News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is swaar getref deur die Covid-19-pandemie en sal nog ‘n paar jaar neem om ten volle te herstel. Uit die noodsaaklikheid vir die bedryf om te herleef, herstel en herbou het wynondernemings ʼn kopskuif begin maak oor die manier waarop hulle besigheid doen en word bedryfsinisiatiewe wat ten doel het om die bedryf meer lewenskragtig, aanpasbaar, mededingend en volhoubaar te maak, vinniger uitgerol.

Dít was die boodskap by die 16de jaarlikse Nedbank Vinpro Inligtingsdag, wat op 20 Januarie 2022 deur bykans 450 virtuele en ander afgevaardigdes by Allée Bleue Landgoed, Franschhoek, bygewoon is. Die geleentheid is vir die 15de jaar deur Nedbank Besigheidsbanksake geborg, met ‘n finansiële bydrae deur Old Mutual.

Die landskap

“Die wynbedryf staar steeds harde realiteite in die gesig, terwyl ondernemings herstel van die nagevolge van Covid-19,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. Glastekorte, uitvoer- en invoer-uitdagings by die Kaapstadse hawe, die kontras tussen ‘n styging van 15% in plaaskoste-inflasie en ‘n 3 tot 5% wynprysstyging, sowel as ‘n groeiende onwettige mark is van die kwessies wat ‘n wesenlike effek op die hele wynwaardeketting het.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie het nie deur die hele pandemie merkbaar swakker gevaar as ander ontluikende markte nie, met aktiwiteit wat in 2020 ineengestort het, voordat dit in 2021 herstel het,” sê Nicky Weimar, hoofekonoom van die Nedbank Groep. Die ekonomie bly egter onder sy pre-pandemievlakke. Verbruikers het meer spaarsamig geword as voor die pandemie, en spaar in der waarheid meer terwyl hulle lenings in toom hou. Daar word verwag dat ekonomiese groei vanjaar en volgende jaar onderskeidelik rondom 1.7% en 1.8% sal bly, wat na ‘n sagter 1% in 2024 neig. “Ons is steeds vasgevang in die afswaaifase waarin ons was voor Covid-19 ons getref het.”

Ivor Price (MC), Mpumelelo Mkhabela, Rico Basson en Nicky Weimar.

Beleidsonsekerheid en politieke onstabiliteit binne die regerende party sal na verwagting in 2022 en daarna voortduur, maar dit bied ‘n geleentheid vir verandering. “Hoe ernstiger ‘n krisis is, hoe groter is die kans vir mense om wakker te word en iets daaraan te doen,” sê politieke ontleder Mpumelelo Mkhabela. “Suid-Afrikaners hou toenemend die regering verantwoordelik vir hul tekortkominge, wat positiewe verandering en stabiliteit kan meebring.”

Ondanks die uitdagings het wynondernemings voortgebeur. Die bedryf het dit reggekry om die ongekontrakteerde wynvoorraad van 200 miljoen liter aan die einde van 2020 tot 60 miljoen liter teen einde 2021 te verminder – deels deur wyndruiwe aan druiwesapkonsentraat toe te ken. Dit kan saam met ‘n kleiner wyndruifoes (soos deur SAWIS beraam) afwaartse prysdruk verlig. Wynuitvoervolumes en -waarde het ook in 2021 goeie groei getoon, veral in tradisionele markte soos die VK, tesame met diversifisering na die VSA, China en Afrika.

“Terwyl ons produsente en kelders se veerkragtigheid en uithouvermoë prysenswaardig is, kan ons nie vorentoe beweeg sonder innovasie nie. Die wynbedryf het ’n duidelike groeipad (Wine Industry Strategic Exercise) na 2025 wat, in noue samewerking met relevante staatsdepartemente en ander rolspelers, ’n omgewing vir herstel en groei sal skep,” sê Rico.

Marisah Nieuwoudt.

Skerp wyntoerisme op

“Wyntoerisme is een van die belangrikste dryfvere van die bedryf se strategiese groeiplan, wat daarop gemik is om internasionale besoekers te lok en wyn se plaaslike aanhangersbasis deur alle wynstreke uit te brei om inkomste te groei, werk te skep en personeel se vaardighede op te skerp,” sê Vinpro-wyntoerismebestuurder Marisah Nieuwoudt.

Wynkelders kan hul mededingendheid verbeter deur hulself te meet aan bestaande en toekomstige wyntoerisme-intelligensiesyfers in terme van samestelling, besoekerstatistieke, gemiddelde spandering en meer. ‘n Gratis aanlyn Wyntoerisme Toolkit kan hulle ook help om hul eie kenmerkende ervaring te ontwikkel, en hulpbronne en werkswinkels oor direk-na-verbruiker (DTC) bemarking en verkope verskaf duidelike riglyne oor hoe om met verbruikers en besoekers te skakel. Na ‘n vaardigheidsoudit het ‘n leer- en ontwikkelingstrategie vir wyntoerisme aan die einde van 2021 afgeskop om wyntoerismebestemmings te help om die vaardighede van hul mense op te skerp.

Hou dié verbruikerstendense dop

Lulie Halstead.

Net soos in Suid-Afrika, het wêreldwye wynverkoopsvolumes begin herstel, maar nog nie tot pre-pandemiese vlakke nie. Die wynkategorie kan egter goeie insig verkry deur te kyk na die verbruikerstendense wat verband hou met sterk groei in die verkope van geriefsdrankies (RTD’s). “Kyk veral na die porsiegrootte, styl, verpakking en die feit dat RTD’s gewoonlik verkoel, gekarboneer en meestal versnitte is,” sê Wine Intelligence se uitvoerende hoof, Lulie Halstead.

