News

Die wynbedryf beskou sy glas as half vol. (Foto: AA Badenhorst Wines.)

Suid-Afrika se wyn- en brandewynbedryf is op ʼn volhoubare groeipad, met ʼn aangepaste strategie en hernude fokus.

“Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf is steeds op die herstelpad en besig om te herbou ná twee jaar van ernstige ontwrigtings weens binnelandse verkoopsbeperkings en wêreldwye handelsversperrings,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.

“Ons staan nog altyd voor talle uitdagings wat ons deurlopend aanspreek, maar bly positief en bou voort op mylpale langs die pad.”

Die bedryf het sy strategiese plan (WISE) na 2025 hersien met ʼn spesifieke fokus op globale en plaaslike marktoegang, transformasie en volhoubaarheid. “Die raamwerk en relevante prestasie-aanwysers vorm ook deel van die Meesterplan vir Landbou- en Landbouverwerking (AAMP) wat onlangs onderteken is, en indien dit geïmplementeer word, ʼn meer bevorderlike produksie- en handelsomgewing vir wyn binne die breër landbousektor kan verseker,” sê Rico.

Winste onder druk

Rico Basson, Vinpro.

Wynprodusente se winsgewendheid is steeds onder wesenlike druk weens ʼn skerp styging in insetkoste terwyl wynpryse en verbruikersbesteding laag bly.

“Druiweprodusente se insetkoste het oor die afgelope dekade gemiddeld met 7% per jaar gestyg, terwyl ʼn 14%-verhoging in 2022 op plaasvlak verwag word vanweë die wêreldwye eksponensiële styging in energie-, chemiese en kunsmispryse,” sê Rico.

Versending- en verpakkingskoste het ook die hoogte ingeskiet weens plaaslike en wêreldwye infrastruktuur- en verskepingsbeperkings, waaroor die bedryf voortdurend met die relevante hawe- en regeringsowerhede in gesprek is.

Alhoewel globale en plaaslike verkoopsvolumes tot voor Covid-vlakke herstel het, het die bedryf steeds ʼn surplusvoorraad van ongeveer 200 miljoen liter. Daar word dus verwag dat gemiddelde prysstygings vir druiwe en wyn onder die verbruikersprysindeks van 5% sal bly.

“Die bedryf deel ook produk aan die nie-alkoholiese segment toe in ʼn poging om die surplus te verminder, voer meer wyn uit vir alternatiewe gebruike (insluitend skemerkelkies, asyn en kos) en wag op goedkeuring van die reguleerder om wyndruiwe as basis vir siders te gebruik,” sê Yvette van der Merwe, uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels (SAWIS). “Hoewel die 2022-oes kleiner is en ons hoopvol bly dat verbruik optel, voorsien ons dat pryse eers teen 2024 sal begin stabiliseer.”

Yvette van der Merwe, SAWIS.

“Finansiële druk kan broodnodige herinvestering belemmer, soos gesien in die afname in wingerdhernuwings, maar ons sien ook hoe vooruitdenkende maatskappye die uitdagings oorkom deur konsolidasie, nuwe kapitaalbesteding en direkte buitelandse belegging,” sê Rico.

“Daar is ʼn geleentheid vir die bedryf om die kultivarsamestelling reg te kry deur die regte wingerde in die regte areas te plant. Handelsmerke met weldeurdagte sakemodelle, insluitend verspreiding en marktoegang, is ook geneig om beter as hul eweknieë te vaar.”

Kleiner, uitsonderlike wynoes

Die bedryf is opgewonde oor uitsonderlike gehalte wyne van ʼn kleiner 2022-wyndruifoes. Volgens die jaarlikse SA Wynoesverslag word die 2022 wyndruifoes op 1 378 737 ton geraam, 5.5% kleiner as in 2021.

“ʼn Koel seisoen en matige weerstoestande in die meeste streke gedurende parstyd het rypwording vertraag, wat wingerde die geleentheid gebied het om uitnemende geur en kleur in vanjaar se wyndruifoes te ontwikkel,” sê Conrad Schutte, Vinpro-konsultasiediensbestuurder.

“Ons het reeds van die eerste witwynvrystellings geproe, wat uitstekende gehalte toon en waarskynlik die premiumisering van die kategorie sal aanhelp,” sê Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WoSA). “Daar is veral ʼn sterk belangstelling wêreldwyd in Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc, Chardonnay en rooi versnitte.”

Uitvoerhoogtepunte

Conrad Schutte, Vinpro.

