News

Vinpro-direkteur en wynbedryfbekende Rydal Jeftha is vereer met die toekenning vir Groter Inklusiwiteit vir sy inspirerende voorbeeld, die weg wat hy baan vir ander deur weg te doen met hindernisse, sy kennisoordrag aan ander en die algehele impak wat hy op die beeld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf het.

Hy is tydens die jaarlikse SA Wynoesherdenkingsgeleentheid op 2 Februarie saam met Ken Forrester (1659 Visionêre Leierskap), Wendy Jonker (Wynwaardering en Wynbevordering) en Erna Blancquaert (Wyn- en Wingerdbou) vereer.

“Rydal het oor soveel jare ‘n merkwaardige verskil in ons bedryf gemaak,” sê Anton Smuts, Vinpro voorsitter. “Hy het wye ervaring en toon ware leierskap, nie net in opkomende landbou nie, maar ook in die aanvoer van verskeie inisiatiewe soos Thandi Wines asook Koopmanskloof – een van die grootste, indien nie dié grootste, Fairtrade uitvoerders in die wêreld.”

Rydal het 42 jaar ondervinding in die landboubedryf waarvan hy 20 jaar nóú betrokke in die wynbedryf is. Hy maak ʼn impak in bestuur by onder meer Lourensford, Ceres Fruit Processors, Capespan en Vinfruco. Hy lei ook die baanbrekers-bemagtigingsprojek, Thandi Wines, na nuwe hoogtes en vir die afgelope 16 jaar is hy besturende direkteur by Koopmanskloof Vineyards.

Benewens sy deurslaggewende bestuursvaardighede en leiersrol in die veld, sorg Rydal vir verskeie pioniersaksies in die wynbedryf. Onder sy leierskap word die eerste Fairtrade-wyn wêreldwyd geproduseer én vereer met ʼn goue medalje. Onder sy leiding groei Thandi Wines se wynverkope van 500 kiste na 42 000 in twee jaar, en hy omskep Koopmanskloof van ʼn grootmaatwynprodusent in die plaaslike mark na ’n internasionale uitvoerder in grootmaat- en verpakte wyn. Hy het ook verskeie toekennings landwyd ontvang, is lid van die direksie van Vinpro en Wines of South Africa (WoSA) en ʼn mentor vir verskeie jong mense geïnteresseerd in landbou én wyn.

“Rydal is werklik ʼn waardige ontvanger van hierdie gesogte toekenning,” sê Smuts. “Hy is nie net ’n kenner op sy gebied nie, maar is ook geesdriftig oor die uitruil van idees en beste praktyke met enigiemand, van studente tot wingerdwerkers, produsente en kollegas.”

“Ons is baie trots op Rydal,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Hy is ʼn leier, mentor en pionier in die wynbedryf. Maar meer belangrik is hy ook ʼn immer gewilde leermeester met ʼn ongelooflike gawe om met mense van alle vlakke van die samelewing te werk.”

Die SA Wynoesherdenkingsgeleentheid word jaarliks op 2 Februarie aangebied ter herdenking van die eerste oesjaar op Suid-Afrikaanse bodem in 1659. Tydens die geleentheid, wat by Groot Constantia aangebied word, is die seën oor die 2022-oes uitgespreek, die wynbedryf se 364ste bestaansjaar gevier en voorlopers in die wynbedryf vereer.

 

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

 

Go Back