News

Suid-Afrika se privaatsektor toon groot groeipotensiaal, wat tot ekonomiese vooruitgang en landelike ontwikkeling aanleiding kan gee – mits waarde ontsluit word en met die regering hande gevat word.

 

Sprekers tydens ’n onlangse jaarkongres van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) se Wes-Kaap tak het verskeie drywers van hierdie belangrike sektor toegelig.

 

Kyk na die waardeketting

Die Wes-Kaapse landbousektor vaar volgens dr John Purchase, voorsitter van die landbousakekamer Agbiz, relatief goed, maar kan meer waarde te ontsluit deur geïntegreerde waardekettingontwikkeling.

 

“Die provinsie het ’n unieke en stabiele produksiepotensiaal en die infrastruktuur is goed ontwikkel. Die landbousektor dra sowat 4% tot die Wes-Kaap se bruto binnelandse produk (BBP) by en neem 7% van die arbeidsmag in diens,” het Purchase vertel.

 

’n Groeiende vraag na hoë waarde produkte, veral internasionaal, word aangespreek deur die Wes-Kaap se bewese rekord in die produksie van onder andere droë- en inmaakvrugte, versapping, wynmakery en nisprodukte soos rooibostee, olywe en hops. Die Geïntegreerde Nasionale Uitvoerstrategie (Ines) skep geleentheid vir uitvoere na veral Afrika, Asië en die Brics-lande, en die nakoming van etiese handelsooreenkomste verseker verdere marktoegang.

 

Mededingendheid bly egter ’n uitdaging, tesame met arbeidswetgewing, asook die koste verbonde aan en beskikbaarheid van beide tegnologie en energie. Purchase stel voor dat ’n prysvormingsmeganisme noodsaaklik sal wees vorentoe om deursigtigheid en integriteit in markte te verbeter.

 

“Hou altyd die drie pilare van volhoubaarheid, naamlik die natuurlike omgewing, sosiale omgewing en finansies in alle besluitneming in ag,” het hy bygevoeg.

 

Ontwikkel die landelike omgewing

Volgens Anton Roelofse, streekbestuurder van die kleinsakefinansieringsfirma Business Partnersspeel kleinsake-ondernemings ’n kern rol in landelike ontwikkeling.

 

Die 600 000 klein tot medium ondernemings in Suid-Afrika dra tussen 35% en 50% van die privaatsektor se aandeel in BBP by, en is verantwoordelik vir 50% van formele werke in hierdie sektor. Dit kos sowat R65 000 om een werk te skep, en elke onderneming neem tussen 5 en 10 persone in diens. Roelofse meen die persentasie van indiensneming kan na 60% styg.

 

“Dis belangrik om ’n kultuur van entrepreneurskap by alle belanghebbers te skep. Volhoubare sake-ontwikkeling is slegs moontlik indien daar noue samewerking tussen entrepreneurs, finansierders, ontwikkelingsinisiatiewe en plaaslike regering is,” het hy bygevoeg.

 

Ekonomie sal kop optel

Hoewel Suid-Afrika tans ekonomies swakker as die res van die wêreld presteer – grootliks vanweë interne faktore – is vooruitsigte vir 2015 positief. Dít aldus Hugo Pienaar, senior ekonoom by die Buro vir Ekonomiese Navorsing van die Universiteit van Stellenbosch.

 

Van die belangrikste handelsvennote ondervind gesonde groei na die resessie – onder andere Duitsland, die VSA en VK – wat potensiële voordele vir buitelandse handel inhou.

 

Volgens Pienaar behoort die BBP vanjaar met sowat 1.7% te groei teenoor 1.9% in 2013 en teenoor 3.4% globaal. Aan die positiewe kant word 3% groei plaaslik in 2015 verwag. Indiensname behoort op te tel en inflasie sal na verwagting nog vanjaar bo 6% bly, maar in 2015 onder dié vlak daal.

 

Suid-Afrika se beleidsomgewing is oor die algemeen goed, maar nie noodwendig bevorderlik vir vinnige ekonomiese vooruitgang nie. ’n Groter politieke wil is onder andere nodig om te groei in terme van werkskepping. In teenstelling hiermee, ly indiensname in die privaatsektor onder ’n demp in sakevertroue.

 

Transformeer en innoveer

Die besigheidswêreld staar tans groot uitdagings in die gesig, maar bied ook aanloklike geleenthede; pas aan by veranderinge en moenie transformasie afskeep nie.