“Uitvoerherstel en -groei is positief, veral in fokusmarkte soos die VSA, Kanada, Afrika en China, nieteenstaande ernstige ontwrigtings by die Kaapstadse haweterminaal en wêreldwye verskepingsbeperkings,” sê Siobhan.

Suid-Afrika se totale wynuitvoervolume het in 2021 met 22% gegroei tot 388 miljoen liter, en die waarde van hierdie uitvoere het met 12% tot R10.2 miljard gestyg. Die VK is steeds Suid-Afrika se grootste uitvoermark en het volgehoue groei in beide volume en waarde getoon. Die res van die top vyf uitvoerlande volgens totale volume is Duitsland, die VSA, Kanada en Afrika, terwyl uitvoere na China eksponensieel gegroei het.

“Hoewel Chinese handel op die oomblik stilstaan weens die onlangse Covid-19-uitbraak, skep Australië se terugslag in hierdie mark ʼn geleentheid vir Suid-Afrika om sy markaandeel te vergroot deur in geteikende bemarkingsveldtogte te belê en sterk handelsmerke te bou,” sê Siobhan.

Dit is steeds onduidelik tot watter mate die oorlog in die Oekraïne en voortgesette verskepingsbeperkings ʼn ernstige uitwerking op uitvoertye, beskikbaarheid van droë goedere en kosteverhogings sal hê.

Wyntoerisme herstel

Siobhan Thompson, WoSA.

“Ons is ook dankbaar dat wyntoerisme – ʼn onontbeerlike sektor vir ons bedryf in terme van werkskepping, verdiening van inkomste en die bou van Handelsmerk Suid-Afrika in die buiteland – bestendige groei toon,” sê Siobhan.

In 2019 het wyntoerisme, wat 15% van wynkelders se totale omset uitmaak, R7.2 miljard tot die land se BBP bygedra. Nadat dit in 2020 tot R2.7 miljard gedaal het, het wyntoerisme in 2021 altesaam R4.1 miljard tot BBP bygedra en sal na verwagting teen die einde van vanjaar R5.7 miljard bereik. “Ons herstel treetjie-vir-treetjie na ʼn algehele verlies van die internasionale toerismemark tydens Covid-19, wat ʼn derde van ons besoekers en inkomste uitmaak,” sê Marisah Nieuwoudt, Vinpro-wyntoerismebestuurder.

“Hoewel internasionale besoekersyfers laag bly, veral vir reise in die week, is daar ʼn positiewe energie onder wyntoerismebestemmings. Ons sien nuwe aanstellings, produkbekendstellings en samekomste, terwyl ons kragte snoer om Suid-Afrika te posisioneer as die wêreldleier wat ons is,” sê Marisah.

Wynkelders fokus nou daarop om gehalte aan besoekers die bied, hul mededingendheid te behou en om die vaardighede op te skerp van die bykans 36 000 mense wat van die sektor afhanklik is vir direkte, indirekte of afgeleide indiensname. Dit sluit ʼn Vinpro Wyntoerisme-hulpmiddel vir besighede, ʼn leer- en ontwikkelingstrategie met befondste opleiding, ʼn besoekersopname wat deurslaggewende markintelligensie sal genereer, asook ʼn bemarkingsvideo vir Suid-Afrika se wynbestemmings in.

Groei inklusief

Marisah Nieuwoudt, Vinpro.

Een opwindende inisiatief wat nie net wyntoerisme bevorder nie, maar deel is van ʼn groter strategie om die Suid-Afrikaanse wynbedryf inklusief te laat groei, is The Wine Arc. “Die bekendstelling van hierdie Stellenbosch-gebaseerde handelsmerkhuis- en wyntoerisme-aantreklikheid aan die einde van verlede jaar het die begin van ʼn nuwe groeipad vir handelsmerke in swart besit beteken,” sê Wendy Petersen, uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Wynbedryf Transformasie-eenheid (SAWITU).

Hierdie geïntegreerde bemagtigingsprojek tussen SAWITU, die Landbounavorsingsraad (LNR) en die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WCDoA) het ten doel om transformasie te bespoedig deur wynhandelsmerkeienaars in swart besit ʼn sterk besigheidsplatform, groter toegang tot markte en e-handelfasiliteite te bied, asook die geleentheid om met verbruikers in ʼn mooi leefstylomgewing te skakel deur middel van wynproeë, samekomste en konferensies.

