News

Suid-Afrika se 2022-oesjaar sal verbruikers beïndruk met uitsonderlike wyne, ondanks ʼn ietwat kleiner druiwe-oes as in 2021. Dit volgens die jaarlikse Suid-Afrikaanse Wynoesverslag.

“ʼn Koel seisoen en matige weerstoestande in die meeste streke tydens parstyd het rypwording vertraag, wat wingerde die geleentheid gegee het om treffende geur en kleur in vanjaar se wyndruifoes te ontwikkel,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam, Vinpro. Parstyd is gemiddeld met 10 tot 14 dae vertraag.

Die 2022 wyndruifoes word op 1 378 737 ton beraam, volgens ʼn skatting deur die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -Stelsels) op 25 Mei 2022. Dit is 5.5% kleiner as die 2021-oes, maar steeds groter as die vyfjaargemiddeld van 1 346 024 ton.

LAAI PDF AF:  SA Wynoesverslag 2022

Die kleiner wyndruifoes kan toegeskryf word aan ʼn afname in die algehele wingerdoppervlak weens die uitkapping van wingerde, siektedruk vanweë ontydige reënval net voor of tydens parstyd, en geïsoleerde gevalle van sonbrand as gevolg van hittegolwe in sommige streke.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is versprei oor ʼn wye reeks verbouingsgebiede met uiteenlopende klimaatstoestande wat die oes verskillend in elke streek beïnvloed,” sê Conrad. Die meeste wyndruifverbouingstreke het ʼn kleiner oes gelewer, met die uitsondering van die Kaap Suidkus en Stellenbosch.

Uitsonderlike wyne

“Wynliefhebbers kan uitsien na uitsonderlike wyne van die 2022-oesjaar,” sê Conrad. “Ons sien regtig treffende kleur- en geurontwikkeling by druiwe in die kelder, danksy ’n koeler seisoen wat rypwording vertraag het, en die geleentheid gebied het vir hierdie komponente om optimaal te ontwikkel.”

Verbruikers kan uitsien na uitsonderlike gehalte wyne van ʼn kleiner Suid-Afrikaanse wyndruifoes in 2022 (Fotokrediet: Leeuwenkuil Familiewingerde).

Vroeë kultivars is teen goeie geur- en suikerkonsentrasies gepars, met laer sure en hoër pH’s. Later kultivars het baat gevind by droë, matige temperature tydens rypwording, wat tot goeie rypwording teen goeie suiker- en alkoholvlakke aanleiding gegee het.

Die wynproduksie in 2022 – insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn – sal na verwagting 1 072.4 miljoen liter beloop teen ʼn gemiddelde verhaling van 778 liter per ton druiwe.

“Ondanks die feit dat dit ʼn effens meer uitdagende 2022-parstyd vir wynmakers was, het ons reeds die geleentheid gehad om van die eerste witwyne te proe, wat uitstekende gehalte getoon het en beslis die premiumisering van die kategorie sal aanhelp,” sê Siobhan Thompson, bestuurshoof van WoSA (Wines of South Africa).

“Terwyl ons steeds ’n volgehoue belangstelling in Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc en Chardonnay sien, is die uitdagings wat uitvoerders steeds in die gesig staar weens globale druk op verskepingskettings ietwat van ’n demper. Ons hoop om ditmettertyd te oorkom.”

Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent wêreldwyd en produseer sowat 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra meer as R55 miljard by tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) en neem bykans 269 000 mense in diens regdeur die waardeketting, waarvan meer as 80 000 op plase en in kelders werk.

2021/22 Groeiseisoen

Fairview Wine Estate.

Die meeste streke het genoeg water gehad om na-oesbesproeiing en kunsmis toe te dien. Blaarval het om en by die normale tyd in Mei plaasgevind, en die meeste produsente het hul dekgewasse ietwat later as normaal geplant. Waar donsskimmel en witroes voorgekom het, het wyndruifprodusente na-oes swamdoders toegedien.

Wintertoestande was uitstekend, gekenmerk deur meestal bogemiddelde koue-eenhede en gereelde sneeuval op hoogliggende gebiede van die Kaapse Plooiberge. Die meeste wyndruifverbouingstreke het bogemiddelde reënval ontvang wat grondwatervlakke aangevul het, met die uitsondering van die Noord-Kaap wat ʼn somerreënvalstreek is.

