News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf doen ʼn beroep op landsgenote en besighede om gesonde oordeel te beoefen en hul verantwoordelikheid op te neem om die gesondheid, veiligheid en lewensbestaan van mense te verseker, deur die maatreëls wat ons reeds in plek het, te implementeer. Dít in reaksie op president Cyril Ramaphosa se toespraak vanaand aan die nasie waar hy geen groot veranderings aan beperkings aangekondig het nie.

Die wynbedryf, wat werksgeleenthede aan byna 269 000 mense bied en R55 miljard tot die ekonomie bydra, is op ’n pad van herstel ná vele terugslae wat Covid-19 die afgelope twee jaar meegebring het.

“Ons sukses sal egter afhang van of die regering ʼn omgewing vir groei en herstel kan skep. Dit sluit in gesonde beleidsbesluite gebaseer op empiriese data,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

Meer as 400 van die 529 wynkelders in die sektor is klein en mediumgroot ondernemings en hoogs afhanklik van wyntoerisme vir hul bestaan. Met die eensydige reisverbod wat die afgelope paar dae opgelê is, het die toerismesektor oornag feitlik 100% van sy winsgewende inkomende internasionale toerismemark verloor, wat wesenlike implikasies inhou. Terwyl die binnelandse vakansieseisoen deurslaggewend is vir die voortbestaan van ons toerismebedryf, sal enige verdere negatiewe impak van beperkings op die binnelandse toerismebedryf katastrofies wees vir besighede en werksgeleenthede.

“Dit is uiters belangrik dat die regering deeglik konsulteer en ingelig is oor die impak wat enige besluite rondom Covid-19 en moontlike beperkings mag inhou vir die onderskeie sektore en hul werkerskorps en omliggende gemeenskappe,” sê Basson.

Vinpro en sy bedryfsvennote skakel daarom deurlopend met meer as tien nasionale regeringsdepartemente om hulle van die nodige inligting te voorsien om feitgebaseerde besluite te neem rakende handelsbeperkings en ander beleidsbesluite, insluitend ekonomiese realiteite wat werksekerheid bedreig. Die bedryf is ook voortdurend in gesprek met die regering om die moeilike situasie by die Kaapstadse haweterminaal te verbeter, wat uitvoere strem, en het verligting in terme van aksynsbelasting versoek.

Om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, was die bedryf proaktief met die implementering van streng maatreëls regdeur die wynbedryf se waardeketting. Daarom het die sektor reeds ʼn verskeidenheid omvattende en effektiewe protokolle in plek. As ‘n kollektief dryf die wyn- en ander alkoholiese drankbedrywe, deur die Association for Alcohol Responsibility and Education (Aware.org), aktief verantwoordelike verbruik en wettige handel deur middel van doelgerigte inisiatiewe. Hierdie ingrypings fokus sterk op die vermindering van skadelike nagevolge van drankmisbruik, onwettige handel, padveiligheid gedurende die feesseisoen, drink en bestuur, drink en stap, fuifdrinkery en geslagsgebaseerde geweld, asook verantwoordelike handel en bemarking.

“In die aanloop tot die feesseisoen en in die lig van ʼn dreigende vierde Covid-19 golf, doen ons ʼn beroep op die regering om die voortou te neem in die land se reaksie op die Omikron-variant op internasionale vlak deur die inentings op te skerp, die gesondheidsisteem deeglik voor te berei en wetgewing met betrekking tot Covid-19 protokolle streng toe te pas, soos die dra van maskers, ontsmetting van hande en die handhawing van sosiale afstand,” sê Basson.

“Ons het reeds al die maatreëls in plek om ons veilig te hou. Kom ons gebruik dit.”

MEDIA NAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back