South Africa Wine kondig met opwinding ’n nuwe snoeikompetisie aan wat hierdie Augustus afskop in samewerking met FELCO en Vinpro.
Met kennisoordrag as een van die hoofdoelwitte van South Africa Wine se Menseontwikkelingsafdeling, bied hierdie kompetisie ‘n geleentheid aan die plaaswerkersomgewing om ‘n sleutelbevoegdheid binne die primêre produksieruimte te ontwikkel.
South Africa Wine se snoeikompetisie sal vyf kwalifiserende byeenkomste hê voor die finale geleentheid op Donderdag 31 Augustus by Landbouskool Boland in die Paarl gehou word. Die kwalifiserende byeenkomste vind plaas op:
1 Augustus Paarl/Swartlandstreek by Bosman Adama.
4 Augustus Olifantsrivierstreek by Werda Baken.
15 Augustus Robertson/Klein Karoostreek by Zandvliet.
16 Augustus Worcester/Breedekloofstreek by Nuy Wynkelder.
17 Augustus Stellenbosch/Kaapse Suidkusstreek by Grondves.
“Die South Africa Wine Snoeikompetisie in samewerking met FELCO en Vinpro baan die weg vir erkenning vir Agri-werkers wat daaraan deelneem,” sê Kachné Ross, Menseontwikkelingsbestuurder by South Africa Wine. “Dit bied hulle broodnodige erkenning, leergeleenthede, loopbaanontwikkeling en kennisoordraggeleenthede binne ons sektor.”
Tydens die kwalifiserende rondtes word elke deelnemer se kennis van snoei op die proef gestel deur ’n praktiese snoei uit te voer. Vinpro se wingerdboukonsultante sal op hierdie dae gespesialiseerde opleiding verskaf, asook die deelnemers beoordeel. Die top drie deelnemers van elke streek sal by die finaal meeding waar die eerste, tweede en derde plek elk die gesogte Train-the-trainer-pakkette ter waarde van R10 000 vir hul onderskeie plase sal ontvang, asook kontantpryse van FELCO ter waarde van R6 000 – R3 000 vir eerste plek, R2 000 vir tweede plek en R1 000 vir derde plek.
Hierdie pakket is gebaseer op ‘n DVD-opleidingspakket waarvan die 10 modules aanlyn beskikbaar is. Dit sluit in snoei, wingerdvestiging, wingerdontwikkeling, lowerbestuur, grondbestuur, identifikasie van siektes en plae, besproeiing, bemesting, wyndruif-oes en grondkunde. Die e-leerplatform word dan as ‘n eenjaarlisensie aan die wenprodusente beskikbaar gestel. Tydens die opleidingsessie sal ‘n Vinpro-kundige die nodige inligting verskaf oor hoe die stelsel werk en hoe die spanleiers en spanne die opleiding saam op die mees doeltreffende manier kan benut.
“Die Train-the-trainer-pakkette onsluit ’n wonderlike geleentheid vir loopbaanontwikkeling,” sê Dr Etienne Terblanche, nuutaangestelde Vinpro-konsultasiediensbestuurder. “Na suksesvolle voltooiing van hul opleiding sal die spanleiers by die SAWIPB geregistreer wees as wingerdwerkersvoormanne/vroue met spesiale status en erkenning. Elke persoon wat ’n module met ’n assessering bo 80% voltooi, ontvang ook ’n e-sertifikaat wat hulle kan aflaai en druk of op hul profiel kan hou as hulle dit nodig het vir toekomstige loopbaanbevordering.”
FELCO sal die skole en akademiese instellings se kwalifiserende byeenkomste gelyktydig met die plaaswerkerbeen van die kompetisie hou, waar FELCO vaardigheidsopleiding sal verskaf. Die top drie studente van elke instansie sal ook by die finale byeenkoms meeding om die algehele wenners te bepaal. FELCO sal medaljes, toekennings en ander pryse by die finale geleentheid aan hierdie wenners verskaf.
“FELCO se hoofdoel is om erkenning te gee aan al ons snoeiers wat hierdie moeilike maar noodsaaklike taak moet uitvoer,” sê Gys Liebenberg van FELCO. “’n Wingerdsnoeier in Suid-Afrika doen gemiddeld 8 000 tot 15 000 snitte per dag. Opleiding van Agri-werkers en bystand vir dosente by akademiese instansies met praktiese snoeiwerkswinkels en -kompetisies is vir ons ‘n groot prioriteit. ’n Gelukkige en goed opgeleide snoeier is ’n bate vir enige produsent.”
Daar is geen koste verbonde aan inskrywings vir die South Africa Wine snoeikompetisie nie op voorwaarde dat ‘n FELCO-snoeiskêr tydens die snoeikompetisie gebruik word.
Skryf hier in vir die kompetisie: https://bit.ly/3pVOtrA