwilligheid aangedui om met ʼn verminderde kapasiteit te heropen, wat tekenend is van die effek wat die heropening op die wynwaardeketting sal hê, asook die stappe wat die besighede bereid is om te neem om die risiko vir infeksie te verminder.

Die opname se resultate, tesame met ʼn gesondheid- en veiligheidsprotokol vir wyntoerisme en die bedryf se doelwit om die wyntoerisme-waardeketting so ver moontlik te steun, vorm die grondslag van motiverings wat die groep in die afgelope agt weke aan die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme (DEDAT) en die Toerisme-sakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) voorgelê het, terwyl die groep ook oor veilige maniere beraadslaag om risiko in die wyntoerismesektor te verlaag.

Die skuif na vlak 3 op 1 Junie 2020 het broodnodige verligting aan die bedryf gebring vanweë die hervatting van plaaslike wynverkope en die opening van sekere toerismedienste. Die volgende dienste waarvoor die groep, en ander verenigings, waaronder die Vinpro-, BASA- en SALBA-groepering, voorspraak gemaak het, is onder vlak 3 toegestaan pleks van die laer vlakke waarvoor dit oorspronklik beplan was:

  • Die omskakeling van dranklisensies van binneverbruik na buiteverbruik vir alle wynkelders en restaurante. Dit het gelei tot nuwe idees vir kos- en wynaflewerings.
  • Wandel-, voetslaan- en fietsryroetes is oopgemaak. Dit was ʼn belangrike stap om ons kelders as oop en welkom vir verbruikers te posisioneer, terwyl ons een van ons vele mededingende voordele benut: wye, oop ruimtes.
  • Restaurante kan aflewerings- en afhaaldienste aanbied.

Wingerde en berge in die Stellenbosch-streek.

President Cyril Ramaphosa se nasionale toespraak op 17 Junie 2020 het die volgende dienste na vlak 3 verskuif vanaf ʼn datum wat in die Staatskoerant gepubliseer moet word. Die wyntoerismesektor het spesifiek hiervoor voorspraak gemaak met die oog op vlak 2, sodat meer inkomstestrome vir toerismebestemmings geaktiveer kon word.

  • Restaurante mag heropen vir aansitmaaltye met beperkte kapasiteit.
  • Kommersiële gelisensieerde akkommodasie, uitgesluit huisdelingsdienste, mag heropen vir binnelandse ontspanningsverblyf, bo en behalwe die verblyf vir sakereise wat voorheen toegelaat is.

Die president het ook aangekondig dat konferensies vir werksdoeleindes en persoonlike versorgingsdienste wat ook kelder-spa’s insluit op vlak 3 heropen sal word, asook fasiliteite soos gholfbane en sekere kulturele vermaaklikheidsentrums soos kuns- en rolprentteaters. Sodra die nuutste regulasies gepubliseer word, sal ʼn bygewerkte skedule vir wyntoerismedienste hier beskikbaar gestel word, wat aandui hoe die verskillende toerismedienste en inkomstestrome oopgemaak sal word tot op vlak 1.

Opgedateer: 29 Junie 2020

Daar heers steeds groot verwarring rondom plaaslike ontspanningsreis en -verblyf. Die amptelike regulasies (gedateer 25 Junie 2020) en die Minister het in haar inligtingsessie op 26 Junie 2020 bepaal dat dit nie onder gevorderde vlak 3 toegelaat word nie, in teenstelling met die aankondiging van president Cyril Ramaphosa op 17 Junie 2020. Die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA) en die Suider-Afrika Toerismedienstevereniging (SATSA), het tesame met verskeie nuusberigte die afgelope naweek, aangedui dat binnelandse ontspanningsreise toegelaat word.

Terwyl die bedryf op ‘n verdere verklaring deur die Nasionale Departement van Toerisme hoop, is die regulasies in die Staatskoerant die amptelike riglyn. Ons raai besighede aan om die nuut uitgereikte Staatskoerant (gedateer 29 Junie 2020) saam met bedryfsriglyne vir restaurante, voedseldienste, verblyf, konferensies en selfry-uitstappies te lees en hulself daarmee te belyn, binne die riglyne vir gesondheid en veiligheid wat vir die wyntoerismesektor uitgereik is.

Die betrokke instansies besluit tans oor die beste roete om verder met die regering te beraadslaag oor wynproeë en sal die bedryf op hoogte hou van enige verwikkelinge.

Ons het groot lof vir, en is geïnspireer deur die veerkragtigheid en vindingrykheid van die sektor gedurende hierdie uitdagende tyd. Innoverende produkte is ontwikkel, aanlynhandel het versnel en tegnologie is slim aangewend, soos die Trade Aware mobiele toep wat deur die span by Aware.org.za ontwikkel is om taverne-eienaars toe te rus met die nodige hulpbronne om verantwoordelik te handel in die buiteverbruikspasie. Ons sjefs het getoon dat hul harte op die regte plek is deur voedingsprogramme in hul gemeenskappe te vestig en groot besighede het hul deel gedoen deur duisende liters handsuiweraars vervaardig vir kwesbare groepe.

Die wyntoerismesektor sal in die volgende ses maande ʼn noukeurige balans tussen sy COVID-19-reaksie, ʼn herstelstrategie en beplande aktiwiteite moet handhaaf. Die uitrol van die sektor se wyntoerisme-vaardigheidsoudit, publisering van die Ekonomiese Waarde van Toerisme-opname se resultate, die verdere implementering van die Wyntoerisme-hulpbron en digitale, handel en veldtogbemarking van Suid-Afrika se wyntoerisme-aanbod, sal ongetwyfeld die sektor se herstel ondersteun en hom in staat stel om stadig maar seker op die horison te fokus en verby die huidige krisis te kyk.

NAVRAE:
Marisah Nieuwoudt
marisah@vinpro.co.za

 

Go Back