“The Wine Arc vorm deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se groter transformasiestrategie, wat daarop gemik is om wynhandelsmerke en ander besighede in swart besit, sowel as swart wynboere, plaaswerkers en hul gemeenskappe te bemagtig en op te hef,” sê Wendy.

Die strategie se prioriteite sluit in billike toegang tot grond, infrastruktuur, kelders met pakhuisfasiliteite en vervaardigingsbates, asook tot gedienste grond met waterregte. Dit fokus op die benutting van spesifieke marktoegangsgeleenthede en ondernemings soos konferensie- en toerismefasiliteite en prioritiseer vaardigheidsontwikkeling, leer en sosio-ekonomiese ontwikkelingsinisiatiewe en -programme. Transformasie in die breër waardeketting sluit ook die ontwikkeling van beleide rondom voorkeurverkryging in.

Wendy Petersen, SAWITU.

“Ons het alle belangegroepe in die wynbedryf, die regering, besigheidseenhede en arbeid nodig om hierdie inisiatiewe aktief te dryf en te ondersteun om ʼn meer getransformeerde, inklusiewe en volhoubare Suid-Afrikaanse bedryf te laat groei,” sê Wendy.

Platform vir volhoubaarheid

“Volhoubaarheid is al vir baie dekades ʼn integrale deel van Suid-Afrika se wynbedryf; kom ons vertel die wêreld daarvan,” sê Siobhan.

Suid-Afrika behoort munt te slaan uit ʼn verhoogde verbruikersvraag na volhoubaar geproduseerde wyne deur meer te praat oor sy bestaande wêreldgehalte stelsels soos die Wyn van Oorsprong- en Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW)-skemas, etiese handelsakkreditasies soos Fairtrade en die Wine and Agricultural Ethical Trading Association (WIETA), asook die WWF-SA Conservation Champions-program.

Wynprodusente sal hierdie en verskeie ander volhoubaarheidstories en -inisiatiewe ten toon stel by Suid-Afrika se grootste wynskou, CapeWine, van 5 tot 7 Oktober 2022 in Kaapstad. “Die tema, Sustainability 360, sal fokus op volhoubare praktyke rondom ons plek, mense en die langtermyn-vooruitgang van ons bedryf. Ons nooi die handel en media van regoor die wêreld om ons skouspelagtige wyne te proe en ons wynlande te verken,” sê Siobhan.

Ter voorbereiding van CapeWine het WoSA ʼn omvattende e-boekie, Our Sustainable Wine Journey, saamgestel. Dit is gratis beskikbaar by www.wosa.co.za.

Buffer teen klimaatsverandering

Gerard Martin, Winetech.

ʼn Belangrike deel van Suid-Afrika se volhoubaarheidsreis was om maniere te vind om die effek van klimaatsverandering op die wynbedryf te versag. Alhoewel die 2021/22-seisoen koeler as normaal was en die meeste streke genoeg water gehad het, het die wynbedryf nie vergeet van die ernstige gevolge van ʼn droogte van 2016 tot 2019 nie. Daarom doen die bedryf deurlopend navorsing oor klimaatsverandering en pas produsente daarby aan.

“Ons wil wyndruifprodusente help om druiwe en wyn van hoë gehalte op ʼn volhoubare, winsgewende manier binne die konteks van klimaatsverandering te produseer,” sê Gerard Martin, uitvoerende bestuurder van Winetech, wat verskeie navorsingsprojekte finansier en koördineer met ʼn fokus op besproeiingstrategieë, die wingerdstok se reaksie op waterstres, droogtebestande kultivars en onderstokke, en die bestuur van afvalwater.

“Produsente pas reeds sekere praktyke, soos behoorlike grondvoorbereiding voor plant, toe om sterk wortelstelsels te verseker wat water doeltreffend opneem,” sê Conrad. “Hulle verbou ook dekgewasse om waterverlies ná reën of deur verdamping te voorkom en monitor die grond- en plantwaterstatus noukeurig om die regte hoeveelheid water tydens die regte intervalle toe te dien.”

Kyk vorentoe

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is opgewonde oor ons nuwe, gefokusde strategie en groeikurwe,” sê Rico. “Ons moet daarop bly voortbou. Inklusiewe besluitneming, oop dialoog en vennootskappe met verskeie belangegroepe in die landbousektor sal verdere geleenthede skep, ons help om uitdagings beter saam aan te spreek en hierdie bedryf laat groei tot die robuuste en florerende bedryf wat ons vir almal wil hê.”

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back