Wyndruifprodusente en kelders in Suid-Afrika is positief oor die gehalte van wyne uit die 2018-oes, ondanks uitdagende toestande wat tot een van die kleinste oeste in meer as ʼn dekade gelei het.
Volgens die wynbedryfliggaam Vinpro is die 2018-oes, wat op 1 220 920 ton sowat 15% kleiner is as in 2017, aanvanklik selfs laer geskat.
“Die 2018-seisoen was werklik uitdagend vanweë een van die ergste droogtes in 100 jaar, tesame met waterbeperkings en rypskade in sekere gebiede,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens.