News

Parstyd by Piekenierskloof Wyne in die Olifantsrivierstreek.

Na ʼn stadige aanloop is parstyd goed op dreef met meer as die helfte van Suid-Afrika se 2022-wyndruifoes wat reeds by kelders ingeneem is. Die oes word steeds kleiner as in 2021 geskat, maar groter as die vyfjaargemiddeld.

“Hoewel parstyd later as normaal afgeskop het, het al tien die produserende streke op hierdie stadium ʼn noemenswaardige hoeveelheid druiwe gepars en gee dit ʼn goeie aanduiding van volumes wat tans by kelders gelewer word,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens, wat die vierde oesskatting saam met SAWIS (SA Wynbedryfinligting & -Stelsels) uitgereik het. “Die druifgehalte lyk ook op hierdie stadium baie goed, wat belofte inhou vir ʼn uitstekende 2022-oesjaar.”

“Volgens die WineMS-inligtingsbestuursagteware is nagenoeg 65% van die wyndruifoes wat gemiddeld jaarliks deur die stelsel gaan, reeds ingeneem – sowat ʼn week later as normaal,” sê Christo Spies, WineMS-bestuurshoof. Die kusgebiede is naby aan klaar gepars, terwyl die binnelandse streke meestal oor die halfpadmerk is.

Die 2022-seisoen is gekenmerk deur koeler weerstoestande vanaf die winter tot en met middel Desember, wat daartoe gelei het dat bot, blom, deurslaan en rypwording in die wingerde later as normaal plaasgevind het. Warm periodes gedurende Desember en Januarie het die rypwordingstempo versnel, maar die normale parsprogram vir die meeste kultivars is steeds sowat sewe tot tien dae vertraag.

Die totale oes word kleiner beraam, hoewel daar verskille is in die oesskatting per streek na gelang van die onderskeie streke se geografiese diversiteit. “Die kleiner oes kan hoofsaaklik toegeskryf word aan reënbuie in die Noord-Kaap en Klein Karoo wat verliese weens swamsiektes en vrot tot gevolg gehad het; sonbrandskade weens hittegolwe in die Swartland, Paarl en Robertson, asook wingerduitkappings in sekere streke weens finansiële oorwegings,” sê Conrad.

Hierteenoor dra gunstige groeitoestande, doeltreffende swamsiektebeheer en voldoende besproeiingswater tot dusver by tot beter oeste in Stellenbosch en die Kaap Suidkus.

Die finale oesskatting deur wingerdkundiges en produsentekelders word in Mei 2022 uitgereik, saam met die amptelike SA Wynoesverslag.

NAVRAE:

SAWIS
Tel: 021 807 5700
E-pos: info@sawis.co.za

VINPRO
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back