Suid-Afrikaanse wynbesighede en verskeie belanghebbendes kom weer eens bymekaar aan die begin van 2023 om meer te hoor oor die wynbedryf en om hulself met inligting en vaardighede toe te rus om met mekaar kontak te maak om hul wynbesighede en die bedryf self te groei.
Die Nedbank Vinpro Inligtingsdag met die tema Connect and Grow vind plaas van 09:00 tot 14:30 op 19 Januarie by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS).
“Geen persoon, besigheid of bedryf werk en leef in isolasie nie,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Om aan die persone en dinge rondom ons gekoppel te wees, maak ons nie net menslik nie, maar dryf ook besigheidsukses. By die Nedbank Vinpro Inligtingsdag verken ons hoe die wynbedryf en wynbesighede netwerke en konneksies in ons midde kan gebruik om volhoubare groei te verseker.”
Die Inligtingsdag word as twee agtereenvolgende sessies van 120 minute elk aangebied, met ʼn uurlange pouse tussenin.
Sessie 1: Van die plaas tot die verbruiker
Deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se Covid-19-herstelplan behels groei in die vraag na wyn deur momentum in uitvoere én deur plaaslike verkope en wyntoerisme te bevorder. Wyndruifprodusente en kelders volg ook ʼn meer verbruikersgerigte benadering in die wingerd en kelder, terwyl hulle doeltreffendheid op innoverende maniere opskerp.
Isaac Matshego, bekende landbou-ekonoom van Nedbank, skop die eerste sessie af met insigte oor die ekonomie, waarna om te kyk in ʼn onvoorspelbare wêreld en hoe om daarvolgens te beplan.
Vinpro-bestuurshoof Rico Basson sal praat oor die optimalisering van uiteenlopende hulpbronne om SA Wyn te herposisioneer om volhoubare waarde vir aandeelhouers te lewer, terwyl Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder by Vinpro, die wynoesvooruitsig, asook wingerdboukundige ontwikkelinge wat op groei en netwerke fokus, sal deel.
Sessie 2: Die groter prentjie
Indien ons die Suid-Afrikaanse ekonomie wil groei, is dit belangrik om na die groter prentjie te kyk. Helen Kock van Vinimark gesels oor die plaaslike mark en bespreek hoe besighede spoedige resultate binne ʼn plaaslike konteks kan verseker. Gegewe die globale prentjie, gesels Siobhan Thompson, WoSA-bestuurshoof, oor hul uitvoerstrategie, terwyl David Cartwright, verkoopsdirekteur van Seckford Agencies, gaan fokus op Suid-Afrikaanse wyn in die VK en hoe besighede vooruitgang, vennootskappe en moontlikhede binne Suid-Afrika se grootste uitvoermark kan verseker.
Die dag sluit af met Michael Jordaan, voormalige bestuurshoof van Eerste Nasionale Bank, nou ʼn waagkapitalis met aandele in aanlyn verspreider Port2Port, en wyngeesdriftige met sy belang in Bartinney, wat praat oor hoe om met selfvertroue besigheidsbeleggings in onsekere tye en in die huidige Suid-Afrikaanse landskap te maak.
Werk saam vir sukses
“Ons kan slegs ʼn sterker en meer volhoubare wynbedryf in Suid-Afrika bewerkstelling deur strategiese vennootskappe regdeur die waardeketting te vestig en te koester. Bo en behalwe hul noue samewerking met en ondersteuning aan die bedryf, is ons dankbaar dat ons die Nedbank Vinpro Inligtingsdag in 2023 weer met Nedbank as hoofborg kan aanbied,” sê Basson.
Die geleentheid word vir die 17de jaar aangebied, en Nedbank is sedert 2006 die hoofborg. Daneel Rossouw, Nedbank se funksionele hoof van landbou in verhoudingskanale, sê Nedbank is baie trots op sy langdurige samewerking met Vinpro. “Vennootskappe soos dié is noodsaaklik vir die groei van die landbousektor.
“By Nedbank verstaan ons die toekoms van landbou, die uitdagings en kompleksiteite wat potensiaal belemmer en die geleenthede wat dit bied. Ons is aan die voorpunt van belegging in innovasie en in vennootskap met sleutelbelanghebbendes en diegene wat ʼn verskil in die landbousektor maak om tot ʼn groeiende, volhoubare, getransformeerde en veerkragtige landbousektor by te dra. Ons is veral opgewonde oor die fokus op samewerking en volhoubaarheid by die 2023 Inligtingsdag, aangesien ons glo dat innoverende tegnologieë, die smee van vennootskappe en ʼn volhoubare, transformerende benadering noodsaaklik is vir die langtermyn sukses en veerkragtigheid van die wynbedryf en die landbousektor as geheel,” sê Rossouw.
Registrasie is verpligtend en sluit op 15 Januarie 2023. Kostes beloop R850 per persoon vir Vinpro-lede* en R1 250 per persoon vir nie-lede.
* Afslag vir Vinpro-lede is beperk tot twee kaartjies per lid.Registreer aanlyn by https://sales.vinpro.co.za/. Vir navrae, skakel 021 276 0429 of e-pos infoday@vinpro.co.za.