 

In ’n motiveringspraatjie oor volhoubare sakesukses, het Brand Pretorius, privaat sakekonsultant en voormalige uitvoerende hoof van McCarthy, die belangrikheid van innovasie, strategiese beplanning en differensiasie benadruk. “Wend tegnologie aan om jou van ander produkte of dienste te onderskei en waarde vir jou kliënte toe te voeg.”

 

Volgens Pretorius is transformasie ’n instrument vir sukses, en moet die sakesektor hierdie segment so spoedig moontlik integreer met die hoofstroom ekonomie. “Tree sosiaal verantwoordelik op deur betrokkenheid by gemeenskapsopheffing. Kliënte fokus al hoe meer op die maniér waarop ons besigheid doen. As transformasie en opheffing nie gebeur nie, skep dit ’n teelaarde vir politieke onstabiliteit,” het Pretorius gesê.

 

Leierskapskwessies kort aandag

Theo Venter, politieke analis verbonde aan die Noord-Wes Universiteit, is vol vertroue dat Suid-Afrika op ’n bestendige pad is, maar leierskapskwessies en trae ekonomiese groei is belangrike vraagstukke vorentoe.

 

Relatiewe deprivasie – die verwagting van sekere landsburgers dat meer hulle toekom as wat hulle tans het – bly ’n buffer vir ekonomiese groei.

 

Venter meen Suid-Afrika is tans nie ’n mislukte staat nie, maar sal aan sekere waarskuwingseine aandag moet skenk. Die hoë werkloosheidsyfer dra tot groot inkomste-verskille by, met gepaardgaande armoede, ’n gebrek aan landelike ontwikkeling en ’n hoë misdaadsyfer. Burokratiese oneffektiwiteit en kommer oor plaaslike regering is verdere realiteite en energie- en watervoorsiening is beide kwesbaar.

 

Wat die politieke landskap betref, voorspel Venter dat oud-premier van KwaZulu-Natal, Zweli Mkhize, Suid-Afrika se volgende interim-president mag wees. Hoewel adjunk-president Cyril Ramaphosa heelwaarskynlik presidensie sal opneem na die 2019-landsverkiesing, strek president Zuma se ANC-presidentskap slegs tot 2017, en mag die ANC en land in dié tyd ’n nuwe leier in Mkhize kry.

 

Kry meer voete in die Wes-Kaap

Die reis- en toerismesektor is ’n goeie verdiener van buitelandse valuta en die Wes-Kaap kan deur ’n gefokusde benadering sy besoekersgetalle ’n verdere hupstoot gee.

 

Volgens Frank Kilbourn, voorsitter van die SA Toerismeraad, het dié sektor se BBP nasionaal van 1990 tot 2013 met 200% gestyg, teenoor gemiddelde ekonomiese BBP-groei van 74%. Die aantal toeriste in Suid-Afrika – diegene wat vir langer as 24 uur in die land bly – het van 2012 tot 2013 met 4.7% gegroei na sowat 9.6 miljoen, vergeleke met ’n gemiddelde globale groei van 5%.

 

Die SA Toerismeraad het nou ontwikkelende markte wat vinnig groei in die visier, insluitend China, Afrika en Brasilië.

Dr John Purchase, voorsitter van die landbousakekamer Agbiz.

Dr John Purchase, voorsitter van die landbousakekamer Agbiz.

 

Die Wes-Kaap is die tweede gewildste bestemming vir buitelandse toeriste. Altesaam 17% van buitelandse besoekers aan Suid-Afrika besoek die Wes-Kaap, naas 41% in Gauteng. In 2012 is sowat R18.5 biljoen in dié provinsie spandeer, teenoor R76.4 biljoen nasionaal.

 

“Die gemiddelde toeris spandeer sowat 7.7 nagte in Suid-Afrika; maak seker dat hy/sy langer tyd in die Wes-Kaap wil spandeer deur dié provinsie as ’n waarde-vir-geld bestemming te posisioneer,” het Frank vertel.

 

“Bemark spesifieke sterkpunte van die Wes-Kaap, insluitend Kaapstad en Tafelberg as bestemmings, die provinsie se unieke kos- en wynervarings, fynbos, die Tuinroete, asook walvis- en haaibesigtigings. Doen weg met persepsies van eksklusiwiteit, bou ’n verwelkomende beeld en versterk samewerking tussen dorpe en streke,” het Frank adviseer.

Dr John Purchase, voorsitter van die landbousakekamer Agbiz.

Dr John Purchase, voorsitter van die landbousakekamer Agbiz.

Go Back