Die gereelde wynverbruikbevolking neem af, maar verbruikers het ʼn groter belangstelling in wyn, is meer premie-georiënteerd en daar is ʼn toename in tuisdrinkgeleenthede. “Verbruikers stel toenemend belang in plaaslike en volhoubare produkte, skep daarom vertroue en sorg dat jou storie ʼn persoonlike verbintenis het terwyl jy ook beklemtoon dat wyn ’n natuurlike produk is,” sê Lulie.

Die milleniërs en Gen-Z-verbruikers is voorlopers van die drink-in-matigheid-neiging. Alkoholvrye een- en lae-alkoholwyne is dus hier om te bly. Daar word voorspel dat e-handelskanale sal groei en ontwikkel, met aanlyn afleweringstoeps wat meer gewild word en ‘n doeltreffende hulpmiddel bied om handelsmerkbewustheid te bou.

Produseer vir ‘n volhoubare toekoms

Conrad Schutte.

Wyndruifproduksie is ‘n langtermynbelegging wat vir geslagte vorentoe bewaar moet word. Vinpro-konsultasiediensbestuurder, Conrad Schutte, het slim produksieneigings vir ‘n volhoubare toekoms gedeel.

“Plant die regte kultivars vir jou wyndoel op die regte persele, terwyl jy droogtebestande onderstokke, kultivars en klone in ag neem. Gebruik water meer doeltreffend deur moniteringstelsels te implementeer wat deurlopend meet of, wanneer en hoeveel jy moet besproei,” sê Conrad.

Voortgesette beperkings op die gebruik van sekere onkruiddoders en swamdoders het produsente genoodsaak om na regenererende en biologiese beheermaatreëls te kyk. Slim wyndruifprodusente belê ook in hul mense deur opleiding soos Vinpro se jaarlikse wingerdwerkersessies en ’n opwindende aanlyn leerplatform wat in die volgende paar maande bekend gestel sal word.

Wees inklusief en volhoubaar

“Die wynbedryf het alles wat nodig is om volhoubaarheid te dryf, maar het ‘n verenigde raamwerk nodig om dit vorentoe te dryf,” sê Bridgitte Backman, visepresident van Kommunikasie en Openbare Beleid en Regeringsake (PPGA) by PepsiCo.

Sy het voorgestel dat die bedryf en ondernemings begin deur ‘n stel van die Verenigde Nasies se Volhoubaarheidsdoelwitte (SDG’s) te kies wat haalbaar is binne hul konteks en suksesverhale daar rondom te bou. “Afgesien van mense, die planeet en wins, moet ons die rede hoekom ons iets doen, oorweeg en hierdie elemente deel van ons DNA maak,” sê Bridgitte.

Ivor Price, Bruce Jack, Ronald Ramabulana en Bridgitte Backman.

Suid-Afrika is ‘n wêreldleier op die gebied van naspeurbaarheid en omgewingsvriendelike praktyke deur sy Wyn van Oorsprong en Geïntegreerde Produksie van Wyn (IPW)-skemas. “Ons moet meer oor hierdie en ons ander sterkpunte praat om verbruikerspersepsies oor volhoubaarheid te verander,” sê Bruce Jack, eienaar van Bruce Jack Wines.

John Hudson.

Een van die onverwagte positiewe aspekte van Covid-19 was die ontsluiting van ‘n dialoog tussen die bedryf, regering, arbeid en die burgerlike samelewing. Dit kan help om steun te bekom vir inisiatiewe wat daarop gemik is om inklusiewe en volhoubare groei te versnel. “Ondernemingsontwikkeling sal ‘n kernfokusarea in 2022 wees, terwyl leer- en ontwikkelingsinisiatiewe sal verseker dat ons nie net die regte talent lok nie, maar ook verseker dat mense oor die regte vaardighede beskik wat ons nodig het,” sê Ronald Ramabulana, voorsitter van die SA Wynbedryftransformasie-eenheid. “Ek sou ook graag wou sien dat alle Suid-Afrikaanse wyne van plase kom wat sosiaal verantwoordelik is.”

Saam sal ons volhard

John Hudson, nasionale hoof van landbou by Nedbank sê, “As borg van die Nedbank Vinpro-inligtingsdag vir die 15de agtereenvolgende jaar, is Nedbank se verbintenis tot en vertroue in die wynbedryf duidelik. As een van die belangrikste bedrywe in die Wes- en Noord-Kaap, dra die Suid-Afrikaanse wynbedryf ‘n aansienlike R55 miljard by tot die plaaslike ekonomie en het bykans 269 000 mense in diens. Alhoewel die wynbedryf swaar getref is deur die inperkings, is die tekens van herstel daar. Vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf om te oorleef en te floreer, moet dit egter beweeg na ‘n premie-posisionering in die globale mark, fokus op inklusiewe groei en streef na omgewings- en finansiële volhoubaarheid. Saam met Vinpro werk Nedbank hard daaraan om ons wynprodusente – wat ons as veerkragtig, vindingryk en innoverend beskou – na hierdie doelwitte te lei.

Anton Smuts.

“Ek glo dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf weer sal opstaan om sy volle potensiaal te bereik en te herbou om sterker, meer volhoubaar, lewenskragtig en mededingend te wees,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts. “Ons moet egter introspeksie doen oor die keuse van sakemodelle en uitdagings in geleenthede omskep. Ons moet vasberade wees in ons uitkyk, ons gedagtes herfokus en meer innoverend wees om aan te pas by die veranderinge wat elke dag rondom ons plaasvind. Saam sal ons herleef, herstel en herbou na ’n beter 2022 en daarna.”

Uitgereik deur Vinpro.

MEDIANAVRAE
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back