Om ʼn plaas te vestig en bestuur kan opwindend maar uitdagend wees – soveel te meer as jy ʼn nuwe toetreder is wat wingerde plant as ʼn 25-plus jaar belegging, of onverwags deur Covid-19 geraak word. Vinpro, ander wynbedryforganisasies en die Wes-Kaapse Departement van Landbou werk daarom nou saam om die bedryf te ondersteun en inklusief te laat groei.
ʼn Dekade van hulp
“Die wynbedryf en die Wes-Kaapse regering werk al vir meer as ʼn dekade nou saam om ontwikkelingsfinansiering vir nuwe toetreders van die Suid-Afrikaanse regering te bekom,” sê Phil Bowes, Vinpro-bestuurder ondernemingsontwikkeling en voorsitter van die keuringskomitee wat hierdie befondsing toedeel.
Reeds meer as 50 nuwe toetreders het in hierdie tyd nagenoeg R100 miljoen se ondersteuning ontvang in die vorm van infrastruktuur, toegang tot roerende bates en ander kapitaalbehoeftes. Sedert 2019 bied die SA Wynbedryftransformasie-eenheid (SAWITU) – wat ʼn gedeelte van die bedryf se verpligte heffings ontvang en na die belange van swart toetreders tot die wynbedryf omsien – verdere bystand aan hierdie produsente.
“SAWITU het onlangs ook ʼn 10-jaar kontrak met die Departement van Landbou Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling onderteken wat reeds gelei het tot die goedkeuring van meer as R4 miljoen se ondersteuning, danksy Vinpro se praktiese strategie en aksieplanne,” sê Phil.
Raad en kundigheid
Alle wyndruifprodusente wat finansiering ontvang vorm deel van die Omvattende Landbou-ondersteuningsprogram (CASP) en moet die riglyne en regulasies van die AgriSEB-handves, die Wet op die Bewaring van Landbou-hulpbronne en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur noukeurig nakom.
“Die wynbedryf en die regering snoer daarom kragte saam en ondersteun hierdie produsente deur toegang tot raad, kundigheid en inligting oor onder andere volhoubare hulpbronbestuur, wingerdterreinkeuse, kultivarkeuse, grondkunde, kapitaalverkryging en roete na die mark,” sê Phil.
SAWITU het dan ook in 2019 ʼn diensvlakooreenkoms met Vinpro gesluit waardeur Vinpro se grondkundiges, wingerdkundiges en landbou-ekonome hul kundigheid met opkomende prodsente deel deur gesubsidieerde plaaskonsultasies en gereelde werkswinkels oor beste grond- en wingerdpraktyke en hoe om besigheidsrisiko’s te identifiseer en bestuur.
“Ons monitor en evalueer deurlopend die interaksies en vordering deur die Vinpro-groep se WineMS-inligtingsbestuurstelsel en glo ons en ander bedryfskundiges se insette het groot trefkrag op hierdie besighede,” sê Phil.
Alhoewel daar nog baie is om te bereik, is die wynbedryf betrokke, gemotiveerd en ingestel op transformasie. “Ons wil sien dat nuwe toetreders tot die wynbedryf sukses behaal en volhoubaar bly groei,” sê Phil.
SEB-steun aan gevestigde wynbesighede
Buiten die koördinering van finansiële en tegniese steun aan opkomende wyndruifprodusente, bied Vinpro se afdeling ondernemingsontwikkeling ook leiding aan ander wynverwante ondernemings rondom swart ekonomiese bemagtiging (SEB).
“Nadat ʼn gevestigde onderneming evalueer en ʼn behoeftebepaling gedoen is, ontwikkel ons saam ʼn praktiese strategie en aksieplanne om jou besigheid te help om aan basiese SEB-vereistes te voldoen. Ons help ook ondernemings om hul telkaarte en aksies optimaal toe te pas,” sê Phil.
Vinpro evalueer en bied ook bystand met die vestiging en langtermyn volhoubaarheid van nuwe grondhervormingsprojekte en help bekom befondsing vir nuwe en bestaande bemagtigingsprojekte. Die organisasie verbind dit ook tot gesonde, veilige en welvarende wynbedryfgemeenskappe deur betrokkenheid by etiese handels-, opleidings- en navorsingsinisiatiewe en -befondsing.
Vir meer inligting kontak:
Phil Bowes
Tel: 021 276 0429
E-pos: phil@vinpro.co.za