News

Vinpro, in samewerking met die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit, befonds ’n nuwe navorsingsloodsprojek om wyntoerisme-intelligensie te genereer wat wynkelders sal help om hul Direk-na-Verbruiker (DTC) besigheid te groei.

Hierdie loodsprojek, wat in Maart met ʼn aanvanklike 16 wynkelders bekendgestel is, sit een van Vinpro en die SA Wynroeteforum (SAWRF) se strategiese doelwitte voort om navorsing te doen wat behoeftes en kennisgapings in die bedryf aanspreek. Die wynroetes, Vinpro en Vintelligence het verlede jaar saamgewerk om die SA Wyntoerisme Besoekersnavorsingsverslag 2022 vry te stel. Vanjaar se doelwit is om tegnologie slimmer aan te wend.

“Ons is baie opgewonde oor hierdie wonderlike loodsprogram en wil hê kelders moet nou betrokke raak,” sê Marisah Nieuwoudt, wyntoerismebestuurder by Vinpro. “Die projek is saam met Flow Networks, spesialiste in liggingsanalise, nabyheidsbemarking en Gaste-Wi-Fi, bekendgestel. Vanjaar wil ons tegnologie tot ons voordeel gebruik om besoekers te tel en  rekening te hou met waar hulle vandaan kom om die grootte en samestelling van die totale mark te verstaan. Ons wil ons wynkelders help om in verbinding te bly met wyntoeriste tussen besoeke, en sodoende verbruikersbetrokkenheid in die DTC-wynruimte moontlik maak.”

‘n Proelokaal is die hart van beide die DTC-verkoopstrategie én die omskakelingsone vir toekomstige aanlynverkope. Hoe meer data ’n mens oor kliënte insamel en opteken, hoe beter kan ’n mens aanbiedinge aanpas en kommunikasie verpersoonlik. Flow Networks sal saam met die betrokke kelders aan hul bemarkingstrategie werk om met kruiskanaalverkope te help, hul aanlyn reputasie te bestuur, ’n lojaliteits- en beloningsprogram te bou, of aanbiedings per e-pos te stuur. Flow Networks is ’n betroubare diensverskaffer en gelisensieer om Purple te gebruik, wat deur van die grootste handelsmerke ter wêreld ingespan word, insluitende Radisson Blu, McDonalds, Tsogo Sun, Harrods, sowel as Walmart.

Presence Analytics is ’n sagtewaremodule wat die aantal mobiele toestelle (gebruikers) binne bereik van ’n produsent/kelder se Wi-Fi-versender deur middel van ’n ingeboude liggingsensor tel. Besoekers hoef nie aan die plaas se Wi-Fi te koppel om getel te word nie. Purple meet ook die tyd wat in die lokaal deurgebring word en die frekwensie van besoeke.

Wi-Fi Analytics teken die inligting van besoekers aan wat by ’n gas-Wi-Fi-diens inskakel. ‘n Verbruikersrekord word vir elke gas geskep wanneer hulle inskakel en word opgedateer elke keer as hulle terugkeer. Dit word gedoen deur een of meer van die plaas se bestaande Wi-Fi-versenders aan die Purple Wi-Fi-platform te koppel. Purple word bo-oor die bestaande Wi-Fi-infrastruktuur geïnstalleer, en die opstelling neem minder as ’n uur. Die stelsel word bestuur via ’n aanlyn portaal waartoe die wynkelders toegang het. Sodra ’n kelder se stelsel in werking tree, begin dit onmiddellik ’n databasis bou via gebruikersvriendelike, pasgemaakte Wi-Fi-bestemmingsbladsye.

Elke kelder sal ’n aanlyn paneelbord hê wat oor hul besoekersdata verslag doen. Geselekteerde, saamgestelde inligting soos besoekersgetalle, land van oorsprong, verblyftyd, geslag en ouderdom sal met die betrokke wynroete gedeel word. Dit beteken dat die wynroetebestuurder die kruisbestuiwing sal sien wanneer toeriste meer as een kleder besoek, wat sal help met hul bemarkings- en ontwikkelingsbeplanning. Vinpro sal dieselfde inligting op nasionale vlak sien. Alle prosesse voldoen aan POPIA plaaslik en GDPR-databeskermingsregulasies in die buiteland.

“As streek glo ons dat wyntoerisme nie net oor die geniet van keurige wyne en asemrowende landskappe gaan nie, maar ook om die krag van data en intelligensie te benut om die groei van wynkelders te ondersteun en ons besoekers se ervarings te verbeter,” sê Melody Botha, Breedekloof Wynvallei se bestuurshoof. “Daarom is ons trots om deel te neem aan die wyntoerisme navorsingsloodsprogram. Deur deel te neem wil ons waardevolle insigte ontsluit wat strategiese besluitneming vir ons wynkelders moontlik maak en hulle in staat stel om hul DTC-sakebedrywighede te optimaliseer, kliëntebetrokkenheid te verbeter en onvergeetlike ervarings vir besoekers te skep. Ons erken die potensiaal van datagedrewe benaderings om innovasie aan te dryf en volhoubare groei in die wyntoerismebedryf te bevorder.

 

“Ons sien hierdie loodsprogram as ’n geleentheid om ons kollektiewe kennis en kundigheid saam te snoer, sodat ons gesamentlik ons ​​wyntoerisme-aanbiedinge kan verbeter en ons streek as ’n vooraanstaande wynbestemming kan posisioneer. Ons stel ’n toekoms voor waar wynkelders in ons streek in die DTC-mark floreer, en waar besoekers werklik uitsonderlike wyntoerisme-ervarings het,” sê Botha.

’n Verdere 43 wynkelders in die Kaapse Wynlandstreek is geoormerk om vir ’n jaar teen ’n gesubsidieerde tarief op Purple Presence Analytics en Purple Wi-Fi Analytics in te teken. Die projek is ook oop vir alle wynkelders buite die Kaapse Wynlande teen ’n afslagtarief.

“Die toerismesektor is een van die grootste ekonomiese bydraers in die Kaapse Wynland-distrik. Tussen ons mandaat om geleenthede deur plaaslike ekonomiese ontwikkeling te skep en ons rol as streekstoerismekantoor, voldoen hierdie opwindende en tegnologies gevorderde projek aan al die regte kriteria vir die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit,” sê dr Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit.

 

“Ons is geëerd om met hierdie dinamiese maatskappy saam te werk. Ons sien daarna uit om meer oor die besoekers aan ons distrik te leer. Die inligting wat ingesamel word, sal help om ons hulpbronne effektief aan te wend vir gefokusde veldtogte wat ons globale mark laat groei, besoekers na ons pragtige distrik lok en uiteindelik ons mense laat floreer. Ek dank Vinpro en loof die maatskappy vir hul innoverende denke. Dit is hierdie soort denke wat ons wyn- en landboubedryf vorentoe neem.”

 

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back