As gevolg van ʼn koel, nat lente het bot oor die algemeen sewe tot 14 dae later as normaalweg plaasgevind, maar was dit deurgaans goed en egalig. Die koel weer het ook aanvanklike lootgroei vertraag. Die meeste wingerde het teen blomtyd begin inhaal, sowat vyf dae later as gewoonlik.

Set het teen ʼn goeie tempo plaasgevind en was meestal gelyk. Lote en blare het sterk begin groei namate temperature in Desember toegeneem het. Dit het bykomende lowerbestuursaksies soos blaarverwydering, tip en top volgens groei per streek, kultivar en wyndoelwit genoodsaak.

Na ʼn koel aanloop tot die seisoen, het skielike hittepieke in Desember en Januarie sonbrandskade op druiwe in sekere streke tot gevolg gehad. Terselfdertyd het ander streke onverwagte reënval ervaar, wat gelei het tot hoë siektedruk en uitdagings om die uitwerking van donsskimmel en witroes te minimaliseer.

Parstyd is oor die algemeen met tien tot 14 dae vertraag. Aangesien temperature gedurende die res van die seisoen matig gebly het, het wingerde hul tyd geneem om optimale rypheid te bereik.

Oorsig oor streke

Breedekloof

Steenberg Wine Farm (Foto: Chanel Conradie).

Die 2022-seisoen was laat en uitgerek en sal onthou word vir uiterstes, insluitend ʼn koel groeiseisoen en ʼn skielike hittepiek in Februarie. Die oes sal waarskynlik effens kleiner wees as die rekordoes in 2021.

Kaap Suidkus

Beskikbaarheid van water en ideale winterstoestande het die grondslag gelê vir ʼn uitsonderlike seisoen, ondanks uitdagings vanweë swamdruk en koel, nat weer gedurende somermaande. Die wyndruifoes gaan na verwagting heelwat groter wees as in 2021.

Klein Karoo

Die 2022-oesjaar in die Klein Karoo-streek sal onthou word vir ’n besonderse laat parstyd. Hoewel die oes kleiner mag wees as in 2021, verwag produsente goeie gehalte wyne.

Noord-Kaap

Een van die mees uitdagende seisoene in jare vir wyndruifprodusente langs die Oranjerivier, gekenmerk deur bogemiddelde reënval, hoë siektedruk en vloedrisiko’s. Opbrengste was heelwat laer as vorige jare, maar produsente bly hoopvol dat hulle ʼn groter oes in 2023 sal behaal.

Olifantsrivier

Dit was werklik ʼn uitdagende seisoen weens hoë siektedruk, hittegolwe en oneweredige rypwording. Produsente wat goeie bestuurspraktyke toegepas het, het egter heelwat minder uitdagings ervaar en kan met goeie opbrengste spog. Algeheel was die streek se wyndruifoes kleiner as in 2021.

Paarl

Die 2022-oesjaar sal onthou word vir ʼn koel seisoen, gevolg deur ʼn skielike toename in temperatuur vanaf Januarie wat tot ʼn kleiner wyndruifoes teenoor verlede jaar bygedra het. Waar goeie wingerdpraktyke gevolg is, het wingerdblokke vanjaar bo die res uitgestaan in terme van druifontledings en wyngehalte.

Robertson

Alhoewel kleiner as die rekordoes van 2021, dui hierdie oesjaar steeds op bogemiddelde gehalte en opbrengste. Die seisoen was lank en uitgerek, met verskeie uitdagings, maar produsente was bevoorreg om voldoende besproeiingswater te hê.

Journey’s End Vineyards (Foto: Halima Beale Photography)

Stellenbosch

Ideale winterstoestande wat waterreserwes aangevul en egalige groei meegebring het, het ʼn uitstekende grondslag vir die 2022-oes gelê, wat na verwagting groter as in 2021 gaan wees. Te oordeel aan die gehalte van die wyne in die kelder sien die streek uit na nog ʼn klassieke Stellenbosch-oesjaar.

Swartland

Parstyd het later as normaal begin weens koel weerstoestande tot die einde van Desember, gevolg deur buitengewone warm weer gedurende parstyd wat rypwording versnel, en druk op kelders geplaas het. Die gemiddelde oes is kleiner as die vorige jaar, maar wyngehalte lyk belowend.

Worcester

Die 2022-oes het later as normaal begin weens ’n koel groeiseisoen. Die opbrengs was kleiner as in 2021, maar steeds bogemiddeld vir die streek. Wyngehalte lyk belowend en verbruikers kan uitsonderlike rooiwyne verwag.

UITGEREIK DEUR:   Vinpro, SAWIS en WoSA

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back