News

Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek en wenner van die toekenning vir Wingerdboukunde en Wynbereiding.

Geliefde Vinpro-staatmaker en wynbedryflegende Francois Viljoen het ʼn gesogte Wingerdbou- en Wynbereidingstoekenning ontvang ter ere van sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Hy is tydens die jaarlikse SA Wynoesherdenkingsgeleentheid op 2 Februarie saam met Carmen Stevens (1659 Visionêre Leierskap), Denise Stubbs (Diversiteit en Transformasie) en Christine Rudman (Wynwaardering en Wynbevordering) vereer.

Francois is reeds die afgelope 36 jaar ’n wingerdboukundige in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Voordat hy in Julie 2019 sy pos aan die stuur van Vinpro se Gen-Z-wingerdprojek aanvaar het, was hy vir 20 jaar die bestuurder van Vinpro se konsultasiediens, waartydens hy ʼn span bekwame wingerdboukundiges en grondkundiges gelei het.

Benewens sy deurslaggewende fasiliteringsrol in die oordrag van die nuutste tegnologie, wingerdpraktyke en kultivars deur die Gen-Z-projek, verskaf Francois wingerdboukundige raad aan wynlandgoedere regoor die Suid-Afrikaanse wynbedryf. In 2014 het Robertson-wynvallei die gesogte Pon van Zyl-trofee aan hom toegeken vir sy uitnemende bydrae tot die streek en breër wynbedryf. Hy het veral gehelp om ʼn skuif na meer doelgedrewe wingerdboupraktyke mee te bring, terwyl hy ook die rol van terroir en strewe na wyngehalte beklemtoon het.

“Francois is werklik ʼn waardige ontvanger van hierdie gesogte toekenning,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts. “Hy is nie net ’n kenner op sy gebied en voorstander van wingerdbou as ’n beroep nie, maar is geesdriftig om idees, beste praktyke, tegnologie en navorsingsbevindinge met enigiemand te deel en uit te ruil, van studente tot wingerdwerkers, produsente en kollegas.”

“Ons is baie trots op Francois,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Hy is ʼn leier, mentor en pionier, met die Gen-Z Vineyard Project as sy breinkind. Die ‘sien is glo’-beginsel van die projek deur die vestiging van wingerdproewe regdeur die bedryf bespoedig kennisoordrag en sal produsente in staat stel om meer aanpasbaar, innoverend en volhoubaar te wees.

“Sy voete is stewig op die aarde – of eerder in die wingerd. Francois, altyd gereed met ʼn kwinkslag of storie, is die immer geduldige leermeester met ʼn ongelooflike gawe om komplekse inligting op ʼn eenvoudige manier aan enige gehoor oor te dra.”

Die SA Wynoesherdenkingsgeleentheid word jaarliks op 2 Februarie aangebied ter herdenking van die eerste oesjaar op Suid-Afrikaanse bodem in 1659. Tydens die virtuele geleentheid, wat by Groot Constantia aangebied is, is die seën oor die 2022-oes uitgespreek, die wynbedryf se 363ste bestaansjaar gevier en voorlopers in die wynbedryf vereer.

MEDIANAVRAE
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back